Die geskiedenis van die Nasionale Krugerwildtuin
April 15, 2017
Laerskool Republiek – Republiekfees 1961
April 15, 2017

(Geskryf deur PW Botha, Minister van Verdediging, soos verskyn in Historia Junior, Mei-Augustus 1971)

Toe ek die verdedigingsportefeulje van my geëerde voorganger, die huidige Staatspresident, oorgeneem het, was ek reeds bewus dat daar in 1960, as gevolg van die onbestendige wêreldpolitieke situasie en in die lig van oplaaiende dreigemente van buite, ’n militêre waardering gemaak was van die moontlike bedreiging van Suid-Afrika se vreedsame bestaan en veiligheid.

Die Suid-Afrikaanse Weermag is gevolglik stap vir stap en planmatig uitgebou om sy slaggereedheid so doeltreffend moontlik te maak om enige aggressie na die beste van sy vermoë te bekamp. Die vervang van groot hoeveelhede verslete en verouderde uitrusting, gepaard met ’n aansienlike uitbreiding in personeelsterktes, het veroorsaak dat die land groter uitgawes moes maak om die stygende verdedigingsbegroting te bevredig. So kan genoem word dat in 1960/61 die voorsiening van die Departement van Verdediging 0.9% van die bruto-volksproduk verteenwoordig het terwyl die voorsiening vir verdediging in 1968/69 tot 2.5% en 2.16% in 1970/71 van die geskatte volksproduk gestyg het. In vergelyking met die  verdedigingsuitgawes van ander lande kan hierdie styging egter nie as buitensporig beskou word nie.

 

Nasionale Diensplig

Omdat ons Weermag nog altyd op die volk self aangewese was om werklik die funksie van die verdedigingsmasjien in oorlogstyd uit te voer, moes ons in ons uitbouingsproses noodgedwonge weer ’n keer kyk na die voorsiening wat tot ons beskikking was met betrekking tot die militêre opleiding van ons jong burgers. Dit is genoeg om hier aan te stip dat die bestaande voorsiening in dié verband in 1960 geheel en al ontoereikend vir ons beoogde uitbreiding was. Hierdie voedingsbron sou in die jare wat voorgelê het, voortdurende dringende oorweging en aanpassing verg. Dit het dan ook tot gevolg gehad dat die Verdedigingswet, 1957 (Wet No. 44 van 1957) soos gewysig, van tyd tot tyd gewysig moes word en die huidige dienspligstelsel het uiteindelik vanaf Januarie 1968 sy finale beslag gekry om die benodigde opgeleide mannekrag vir ons Weermag daar te stel.

Ingevolge ons huidige dienspligstelsel word daar jaarliks sowat 30 000 jong burgers opgeroep vir Nasionale Diensplig. Hierdie stelsel is baie meer as bloot militêre opleiding en -inoefening – dit is iets positief en opbouend om ons jong burgers fisies en geestelik voor te berei om die talle uitdagings van die lewe die hoof te bied. Derhalwe is dit ook van onskatbare waarde om ons nasie en ons Weermag hegter aanmekaar te snoer.

 

Die Suid-Afrikaanse Leër

Die taak van die Suid-Afrikaanse Leër is om Suid-Afrika teen alle vorme van gewapende aggressie, hetsy ekstern of intern, deur middel van landwaartse krygsverrigtinge te beskerm.

As gevolg van die bedreiging wat onder meer ook moontlike onkonvensionele oorlogsvoering teen die RSA insluit, het dit nodig geword dat ons magte meer realisties in die rol opgelei moes word. Gevolglik is daar in die afgelope aantal jare verskeie opleidingsbasisse dwarsdeur die Republiek opgerig waar ons jong manne opleiding in onkonvensionele oorlogsvoering ondergaan. Grootskaalse militêre oefeninge in beide konvensionele en onkonvensionele oorlogsvoering word gereeld gehou.

Ewe-eens, as gevolg van voornoemde moontlike bedreiging, het die militêre betekenis en waarde van die kommando’s baie groter geword. Die nuwe Kommando-organisasie het die slagvaardigheid van die kommando’s aansienlik verbeter en maak voorsiening vir stedelike, plattelandse en industriële kommando’s. Vir die opleiding van die kommando’s is die Danie Theron-Krygskool in Januarie 1968 gestig. Sedertdien het duisende burgers aldaar opleiding ondergaan.

Wat Burgerlike Beskerming aanbetref, is die ou Direktoraat Burgerlike Beskerming met ingang van 1 November 1969 gemilitariseer en is tans ’n integrale deel van ons Leër-organisasie. ’n Opleidingsentrum is te George gestig vir die opleiding van jong dames in burgerlike beskermingstegnieke en die sentrum funksioneer vanaf 1 Februarie 1971.

 

Die Suid-Afrikaanse Lugmag

Die taak van die Suid-Afrikaanse Lugmag is ook om ons land teen alle vorme van gewapende aggressie te beskerm. Die Lugmag moet veral toesien dat die Republiek ’n goeie lugverdediging het teen lugbedreigings hetsy oor land of van die see.

Die Republiek het ’n effektiewe lugverdedigingstelsel. Onderskeppingseskaders is ten volle toegerus met supersoniese Mirage-vliegtuie. Aanvullend tot hierdie onderskeppingsvliegtuie het ons ook ander moderne wapensisteme ter verdediging van die Republiek se kwesbaarste gebiede. Maar benewens sy suiwer verdedigingsrol lewer ons Lugmag ook nog soek- en reddingsdienste binne die RSA en in internasionale toegekende soek- en reddingsgebiede.

’n Belangrike toevoeging tot die Lugmag in die jongste tyd is ons Lugkommando-eskaders. Hierdie eskaders word beman deur burgerlike vlieëniers wat hulle private vliegtuie gebruik om die Lugmag en die Leër in hul onderskeie take by te staan.

 

Die Suid-Afrikaanse Vloot

Net soos die Leër en die Lugmag hul onderskeie verdedigingstake het, is dit die taak van die Suid-Afrikaanse Vloot om die RSA teen gewapende aggressie deur middel van seewaartse krygsverrigtinge te beskerm.

Om ons Vloot slagvaardig te hou word gevorderde oefeninge ter see gereeld gehou. Waar moontlik en soos omstandighede dit toelaat, onderneem hulle opleidingsvaarte na ander lande. Sulke opleidingsvaarte is na Argentinië, Australië en ander naburige State gedurende 1967, 1963 en 1969 onderneem.

Een van die belangrikste aspekte van ons Vloot se uitbreiding in die jongste tyd is ons duikbootaanskaffingsprogram. Ons eerste drie duikbote wat van die Franse Daphne-klas is, heet die SAS MARIA VAN RIEBEECK, die SAS EMILY HOBHOUSE en die SAS JOHANNA VAN DER MERWE. Dit was allerweë gevoel dat hierdie name van beroemde vroue in ons Volksgeskiedenis aan ons eerste duikbote toegeken moes word. Die SAS MARIA VAN RIEBEECK en die SAS EMILY HOBHOUSE is reeds te water gelaat en eersgenoemde word gedurende Mei vanjaar in ons eie waters verwag.

 

Krygstuigaangeleenthede

Weens verskeie faktore wat in die sestigerjare na vore getree het, soos byvoorbeeld, ons uittrede uit die Statebonde en die VVO se wapenboikot teen ons, het die Regering besluit dat, om die RSA minder afhanklik van oorsese lande te maak ten opsigte van die verkryging van krygstuig en ten einde die krygstuignywerheid in ons eie land te rasionaliseer en te bevorder, ’n krygstuigontwikkeling, en -vervaardigingskorporasie gestig moes word. Dit is dan ook in 1968 gedoen.

Ons nywerhede is nou in staat om al ons ammunisie-benodigdhede plaaslik te vervaardig. Insgelyks is ons nywerhede deur bemiddeling van, en in samewerking met die Krygstuigraad, ingestel om in ’n groot mate aan ons krygstuigbehoeftes te voldoen.

Dit is ook verblydend dat ek kan konstateer dat ‘n nuwe wapenstelsel vir beskerming teen laagvlieënde vliegtuie deur ons in samewerking met ’n bekende Franse firma suksesvol onderneem is. Hierdie wapenstelsel waarin Suid-Afrika die leiding geneem het, wek reeds wye internasionale belangstelling.

 

Die Toekoms

In hierdie jaar wanneer ons die tienjarige bestaan van die Republiek van Suid-Afrika gaan vier, moet ons weer eens aan mekaar sê: Laat ons die vrede soek, deur Suid-Afrika se stabiliteit en veiligheid te waarborg met ’n gees van diens en roepingsgeloof.