Onderhandelinge oor taal

Op pad na Vereeniging
January 22, 2015
Debat oor volk se voortbestaan
January 22, 2015

Ná ontbyt op 15 Mei het die regerings vooraf byeengekom in die tent van president Steyn. Hulle was geskok deur die vinnige agteruitgang in sy gesondheid. Dit het gelyk asof hy in ’n paar maande jare ouer geword het. Sy gees was egter so helder en so sterk as ooit, en sy moed nog groter as voorheen. Wanneer hy praat, was daar geen sweem van wanhoop in sy woorde nie, en sy sterk persoonlikheid het nog, soos in sy beste dae, eerbied afgedwing. Steyn het egter weens sy siekte net aan die begin van die beraad gepraat. Sy afwesigheid was ’n groot slag vir dié wat onderwerping teengestaan het.

Die burgers het generaal CJ Beyers tot voorsitter gekies en meneer D van Velden, griffier van die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek, en dominee JD Kestell, sekretaris van die uitvoerende raad van die Oranje Vrijstaat, tot sekretarisse.

Die eerste en ’n deel van die tweede dag het heengegaan met die verslae van afgevaardigdes oor die toestand. Dié uit Wes- en Noord-Transvaal en die Vrystaat het gemeen hulle moet die stryd voortsit. Dié uit Oos- en Suid-Transvaal was ewe pessimisties as Botha, wat gewys het op moeilikhede met swartes. By Vryheid het die Zoeloes 56 burgers vermoor, en elders is vroue deur swartes aangerand en verkrag.

Op Maandag 19 Mei het Botha, De la Rey, De Wet, Hertzog en Smuts in Pretoria ’n vredesvoorstel aan Milner en Kitchener voorgelê, wat dit onmiddellik verwerp het. Dié twee het ’n ontwerp voorgestel, wat ingehou het dat die republieke onvoorwaardelik oorgee. Hiertoe was die Boereleiers nie bereid nie, en Kitchener het voorgestel dat hy, Milner, Hertzog en Smuts ’n nuwe dokument opstel.

Ná harde onderhandelinge is ’n nuwe ontwerp op 21 Mei voor die afgevaardigdes gelê. Milner was daarvoor verantwoordelik dat die uiteindelike taalbepaling in die vredesvoorwaardes strenger was as in die Middelburgse voorwaardes van 1901. Soos aangehaal, het dié gelui dat Nederlands “will be used and taught” in skole waarin die ouers dit verlang, “and allowed in Courts of law”.

In die nuwe bepaling is “used” weggelaat en ’n beperking toegevoeg tot die gebruik in die howe: “The Dutch language will be taught in Public schools in the Transvaal and Orange River Colony where the parents of the children desire it, and will be allowed in courts of law when necessary for the better and more effectual administration of justice.” Die “used” het voorsiening gemaak vir die gebruik van Nederlands as voertaal in staatskole, maar Milner het dit weggelaat om te voorkom dat die Afrikaners kon aanspraak maak op Hollands as onderrigmedium. Hollands sou ook nie meer op versoek in die howe toegelaat word nie, maar net waar dit volgens die hof se oordeel in belang van regspraak was.

Milner kon dus aan Chamberlain kabel: “Language clause is much improved.” Hertzog het later vertel: “Lord Milner het alles opgestel. Toe ons by die punt van die TAAL kom, het hy vlotweg geskryf wat daar nou in die traktaat staan en gesê: ‘Ek wil slegs een taal in Suid-Afrika hê’.” Hertzog het geantwoord: “Ek ook!”