Die Afrikaanse letterkunde is “nog maar dun en betreklik arm”, het Gustav Preller in 1926 geskryf. Afrikaanse skrywers het inderdaad nog nie veel te bied gehad nie. Tog was daar al ’n klompie interessante gedigte. Gedigte van Toon van den Heever, later appèlregter, is in 1919 uitgegee met nuwe temas soos erotiese drif, opstand teen God, twyfel oor die Afrikanervolk; ook “In die Hoëveld”.
Twee persoonlike rampe wat Totius in 1920 getref het, het neerslag gevind in sy bundel Passieblomme (1934). Dit was die dood van sy jaar oue seuntjie Francois op 7 November aan breinvliesontsteking: “Vier laaste snikkies/ van my sterwende wig! – /Wat hier al immer,/ immer gebeur – / ’ vergeet hul nimmer, / nimmermeer.” Op Oujaarsdag het ’n weerligstraal sy twaalfjarige dogtertjie Wilhelmina in die huis getref. “Ek het haar dadelik opgeneem, op haar bed neergelê en probeer om die asemhaling weer op te wek. Tevergeefs.” Op die maag en bors was die “fyn takkies van die weerlig” te sien. “O Die bliksem-gedagte!… ja lieflingskind,/ één straal het jou skone liggaam verskroei,/ maar bliksemstrale sonder tal/ laat my binneste brand en bloei.”
Gedigte van Eugène Marais het in 1925 verskyn – “van die suiwerste en edelste van ons jong letterkunde”, het die jong literator G Dekker van Potchefstroom geskryf. Gustav Preller het in die inleiding gewys op die historiese belang van “Winternag” wat “triomfantelik” aangehaal is as bewys vir “die bruikbaarheid van ons Moedertaal vir die uitbeelding van ons mees subtiele gewaarwordings.” Van die veelsydige Leipoldt was daar onder meer nog Die Afrikaanse kind in siekte en gesondheid (1920), ’n drama Die heks (1923), en digbundels soos Uit drie wêrelddele (1923) en Skoonheidstroos (1932).
’n Nuwe volkskrywer het in 1925 op die toneel gekom: die gewilde digter-geneesheer AG Visser, wie se vader Kaapse parlementslid was en daarby ondersteuner van die Genootskap vir Regte Afrikaners. Die jong Visser was ’n produk van die Gedenkschool der Hugenoten en het in die Anglo-Boereoorlog in die gevangenis beland – ’n stryery met ’n Britsgesinde. Ook ná sy vrylating het die owerheid hom as gevaarlik en ongewens beskou. Hy het in Skotland gestudeer, in 1916 dokter op Heidelberg geword en intiem met Eugène Marais bevriend geraak. Sy eerste vrou, Lettie Conradie, is in 1920 oorlede – die “Laetitia” van sy gedigte. Sy eerste bundel, Gedigte, het in 1925 verskyn en in 1927 Rose van herinnering. Vir dié twee bundels het hy die Hertzogprys ontvang. Destyds was sy liefdesgedigte baie gewild, maar latere lesers het veral waardering vir sy geestige poësie soos “Toe die wêreld nog jonk was”. Daarin hekel hy die letterlike interpretasie van die Bybel en verplaas hy die Ou-Testamentiese Metusalem-verhaal na die wêreld van die Afrikaner. So leer die jong Metusalem die Step by Step en die Trap der jeugd, en in plaas van “Hoog-Hollands” Hoog-Galdeeus. Die Afrikaner-Metusalem wat in sy jong dae Dinosaurusse tem, gaan tree af in sy dorpshuis naby die kerk en waarsku sy kinders op sy oudag teen “borgstaan en krediet”, drink koffie en rook tabak en peins oor al die knoue wat hy weg het van “wilde-mens- en diergeveg/ En sware koue in die nat/ Vierhonderd jaar gelee gevat.”