Ontdekking van diamante

Andrew Murray
April 22, 2015
Diamante verander Suid-Afrika
April 23, 2015

Die Kaapse Afrikaners het tydens en ná die Groot Trek telkens hul simpatie met Afrikaners in die noorde bewys deur hulp te stuur, onder meer in die oorloë tussen die Basotho en die Vrystaat. Daarby het Engeland soms só teen Afrikaners in een deel van die land opgetree dat die Afrikaners elders dit as onreg beskou het. Dit het ’n eenheidsgevoel geskep. Wat dié gevoel in die 1870erjare gesterk het, is die Britse optrede oor die diamantvelde (kyk by 22 April).

Die verhaal van diamante begin in 1867 op die plaas van Daniël Jacobs langs die Oranje, digby Hopetown. Sy seuntjie het op die riviersand dikwels gekleurde klippies opgetel. ’n Pragtige wit klippie wat geskitter het in die son, het sy ma se aandag getrek. Sy het haar buurman Schalk van Niekerk daarvan vertel. Hy wou dit by haar koop, maar sy het gesê hy kan dit maar hou as hy dit so graag wou hê. ’n Handelaar, John O’Reilly, het onderneem om vas te stel wat dit is, maar die Jode op Hopetown en Colesberg het gesê dis niks werd nie. Hy het dit byna weggegooi, maar ’n Colesbergse amptenaar, Lorenzo Boyes, het gemeen dis ’n diamant. “Stuur dit na dr. Atherstone in Grahamstad”, het hy voorgestel. Die klippie is in ’n onverseëlde koevert met die poskar na dr. WG Atherstone, ’n kenner van minerale. Dié het vasgestel dis ’n diamant van 21,25 karaat. Die ontdekking was nog geen sensasie nie, want daar was nie sekerheid of daar diamantvelde in die gebied is nie.

Tien maande daarna is ’n tweede diamant ontdek waar die Vaal in die Oranje loop. Boyes het vergeefs gaan prospekteer. In 1869 tel ’n Griekwa-skaapwagtertjie ’n pragtige diamant van 83,5 karaat op Sandfontein, Hopetown, op en wys dit aan Schalk van Niekerk. Hy was iemand wat so in die skuld was dat ’n handelaar nie eers ’n paar jaart sis vir sy dogters aan hom wou verkoop nie. Van Niekerk het die wagtertjie al sy besittings, vyfhonderd skape, tien osse en ’n perd, aangebied en die diamant vir £11 200 aan sy skuldeiser verkoop. Dis later die Ster van Suid-Afrika genoem.

Hierdie ontdekking het ’n groot opskudding veroorsaak, en fortuinsoekers het na Kimberley-omgewing gestroom. Binne ’n jaar of wat was daar sowat 10 000 delwers. Soms was die lewe vir hulle vol teenspoed, soms het die geluk iemand getref. ’n Delwer, Frans Roos, het een nag groot geskrik toe ’n Koranna by sy tentdeur inloer. Dié het ’n diamant aangebied vir ’n wa en osse, nog twintig osse, honderd skape en dertig goue ponde. Roos het dit gegee – en die steen vir £10 000 verkoop.

Fortuine is gemaak ten koste van eenvoudige mense wat geen begrip van die waarde van hul besittings gehad het nie. Die grootste winskoop was die plaas Vooruitzicht. Die broers JN en DA de Beer het dit in 1863 vir £50 gekoop en in Oktober 1871 vir £6000 verkoop aan iemand wat namens ’n paar Port Elizabethse maatskappye opgetree het. Tot 1939 is diamante van £900 miljoen daar uitgehaal! Die naam van die broers is verewig in die naam van die wêreld se grootste diamantmaatskappy De Beers.