Ons Republiek 1961-1971 – Myne en mynontwikkeling

Die Paardekraalmonument
April 14, 2017
Dit was ons erns
April 15, 2017

(Geskryf deur Sy Edele dr. C de Wet, Minister van Mynwese, soos verskyn in Historia Junior, Mei-Augustus 1971)

Soos stilswygend getuig word deur die ou werkplekke in Noord- en Oos-Transvaal, waar goud en ander metale eeue gelede ontgin en gesmelt is, is mynwerksaamhede reeds lank voor die aankoms van die eerste Blankes in Suid-Afrika, verrig.

Terwyl die mynbedryf in Suid-Afrika gegroei het tot die reus wat dit tans is, het elke nuwe ontwikkeling egter sy eie probleme meegebring. Hierdie probleme kon egter altyd die hoof gebied word en ons Myningenieurs het talle kere die skynbaar onmoontlike vermag. Een voorbeeld daarvan, wat nog fris in die geheue is, is toe die Wes-Driefonteinmyn ’n jaar of twee gelede in ’n ongelooflike kort tyd van oorstroming gered is. Die feit dat mynwerkers in die East Rand Proprietary Mines Ltd., tans op die feitlik ongelooflike diepte van meer as 11 000 voet onder die oppervlakte werk, spreek van vernuf en die vasberadenheid om die aarde se rykdom te ontbloot.

Sedert Republiekwording in 1961 het die aantal myne met ongeveer 11 persent toegeneem terwyl die totale salarisse en lone verdien, die waarde van minerale verkoop en van voorrade verbruik, met tussen 50 en 60 persent vermeerder het. Gedurende dieselfde tydperk het die staat se aandeel in die winste uit mynbouondernemings met byna 200 persent vermeerder en inkomste uit belasting alleen is tans 90 persent meer as in 1961. Hierdie feite is des te meer merkwaardig as in gedagte gehou word dat die totale aantal werknemers (alle rasse ingesluit) gedurende dié tydperk geleidelik met ongeveer 11 000 verminder het om die totale aantal werkers in myne vandag van 98% van dié wat in 1961 in diens was, te staan te bring.

As verder in aanmerking geneem word dat Suid-Afrika net een persent van die aarde se oppervlak beslaan en deur maar net ’n half- persent van die wêreld se bevolking bewoon word, is dit verbasend dat hierdie land gedurende die afgelope dekade, deurentyd meer as 70 persent van die vrye wêreld se goud en platina, meer as die helfte van die diamante (in waarde) en oor die 90 persent van Afrika se steenkoolproduksie opgelewer het. Dit sou baie moeilik gaan om enige ander land ter wêreld te vind, wat so ryk beskore aan mineraalbronne is.

Die rol van steenkool in die opwekking van elektrisiteit in Suid-Afrika word goed weerspieël deur die feit dat die getal eenhede wat nou jaarliks deur die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie (EVKOM) verkoop word, die 1961-syfer met meer as 185 persent oorskry, terwyl die hoeveelheid steenkool deur hierdie instansie verbruik, met 50 persent toegeneem het.

Interessantheidshalwe kan ook genoem word dat die mynboubedryf 40 persent van genoemde eenhede verbruik het.

Om die soek na en ontginning van minerale-afsettings aan te moedig, is die inkomstebelastingwet in 1961 gewysig sodat ondernemings wat op onedele minerale konsentreer, sedertdien toegelaat word om ten minste 25 persent van hul jaarlikse kapitaaluitgawes tot ’n maksimum van 100 persent, gedurende die jaar waarin dit spandeer is, vir inkomstebelastingdoeleindes te delg. Die gevolg hiervan was dat sekondêre nywerhede met rasseskrede vooruitgegaan het, byvoorbeeld die ferro-legeringsnywerheid het heelwat uitgebrei; ’n fabriek vir die vervaardiging van vlekvrye staal is opgerig vir en sover dit kunsmis vir landboudoeleindes betref, is Suid-Afrika nou selfonderhoudend en kan boonop klein hoeveelhede daarvan na naburige lande uitvoer. Die vuurvastesteenbedryf het ook al tot so ’n mate uitgebrei dat Suid-Afrika nie meer van die invoer van hierdie tipe stene afhanklik is nie, terwyl vanadiumkonsentraat in die vorm van slak vanaf die staalfabriek uitgevoer word. Verder is ’n aluminium-smelter opgerig, waarin ingevoerde erts verwerk word, aangesien aluminium een van die min metale is wat nog nie in ekonomiese hoeveelhede in Suid-Afrika gevind is nie.

Die verwerkingstoelae, waarna hierbo verwys word, het soos te wagte was, ook ander voordele meegebring. Mynbou- en aanverwante maatskappye wat verwerkte produkte verskeep in plaas van ru-erts bespaar nie net op die vervoerkoste nie, maar verdien ook meer buitelandse valuta. Bowendien baat die Republiek nog verder deur die addisionele indiensneming van werksmense, terwyl baie meer kapitaalfondse in sekondêre nywerhede in Suid-Afrika belê word. Hierdie aansporing het wesenlik tot selfvoorsiening bygedra en die uitbreiding van die nywerhede wat van mineraalprodukte afhanklik is, is werklik fenomenaal.

Die waarde van onedele minerale wat in 1970 geproduseer is, het sowat R650 miljoen bedra teenoor die R275 miljoen in 1961.

Metallurgiese ekstraksiemetodes het ook verbasend verbeter en een van die voordele wat hieruit voortgespruit het, is dat uraan wat as ’n neweproduk van goud geproduseer word, vantevore geëkstraheer is nadat die goud uit die erts herwin is, maar nou, op sommige myne, voor die goud uitgehaal word op so ’n wyse dat die herwinning van goud verhoog word.

Aangesien goud nog steeds Suid-Afrika se vernaamste bron van mineralerykdom is, met ’n verkoopswaarde in 1970 van sowat R828 miljoen teenoor die R575 miljoen in 1961, of andersom gestel, ’n waarde van meer as 50 persent van die verkoopswaarde van alle minerale in 1970 geproduseer, het die Staat gedurende die afgelope tien jaar weer eens besluit om hierdie lewenskragtige inkomsteverdiener in verdienstelike gevalle finansieel te steun. Drie skemas waarvolgens die Staat hulp aan kwynende myne verleen, is ingestel.

Eerstens dra die Staat by tot die onkoste verbonde aan die pomp van water wat uit aangrensende, geslote myne ’n myn binnevloei. Tweedens is lenings aan sommige grenswinsmyne toegestaan om hulle te help om langer in produksie te bly en op dié wyse tot groter goudopbrengs by te dra. Laasgenoemde is egter nou vervang deur die Wet op Bystand aan Goudmyne, 1968, waarin daar voorsiening gemaak word vir finansiële bystand aan sekere goudmyne.

Die totale bedrag deur die Staat tot einde September 1970 aan goudmyne uitbetaal ten opsigte van al drie die skemas, beloop oor die R47.6 miljoen.

Prospektering vir metale en minerale is, in die algemeen, teen ’n versnelde tempo voortgesit. Hiervan is die belangrikste miskien dié ten opsigte vin aard-olie, wat beide op land en in die aangrensende seebodem plaasvind. Die koste hieraan verbonde is ontsaglik hoog soos afgelei kan word van die feit dat meer as R30 miljoen deur alle instansies gesamentlik in die bestek van sowat vyf jaar aan die soektog gespandeer is. Die Suidelike Olie Eksplorasiekorporasie (Edms) Bpk., ’n Staatsgestigte-instansie, neem vir die afgelope 6 jaar aktief deel aan die soektog na aardolie. In geeneen van die 42 gate wat tot dusver op land geboor is, is aardolie of gas in ekonomiese hoeveelhede teëgekom nie. Daar is egter tekens van olie en/of gas in sommige van die gate aangetref. Twee gate wat in die see geboor is, het bemoedigende resultate opgelewer en daar kan met vertroue uitgesien word na die voortetting van die soektog ter see.

Die mynboubedryf het oor die afgelope tien jaar tot so ’n mate gevorder dat daar met vertroue verwag kan word dat die ontginning en verwerking van minerale nog tot ver in die toekoms ’n betekenisvolle rol in die ekonomie van ons geliefde land sal speel.

Daar bestaan egter een groot knelpunt, naamlik die knaende gebrek aan opgeleide geoloë en die afnemende belangstelling in die geologie as ’n studierigting. Ons kan hierdie wonderlike bate waarmee ons toebedeel is, net na behore benut as ons die mense het om die basiese dienste te lewer.

Dit is belangrik dat ons jongmense hiervan kennis neem en dat enigeen wat belangstelling in dié rigting toon, daarin volhard in belang van Suid-Afrika.