“Ons moet veg tot die bittere einde”

Beraadslagings oor vrede
January 22, 2015
Milner se taalplanne
January 22, 2015

Generaal Smuts het aan die Vrystaat laat weet dis beter om die oorlog te laat ophou en oor vyftien of twintig jaar die stryd te hervat. Steyn was, met sy eie woorde, “diep verontwaardigd en bitter teleurgesteld”. Hy het op 15 Mei die Transvaalse bewering betwis dat die regering en die offisiere die oorlog sou voortsit, maar dat die volk sou oorgee. In die Vrystaat kon die regering en die offisiere oorgee, maar die volk sou dit nie doen nie. Dit sou ’n ramp vir ons nasionale bestaan wees indien die Vrystaat wat sy goed en bloed, maar ook sy vryheid vir Transvaal opgeoffer het, in die steek gelaat word. Dit sou die einde meebring van alle vertroue of Afrikanersamewerking. Aan Smuts het Steyn geskryf dat hy nie saamstem dat die volk ná oorgawe weer in opstand sal kom nie. “Indien ons ons onafhanklikheid wil behou, moet ons veg tot die bittere einde, want as daar eenmaal vrede is, sal die burgers nie weer oorlog wil maak nie.” As die republieke die Kaapse rebelle in die steek laat, sal dit die nekslag van die “Z.Afrikaansche volk” wees.

Steyn het gemeen dis noodsaaklik om weer met Transvaal te praat. Hy is gesteun deur onversetlike manne: generaals Koos de la Rey uit Wes-Transvaal en De Wet en Hertzog uit die Vrystaat. Teenoor hulle het gestaan Botha, Burger, Smuts en NJ de Wet. Die byeenkoms op Waterval, distrik Standerton, was op 19 en 20 Junie 1901. Daar het die bittereinders geseëvier.

Albei republikeinse regerings het ná die Waterval-beraad ’n proklamasie uitgevaardig oor hul besluit om die oorlog voort te sit. Ongelukkig het die Engelse op 10 Julie, toe president Steyn op Reitz ontsnap het, beslag gelê op die president se korrespondensie. Hulle het die Transvaalse brief van 10 Mei versprei. Kitchener het ook op 6 en 7 Augustus 1901 ’n proklamasie aan die vegtende burgers uitgereik. Aan kommandante en ander voormanne van “gewapende benden” [sic!] is bekend gemaak dat hulle, tensy hulle voor 15 September kapituleer, vir altyd uit Suid-Afrika verban en hul eiendom gekonfiskeer sal word vir die onderhoud van hul gesinne. Die brief van die Transvaalse regering het die burgers verbitterd gemaak.

Maar die publikasie van die brief en Kitchener se proklamasie het Botha en Burger gedwing om afwysend daarop te reageer. Ook De la Rey en die Vrystaatse leiers het kragtig daarteen standpunt ingeneem. Steyn het op 15 Augustus in ’n lang brief aan Kitchener verklaar: “Ons land is geruïneer, ons huise en haarde verniel, ons vee weggevoer of by duisende doodgeslaan, ons vroue en kinders deur die troepe en gewapende swartes gevang, beledig en weggeneem, en baie honderde het reeds hul lewe opgeoffer vir die vryheid van hul vaderland. Sal ons dan ontrou kan word aan die honderde dodes en gevangenes wat, terwyl hulle op ons standvastigheid vertrou het, hul lewe en vryheid veil gehad het vir die vaderland, of ontrou in ons geloof op ’n Regverdige God, wat ons so wonderbaarlik tot nog toe in stand gehou het? Ek is oortuig dat as ons so iets sou doen, ons nie alleen deur U Eksellensie en enige ander eerlike man, maar ook deur ons verag sal word.”