Ongeskoolde held trap blywende spore in stad

Die spook van Smutshuis bewaar Krugermiljoene glo vandag nog
January 14, 2019
Droomvrou
January 15, 2019

Angie Kleijn

Een van Pretoria se mooi ou huise, wat in 1968 gesloop is, het behoort aan ’n man wat geen skoolopleiding gehad het nie, maar op die hoogste vlak tot die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se ontwikkeling bygedra het. Hy is saam met sy ouers deur die Groot Trek, het die Boeremag na oorwinning gelei by die Slag van Majuba, het visie-president geword en ’n reeks internasionale eerbewyse ontvang.

Nicolaas Jacobus (Klaas) Smit is op 30 Mei 1837 op die plaas Doornbosch naby Graaff-Reinet in die Kaapkolonie gebore. Hy was die oudste seun van Nicolaas Jacobus Smit (1811-1887) en Elizabeth Magdalena van der Merwe (1815-1892).

Die gesin het in 1840 op die Groot Trek vertrek en het in 1841 in Pietermaritzburg aangekom. Soos baie van die Voortrekkerkinders het die jong Klaas geen formele skoolopleiding gehad nie, net ’n basiese lees- en skryfkennis.

Die Smit-gesin het in 1846 na die ZAR getrek en het op die plaas Leliefontein, wyk Mooirivier, distrik Ventersdorp gewoon.   

Klaas Smit was blind in sy linkeroog, ná hy as jong seun gewond is by die beleëring van die Makapaanspoort-grotte
Foto: Wikipedia

Toe Klaas 15 jaar oud was het hy die 1852-veldtog teen die Tswanahhoof, Sechele, meegemaak. Twee jaar later was hy by die beleëring van die Makapaanspoort-grotte betrokke en dit is daar waar hy in sy linkeroor gewond is en toe in sy linkeroog blind geword het.

Klaas se pa, Nicolaas Jacobus Smit (1811-1887)
Foto: Geni

Trou
Klaas was 24 jaar oud toe hy getroud is – op 1 April 1861 op Rustenburg met Hendrika Stephina Pretorius, dogter van Hendrik Stephanus Pretorius en Rachel Jacoba Liebenberg. Hendrika is op 3 Desember 1841 gebore en is op 6 Februarie 1842 te Weenen gedoop. Uit dié huwelik is drie seuns en twee dogters gebore.

Klaas en sy gesin het hulle in 1873 op die plaas Goedehoop gevestig, ongeveer 16 km wes van Sheepmor in die destydse Oos-Transvaal. Hy het van vroeg af leiersposisies beklee en in 1876 was hy tweede in bevel onder MW Pretorius in die veldtog teen die Bapedihoof, Sekhukhune.

Op 12 April 1877 het Sir Theophilus Shepstone Transvaal geannekseer en Klaas het ’n belangrike rol in die versetbeweging gespeel, veral met die groot volksvergaderings by Wonderboom, Kleinfontein en Paardekraal. 

Dié protesaksies het na die Eerste Vryheidsoorlog gelei en Klaas is tot veggeneraal bevorder. Hy is saam met generaal Piet Joubert na die Natalse grens waar hy bevelvoerder van die Boeremagte was met die veldslae van Skuinshoogte (Ingogo) en Majuba.

Slag
Klaas het homself as ’n uitstaande militêre leier bewys. Sy strategie was glo verstommend suksesvol, veral met die slag van Majuba, en hy het groot vertroue onder sy manskappe geniet.

Die Slag van Skuinshoogte was op 8 Februarie 1881 op die ou pad na Newcastle, ongeveer 15 km suid van Mount Prospect. Hier verslaan Klaas en sy manskappe ’n Britse ‘bangmaakmag’. Die Britse generaal-majoor George Pomeroy Colley se mag het deur die nag teruggetrek en 76 dooies en 63 gewondes agtergelaat. Slegs agt Boere is dood en ses gewond.

Onderkorporaal Joseph John Farmer waai ’n wit vlag by die Slag van Majuba 
Bron: Britishbattles.com

Hierna het Colley nog 2 000 troepe van Newcastle laat kom om die berg Majuba te beset, vanwaar hy op die Boere se stellings by Laingsnek kon neerkyk. In die nag van 26 Februarie het 405 Britse soldate die berg uitgeklim. Vroegoggend van 27 Februarie is hulle deur die Boere gewaar.

Generaal-majoor George Pomeroy Colley is op 27 Februarie 1881 dood in die Slag van Majuba
Foto: Wikipedia

As bevelvoerder het Klaas 450 vrywilligers uit verskeie kommando’s bymekaargemaak om die koppie te bestorm. Drie afdelings is onder leiding van kommandant Joachim Ferreira, assistent-veldkornet Fanus Roos en assistent-veldkornet Danie Malan gevorm.

Vuur
Klaas het opdrag gegee dat die manne bo 50, agter die rotse van die eerste plato moes bly skuil. Hulle taak was om na elke Brit wat sy kop oor die boonste rand uitsteek, te skiet sodat die res van die Boere onder vuurdekking tot reg onder die kruin kon klim. Dit het die Boere ses ure gevat om dié posisie teen twaalfuur te bereik.

Intussen het Colley en sy manne, ná ’n lang nag van bergklim, verlore slaap probeer inhaal. Daar was geen artillerie nie en die manskappe het hulleself nie ingegrawe nie. Teen 12:45 het die Boere met hewige geweervuur op Gordon se koppie losgebars en dit verower. In die volgende uur, het die Boere oor die kruin gestorm en die Britte groot verliese toegedien.

Geskiedskrywers berig dat daar groot verwarring was en dat die Britte na die suidekant van die bergtop begin vlug het. Generaal Colley is bokant sy regteroog raakgeskiet en is op die berg dood. Die res van die Britte het oor die agterste kruin gespring en is geskiet, beseer of gevange geneem.

Daar het 92 Britte gesneuwel, 134 is gewond en 59 is gevange geneem. Slegs een van die Boere, H Bekker, is daardie dag dood en ’n tweede een, J Groenewald, het later aan sy wonde beswyk. Slegs ses ander is gewond.

Vrede
Die veldslag het na die ondertekening van ’n vredesooreenkoms by die Konvensie van Pretoria op 21 Maart 1881 gelei.

Klaas het in September daardie jaar lid van die volksraad vir Ermelo geword. Kort daarna was hy, saam met president Kruger en ds. SJ du Toit, ’n lid van die deputasie na Europa. In Engeland het hulle daarin geslaag om met die sluiting van die Konvensie van Londen belangrike toegewings van die Engelse regering te verkry. 

Met hulle terugkoms in Pretoria is Klaas tydelik tot voorsitter van die volksraad gekies. Tog was dit steeds sy droom om te boer en op 5 Julie 1882 het Klaas ’n lewenslange huur van grond in die Ngwenya-koppies, noordwes van Forbe’s Reef, bekom in ruil vir een stuks vee. Daar het hy in vennootskap met sy broer, Alewijn, geboer.

Toe Klaas in 1887 as vise-president van die ZAR gekies is, het hy en sy gesin Pretoria toe getrek. Hy het dié posisie vir bykans 10 jaar onder president Paul Kruger beklee.

Belangrike regeringskommissies waarin Klaas gedien het, was oor die Barbertonse Goudvelde (1886), Opleidingsregulasies vir Aptekers (1887), die inlywing van De Nieuwe Republiek, Vryheid, Natal by die ZAR (1888), die Delagoabaai-Pretoria-Spoorweg en kommissies te doene met Swaziland.

Huis
In Pretoria het Klaas erwe 719 en 720 op die hoek van Visagie- en Andriesstraat gekoop. Hy het ’n woonhuis op erf 719 laat bou. Die huis van die Park Sosiëteit, wat later ’n deel van die Eaton House residensiële hotel geword het, was op erf 720.

Klaas se huis in Pretoria is in 1968 gesloop. Van links na regs: LA van Wyk, hoof van die Generaal Nicolaas Smit-skool; J du Plessis van die TOD en dr NA Coetzee, voorsitter van die Genootskap 
Oud-Pretoria
Bron: Rosa Swanepoel

Die hoeksteen daarvan is in 1898 deur Klaas se broer, Jacobus Stephanus Smit, die spoorwegkommissaris, gelê. Dié hoeksteen word by die Generaal Nicolaas Smit-skool, wat tot 1931 as die Zandfonteinse Laerskool bekend was, bewaar.

Die opskrif lees soos volg: “Hoeksteen gelegd door J.S. Smit, voorz. Park Sosiëteit den 25 November 1896. Daanen en Dorlas aannemers. R. Engelbrecht architect.”

Die Parksosiëteit, wat later ’n deel van Eaton House geword het, was langs Klaas se huis. Die hoeksteen is in 1898 deur Klaas se broer, Jacobus Stephanus, gelê 
Bron: Rosa Swanepoel

Klaas het ’n groot bydrae tot die ontwikkeling van Pretoria gelewer. Hy was in 1892 stigterslid van die eerste Landbouvereniging van Pretoria, ‘n kurator van die Staatsgimnasium, wat in 1892 opgerig is, en het die Bereapark-terrein vir Pretoria-rugby gekry. Saam met generaal Joubert en andere, het hy herhaaldelik aansoek gedoen om konsessies om spoorweë te bou.

Vrou
Klaas se vrou Hendrika is op 18 Augustus 1894 in Pretoria oorlede en is in die Ou Begraafplaas begrawe. Hy is daarna op 30 Mei 1895 met Susanna Maria Bosman getroud. Daar was al die jare effe van ’n verwarring oor Klaas se tweede vrou. Die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek sê dat hy die tweede keer met die weduwee Susana Maria Preller, gebore Bruwer, getroud was. Tog wys sy sterfkennis dat Susanna Maria Smit, gebore Bosman, sy oorlewende eggenote was. Susanna is glo ná Klaas se dood met ’n Preller getroud.

Klaas was ongeveer ’n jaar lank met Susanna getroud toe sy gesondheid vinnig agteruit begin gaan het. Hy is op 4 April 1896 in die ouderdom van 58 jaar in sy huis oorlede.

Klaas is nie net deur sy eie land hoog geag nie, maar het ook internasionale erkenning gekry. Pruise het hom ridder, tweede klas, van die Rooi Adelaar gemaak en Portugal het hom met hulle hoogste toekenning vereer, kommandeur van die Orde van die Onbevlekte Ontvangenis van Onze Liewe Vrouwe van Viçosa. Nederland het Klaas met hulle hoogste toekenning vereer, kommandeur van die Orde van die Nederlandse Leeu.

Hierdie artikel het verskyn in Die Bronberger.