“Onze Jan” Hofmeyr word politikus

Engeland annekseer Transvaal
May 2, 2015
Die Patriot steun die Transvalers
May 5, 2015

Die Britte het geweier om die anneksasie van Transvaal ongedaan te maak, omdat die republiek te swak sou wees teen Cetswayo se Zoeloes. Ironies genoeg het die Zoeloes die Britse mag op 22 Januarie 1879 by Isandlwana uitgewis!

Die Transvalers se besluit om Kruger en Joubert na Engeland te stuur, getuig van ’n vasbeslotenheid wat in 1877 ontbreek het. Met Kruger en Joubert se terugkeer einde 1878 was dit vir hulle duidelik dat die politieke klimaat verander het – nie soseer in Transvaal en die Vrystaat nie, maar in die Kaapkolonie – die staat met die meeste Afrikaners.

Die Kaapse Afrikaners het die gebeurtenisse in Transvaal met groot belangstelling gevolg, en hul simpatie met die Transvalers het hul ontevredenheid oor sake in hul eie land versterk. Een oorsaak was die opkoms van die groot imperiale banke, soos die Standard Bank, met hul hoofkantore in Londen. Hierdie banke het die distriks- en streeksbanke, wat dikwels met Afrikaners se kapitaal opgerig is, laat bankrot raak. Nog ’n oorsaak van ontevredenheid was ’n aksynsbelasting op wyn wat in 1878 ingestel is. Die wynboere het gevrees dat dit hulle swaar sou tref en het besluit om ’n verenigde front te vorm. Jan Hendrik Hofmeyr het as politieke leier na vore begin kom.

Vir die Kaapse Afrikaners was die opkoms van ’n nuwe leier ’n belangrike ontwikkeling. Van die 1830er- tot die 1850erjare was Christoffel Brand hul erkende leier. Hy was ’n kampvegter vir Hollands, en hoewel anti-Trek, soms raadgewer vir die Voortrekkers. Sy verkiesing in 1854 tot speaker het ’n einde aan sy politieke loopbaan gebring. Twintig jaar lank was die Kapenaars leierloos, wat bygedra het tot hul politieke apatie.

Hofmeyr was eers redakteur van De Volksvriend, wat die ortodokse standpunt in die kerkstryd gestel het. Teen 1869 was dié koerant goed gevestig en die persoonlikheid “Jan Volksvriend” welbekend. De Zuid-Afrikaan is in 1871 oorgeneem deur De Volksvriend. Die nuwe blad was De Zuid-Afrikaan verenigd met de Volksvriend, maar is De Zuid-Afrikaan genoem.

Hofmeyr was nie ten gunste van Afrikaans nie, maar het in sy koerant ’n kampvegter geword vir ’n kultuurtrots by Kaapse Afrikaners en die behoud van Hollands in die kerk en skool. Ten dele was dit ’n reaksie op die GRA se publikasies en sy strewe na die erkenning van Afrikaans. Onder die naam “Hollandsche Afrikaner” bepleit hy in Augustus 1877 in De Zuid-Afrikaan ’n vereniging wat Hollands moes bevorder, onder meer deur ’n tydskrif. In 1878 het hy met Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift begin om by Afrikaners belangstelling in die taal te wek. Hy het redakteur gebly tot 1891; in 1893 is die blad gestaak.

In die 1870erjare het Hofmeyr met sy politieke loopbaan begin. Toe JG Sprigg, leier van ’n kabinet van hoofsaaklik Oos-Kaaplanders, ’n aksynsbelasting op spiritualieë hef, het Hofmeyr die Afrikanerboere oorreed om soos hul Engelssprekende kollegas ’n vereniging te stig waarmee hulle die dit kon beveg en hul algemene belange kon bevorder. Die Zuid-Afrikaansche Boeren Beschermings Vereniging is in 1878 gestig om te waak oor die belange van die boere.

’n Groot nasionalis was Hofmeyr nooit, maar hy was volksbewus genoeg om die Transvalers aan te spoor tot lydelike verset as ’n manier waarop hulle hul Britse heersers kon uitput.