Kort geskiedenis van die Krugerwildtuin
April 14, 2017
Nog ’n gedenkteken
April 14, 2017

(Geskryf deur JJ van Tonder, soos verskyn in Historia Junior, Augustus 1961)

Spoorweë is ’n belangrike diens in elke land. Waar daar ’n spoorlyn gebou word, daar ontwikkel die land en kom daar lewe en voorspoed. Die spoorweë is soos die bloedare in die liggaam van ’n mens. Waar voldoende bloed vloei, daar is die liggaam gesond en kan dit groei.

Die eerste tekens van belangstelling in spoorweë in Suid-Afrika vind ons in ’n koerant in 1838. In daardie tyd het daar ’n bestuur bestaan wat aandag aan spoorweë gegee het. Die destydse Prokureur-generaal van Kaapland, mnr. William-Porter, is genader om regsadvies te gee in verband met die plan om ’n spoorweg te bou. Hy het egter geweier om saam te werk, omdat hy nie vertroue in so ’n taak gehad het nie.

In die vyftigerjare van die vorige eeu is die eerste spoorlyn in Durban voltooi. Dit is gebou op die terrein wat vandag die Bluff genoem word. Die spoorwaens is egter nie met stoomkrag beweeg nie, maar is deur osse getrek.

In 1860 het die eerste stoomtrein uit Durban na die Point geloop. Dit is dan ook die geboortejaar van die spoorweë in Suid-Afrika. Op die eerste dag wat die spoorweg oopgestel is, het 800 mense met die trein na die Point gery.

In dieselfde jaar is die bou van ’n spoorlyn vanaf Kaapstad na Wellington aangepak. Dit was ’n groot en moeilike taak, want daar was nog nie goeie werkmateriaal nie. Hierdie spoorlyn is in November 1863 voltooi.

Die bou van spoorlyne in die Suid-Afrikaanse Republiek en in die republiek van die Oranje-Vrystaat het lank gesloer. Verskeie redes was vir die toestand verantwoordelik. Sommige burgers van die land was gekant teen spoorweë, omdat hulle verdienste as transportryers daardeur belemmer sou word.

President Burgers van die Overvaal, het die waarde van ’n spoorweg besef. Hy wou ’n spoorlyn tussen Pretoria en Lourenço Marques laat bou. Dit sou die onafhanklikheid van die Republiek ook bevorder. Daar was egter nie geld vir die groot werk nie. Hy het hulp in Europa gaan soek en ’n lening van £93,000 (R186,000) ontvang. Meer as driemaal die bedrag was egter nodig. Die geld wat hy geleen het, het hy gebruik om ’n groot hoeveelheid materiaal vir die bou van die spoorweg aan te koop. Hierdie materiaal is egter nooit gebruik nie en dit het gelê en verroes.

Die ontdekking van goud en die ontwikkeling van die Goudstad omstreeks 1886, het die verbetering van vervoer uiters noodsaaklik gemaak.

In 1887 is die Nederlandse Suid-Afrikaanse spoorweg Maatskappy gestig. Die doel was hoofsaaklik om ’n spoorlyn na die Portugese hawe, Lourenço Marques, te bou. President Kruger het in hierdie spoorlyn baie belang gestel. Dit sou die Republiek in staat stel om sonder die hulp van die spoorweë van Natal en die Kaapprovinsie klaar te kom. Daar was egter groot moeilikhede aan die bou van hierdie spoorweg verbonde. Koorssiekte het die werkers in hulle honderdtalle laat sterf. Hierdie spoorlyn is derhalwe in 1894 eers voltooi.

’n Spoorweg is in 1890 vanaf Johannesburg na Boksburg voltooi. Dit het noodsaaklik geword nadat steenkool daar ontdek is. Hierdie sestien myl spoorlyn is later na Springs en Krugersdorp verleng.

Die vinnige uitbreiding van die Goudstad en die hele Witwatersrand het dit dringend noodsaaklik gemaak dat die vervoer na hierdie gebied verbeter sou word.

Die spoorlyn vanaf die Kaapse hawe het Bloemfontein in 1890 bereik en, twee jaar later (1892) het die eerste trein uit Kaapland die Johannesburgse stasie binnegestoom.

Die Durbanse trein het die Johannesburgse stasie in 1898 bereik.

Die ontdekking van diamante het die dorp Kimberley laat ontstaan. Dit het vinnig gegroei, sodat die spoorlyn in 1885 daar aangekom het.

Die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika het ook eenheid vir die spoorweë gebring. Dit kon sedert 1910 met verenigde kragte ontwikkel. In 1916 is daar ’n Minister van Spoorweg aangestel en ’n uniale Spoorwegraad is ook in die lewe geroep.

In 1934 is die vervoer in ons land nog verder uitgebrei, toe die Suid-Afrikaanse Lugdiens ingestel is.

In 1910 was daar 7½ duisend myl spoorlyne in ons land. In 1960 het dit aangegroei tor 13½ duisend myl met nog 30,000 padvervoerdienste.

Die spoorweë het baie bygedra om Suid-Afrika ’n sterk en welvarende land te maak. Duisende mense verdien hulle brood elke dag in diens van die spoorweë.