’n Transvaalse Voortrekker lê sy plaas aan
April 10, 2017
Die De Wildt-toespraak van genl. JBM Hertzog
April 11, 2017

(Geskryf deur P van Zyl, soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1966)

Die Voortrekkers wat Piet Retief as leier erken en gevolg het om die grondgebied wat van die Zoeloekoning Dingaan verkry is in besit te neem, was baie begerig om hulle nuwe tuisland te bewoon en te bewerk. Hulle moes egter later baie smart, verdriet en twyfel verduur na die moord op Retief en sy manskappe en die grusame moorde by Bloukrans, Moordspruit en Weenen. Na hierdie moorde moes hulle verbete aanvalle op die laers afweer en vir tien maande lank dag en nag in die grootste angs verkeer. Piet Uys en Hendrik Potgieter het uit Transvaal gekom om die vyand te straf. Na die dood van Uys en sy seun Dirkie by Italeni is Potgieter en sy manne terug na Transvaal, sonder dat die vyand gestraf is. Met die koms van Andries Pretorius teen die einde van daardie jaar is ’n strafekspedisie beplan. Meer as 400 uitgesoekte manne het met waens vertrek en op 9 Desember 1838 ’n gelofte by Danskraal afgelê. Die slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 was ’n wonderlike oorwinning, maar daar is nog harder hierna geveg om Dingaan se mag vir goed te breek. Die vlugtende Dingaan is later vermoor. Panda wat met sy volgelinge die Trekkers gehelp het, is later as die wettige Zoeloeopperhoof erken. Die Trekkers sowel as die Zoeloes het toe, volgens ooreenkoms, elk hul eie afgebakende gebied bewoon. Daardie grondgebied wat deur die blankes bewoon was, is met bloed en menselewens gekoop en was ook wettiglik hulle eiendom volgens die Retief-Dingaan-traktaat.

In 1839 is die dorp Pietermaritzburg aangelê. Dit is ter ere van Piet Retief en Gerrit Maritz so genoem. Ouma Retief het dadelik ’n bakkery geopen, terwyl Gert Rudolph ’n slagtery begin het en ’n paar Duitsers winkels geopen het. ’n Sekere dr. Poort het ’n wakende oog oor die gesondheid van die bevolking gehou. Pietermaritzburg was ook die regeringsetel. Die plase is sorgvuldig en taamlik akkuraat te perd en volgens oorlosie “afgery”, aangesien daar nog nie landmeters was nie. Die Geloftekerkie is later in Pietermaritzburg voltooi en die toekoms met hoop en groot verwagting tegemoet gesien.

Dit is die Voortrekkers nie lank gegun om rustig in hulle nuwe staat te woon nie. Goewerneur George Napier aan die Kaap het opdrag uit Engeland ontvang om Natal by die Kaapkolonie in te lyf. In 1842 is kaptein Smith met ’n afdeling troepe na Natal gestuur om dit te annekseer.

Hy het sy kamp in Port Natal (Durban) opgeslaan, terwyl Andries Pretorius die Voortrekkerkamp by Kongella opgerig het. Pretorius se manskappe het daagliks aangegroei. Kaptein Smith het die Voortrekkervlag in Port Natal neergehaal en die Union Jack in die plek daarvan gehys. Daarop het Pretorius beslag gelê op die trekosse van die vyand. Die Engelse was baie onthuts en het met hulle kanonne op die Kongellalaer losgebrand. In dieselfde nag het hulle ’n aanval op die Trekkerlaer gedoen. In die maanlignag het die boere hulle ingewag, 17 soldate gedood, 31 gewond en 2 kanonne ryker geword. Daarna is Smith se kamp van 25 Mei tot 24 Junie (1842) beleër. Hulle moes naderhand hulle perde slag en was verplig om in die loopgrawe te bly. Dick King het egter ontsnap en sy negedaagse rit na Grahamstad het uiteindelik verligting vir sy mense gebring. Kaptein Henry Cloete is na Natal gestuur. Die oormag Engelse soldate en die hewige kanonvuur was te groot en Pretorius het onderhandelinge aangeknoop. Naturelle wat bewus was van die nuwe verwikkelinge, het die blankes se gebied binnegestroom en veediefstal was aan die orde van die dag. Geen beskerming van eiendom is aan die boere verleen nie. Dieselfde toestand wat as rede vir die Groot Trek destyds in Retief se manifes Genoem is, het nou weer geheers. Uiteindelik het twee-derdes van die Voortrekkers die land wat hulle so duur gekoop het, verlaat!

In Februarie 1848 het Sir Harry Smith, wat toe Hoë Kommissaris in Suid-Afrika was, ’n besoek aan Natal gebring. Aan die voet van die Drakensberge het hy op ’n groot geselskap Voortrekkers, wat besig was om Natal te verlaat, afgekom. Smith het later erken dat  hierdie gesig hom diep ontroer het. Tussen 300 en 400 mans, vaders van groot families, het met die spore van ontbering, verdriet en lyding op hul gesigte, terwyl trane vryelik oor hulle wange gerol het, hulle toestand vir hom geskets. Smith was so diep geroer dat hy dadelik beloftes gemaak het om hulle in Natal te hou. Sommiges het weer gebly. Vir Andries Pretorius het hy tot lid van die landraad benoem. Hy het dit egter van die hand gewys en Natal saam met die ander Trekkers verlaat. Hulle sou opnuut weer vryheid soek in die Vrystaat en Transvaal.

In 1852 het Engeland die vryheid van Transvaal erken en in 1854 die vryheid van die Vrystaat.