Old Nectar, Jonkershoek (Geen toegang)

Mostertsdrift, Jonkershoekweg (Geen toegang)
Desember 14, 2017
Jan van Riebeeck se plaas Bosheuvel bestaan vandag nog
Januarie 18, 2018

DCIM100MEDIADJI_0002.JPG

Van Stellenbosch loop die pad reg ooswaarts verby Lanzerac na Jonkershoek, een van die skilderagtigste berghoeke in die ganse Suid-Afrika. Skaars ag km van die dorp gaan die pad meteens deur ‘n poort wat gevorm word deur die oorhangende takke van reuse ou eikebome en hier links teen die helling onder die bome 18 Old Nectar. Die ligging van hierdie ou Kaapse gewelhuis is voorwaar onvergelyklik skoon. Van die pad strek goedversorgde blomtuine, en daar op hoër grond teen die voet van die berg, staan die pragtige, wit woning afgeëts teen die donkergroen van die eikehome en die berghang. Hoog bokant die huis toring die Twee-lingpieke uit.

Die plaas waarop hierdie huis geleë is, is vir die eerste maal in 1692 aan twee vry slawe, Marquard en Jan van Ceylon, geskenk. Dit het toe bekend gestaan as „Jan Lui”, ‘n klaarbly-klike afleiding van. Jan Ceylon se bynaam en waarskynlik ‘n afkorting vir „Jan Lui zijn plaats”. In 1712 is dit op die naam van Anna Hoeks oorgedra. Sy was die weduwee van die baanbreker-reisiger, vaandrig Isaq Schrijver, wat in 1687 ‘n uitge-breide landtog onderneem het van die Kaap oor die Hottentots-Hollandberge, verby die huidige Swellendam en Oudtshoorn, en oor die Swartberge tot aan die grense van die Groot Karoo.

Anna Hoeks was ‘n merkwaardige vrou en het deur erflating van haar man sowel as deur aankoop in besit gekom van byna die ganse Jonkershoekvallei. Na haar dood het die gronde nie slegs van eienaars verwissel nie, maar is onderverdeel. In 1790 het die plaas Jan Lui, wat nou reeds sy naam verloor het, tesame met die plaas Jonkershoek in besit van Pieter Jacob du Toit gekom. In 1813 het Coenraad Johannes Albertyn op sy beurt Jan Lui van Du Toit gekoop en dit tot sy plaas Weltevreden toegevoeg. Die jaar daarop het hy vir hom hier op Jan Lui ‘n nuwe huis, d.w.s. die teenswoordige huis, laat bou en die plaas Nektar genoem.

Dit moet aanvaar word dat dit nie die eerste huis op hierdie plek was nie. Trouens die gebou vertoon sekere kenmerke wat die vermoede wek dat dit ‘n verbouing van die oorspronklike huis is en dat die linkerdeel tot die ou huis behoort. Bewyse hiervoor word o.a. gevind, eerstens in die eienaardige L-vorm van die huis en die feit dat die been van die L nie ‘n volmaakte eenheid met die voorste deel vorm nie. Tweedens, dat die grond aan die teenoorgestelde kant van die been van die L gelyk gemaak is, iets wat nie in ‘n berghelling gedoen sou gewees het nie, tensy daarop gebou was nie. Hierdie feit skyn verder daarop te dui dat die huis oorspronklik U-vormig was. Derdens, die houtwerk aan die linkervoor-gewel is van ‘n latere datum wat weer daarop dui dat die ou houtwerk na voltooiing van die gebou waarskynlik vervang is. Ten laaste is daar aan hierdie kant ook ‘n ingang met sy eie stoeptrappies.

Nogtans is die vooraansig van hierdie huis een van die treffendste in die Boland en dit moet beskou word as ‘n uitnemende eksemplaar van die laat neo-klassieke gewel. Die indrukwekkende voorkoms van die gewel is verkry deur die perfekte verhoudinge van die vooraansig sowel as die unieke ontwerp van die gewel self. Die gewel vul presies een-derde van die nou fasade en aldus word daaraan hoogte en prominensie verleen. Die balans word behou deur ‘n half- en volwydte venster aan weerskante van die deur en ‘n volwydte-dakvenster bokant die deur. Die voordeur met sy bo- en onderdeur en bolig asook die vensters met hul skuiframe, klein ruitjies en hout-luike is alles in volle harmonie met die geheel. Aan die gewel word ‘n besondere karakter verleen deur die vier pilasters wat ononderbroke deur ‘n bandlaag, van die stoep na bo loop, die vase op elke pilaster en die drie-hoekige pediment. Die eentonigheid van die oop, ge-pleisterde ruimtes tussen die pilasters word deur festoene verbreek.

In die jare 20 van hierdie eeu, toe hierdie eiendom in besit van die familie Tennant gekom het, is dit tot Glenconnor verdoop, maar tans staan dit as „Old Nectar” bekend.

(Geproklameer 1967)

 

Nerine Desmond • Old Nectar • C.S. Grobbelaar

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 81-82.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui