Die Voortrekkermonument
April 11, 2017
Staatspresident CR Swart
April 14, 2017

Geselsie met die jeug

(Geskryf deur CR Swart, soos verskyn in Historia Junior, Mei-Augustus 1971)

31 Mei 1961 is, naas 6 April 1652, die grootste en mees betekenisvolle datum in ons eie geskiedenis. Vir die eerste keer na die begin van die volksplanting aan die Suidpunt van Afrika is tien jaar gelede na 309 jaar op daardie datum ’n verenigde land van die Kaap tot by die Limpopo onder eie onafhanklike regering en eie selfstandige Staatshoof, ’n President, tot stand gekom.

Hoe onthou mens nou maklik die jaartal van ons republiekwording? Gedurende my ampstyd as eerste Staatspresident het ek altyd aan skoolkinders gesê om 1961 neer te skrywe en dit dan onderstebo te draai; dit bly dan nog maar 1961. Die merkwaardige daarvan is dan ook dat dit die enigste jaartal in hierdie twintigste eeu is wat so is en dit sal eers weer met die jaar 6009 so gemaak kan word. Dit is ook interessant dat in die vorige eeu daar ook net een só ’n datum was naamlik 1881, en dit was die jaar waarin die Transvaalse Republiek na die slag van Majuba weer ’n onafhanklike Republiek geword het. So kan ons groot jaar 1961 onthou word.

Die datum 31 Mei is ook ’n baie betekenisvolle datum in ons geskiedenis. Op die datum in 1902 het die twee eertydse Republieke van Transvaal en die Oranje-Vrystaat ten einde gekom met die Vrede van Vereeniging nadat Groot-Brittanje die twee Boererepublieke met oorlog gewelddadig ingeneem het.

In 1910 het egter op daardie datum die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom waardeur ons toe weer ’n eie Regering gekry het maar nog onder die Koning van Engeland as staatshoof met  allerlei beperkings.

Dit was toe voorwaar ’n grootse geleentheid toe ons, na 59 jaar ’n eie staatshoof uit ons eie midde in die persoon van die staatspresident kon kies en inhuldig. Die wonderlike voorreg het my te beurt geval om daardie amp te beklee.

Hoe het dit vanaf 1961 van die vorige toestand verskil? Eers moet daarop gewys word dat, al het ons sedert 1910 ’n eie landsregering gehad, daar nog ’n aantal beperkings en verbintenisse op ons vryheid en selfstandigheid was wat inbreuk gemaak het op ons eie nasionale waardigheid en onafhanklikheid.

Die vernaamste hiervan was dat die werklike staatsregtelike staatshoof ses duisend myl van ons land oorkant in Engeland was, ’n koning of koningin wat oor ons ’n Goewerneur-generaal aangestel het om die Britse Kroon hier te verteenwoordig. Eers was dit altyd ’n Britse Prins of Lord, totdat daar vanaf 1935 iemand uit Suid-Afrika aangestel is.

Die aangestelde persoon moes egter eers oor na Engeland gaan om die Koning of Koningin te ontmoet en sy formele aanstelling te kry. Interessantheidshalwe kan ek hier vertel dat, toe ek Goewerneur-generaal was, het boodskappe van Haar Majesteit net gelui: “To C. R. Swart …” en dan die boodskap. Na ek Staatspresident geword het, was die aanspreekvorm: “My good friend…” gevolg deur hoflike goeie wense.

Verder was daar die knellende vereiste dat almal wat, weens hul amp, ’n eed van getrouheid moes aflê – soos Ministers, Regters, Parlementslede, advokate en talle ander – nie aan Suid-Afrika nie maar wel trou aan “Haar Majesteit Koningin Elizabeth II, haar erfgename en Troonopvolgers” moes sweer. Alle Suid-Afrikaanse burgers was ook daardie trou verskuldig.

In ons Republiek word nou “trou aan die Republiek van Suid-Afrika” betuig.

Die Grondwet van die eertydse Unie van Suid-Afrika (1910-61) was altyd nog ’n Wet van die Britse Parlement. Daarin het ’n aantal beperkings op ons eie onafhanklikheid verskyn. Daar was, byvoorbeeld, die bepaling inbegrepe dat geen Wet van ons Unie-parlement geldig sou wees nie as dit bots met ’n wet van die Britse Parlement in Londen. Hierdie stremmende bepaling is egter 1935 afgeskaf.

Daar was verder voorsiening dat beslissings van ons hoogste hof, die Appèlhof, betwis kan word voor die sogenaamde Geheime Raad in Londen, wat eintlik ’n politieke liggaam was. Dit was ’n skadelike en vernederende beperking op ons eie geregshowe wat die beste in staat was om ons eie wet toe te pas, instede van mense in Londen wat nie die kennis van ons regstelsel en wette besit nie. Hierdie reg van hoër beroep is eers in 1949 afgeskaf; dit was my voorreg as Minister van Justisie om dit deur wetgewing te kan doen en daarmee is die bekommernis in die pad van republiekwording verwyder.

Onder die koningskap was daar by ons altyd groot verskil van mening of ons land neutraal kan bly as Engeland in oorlog is, en ook dat ons nie reg besit om van die Britse Kroon af te skei nie. Die standpunt dat as Brittanje oorlog verklaar ons dan ook outomaties in oorlog moet wees, het ons in twee wêreldoorloë ingetrek.

Met die koms van die Republiek het daar ’n volslae einde aan daardie standpunte gekom. Toe die stemgerigte burgers en burgeresse op 5 Oktober 1960, by ’n volkstemming met ’n meerderheid van oor die 75 800 ten gunste van ’n Republiek stem, het ons net eenvoudig van die Britse Kroon geskei.

My gewaarwording op daardie wonderdag van 31 Mei 1961, toe ek as die eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika ingehuldig is, val nie in woorde te beskryf nie.

In my gemoed was daar die alles oorheersende besef van die verwesenliking van ’n groot en grootse ideaal van ons volk oor geslagte heen ‘’n ideaal waarvoor ons gestry en gely is, groot opofferings gemaak is, trane gestort is, bloed gevloei het en kosbare lewens ingeboet is. Daardie ideaal het ondanks al hierdie gebeurtenisse, ondanks verdrukking, wanvoorstellings, geweld en subtiele ondermyning steeds vurig gebrand in die harte van ons mense en altyd sterker geword.

Daarby het by my op daardie dag die groot openbaring gekom dat ideale wel bereik kan word. Daardeur het ons ondervind dat die mense verkeerd is wat beweer dat ideale net skimme is, lugkastele wat nooit bereik kan word nie, reënboogpunte wat nooit ingehaal kan word nie. Opregte, reine en goeie ideale van ’n mens en van ’n volk kan wel bereik word as mens bereid is om ons vergesigte te sien, daarin te glo, daarna te strewe en daarvoor opofferings te maak.

By hierdie tiende verjaardag van ons Republiek, herhaal ek my wekroep op daardie groot dag toe dit gebore is:

Hoede af vir die Verlede

– vir die Toekoms baadjies uit!

Laat ons jeug maar aanhou

om vir ons land en ons volk

drome te droom en vergesigte te sien.