Nuwe taalregte

“Majuba laat Afrikanerbond wortel skiet”
May 8, 2015
’n Taalstryder tussen die grotes
May 10, 2015

Die nasionalisme van die 1880erjare het vir die Kaapse Afrikaners een winspunt gebring. Onder leiding van SJ du Toit, JH Hofmeyer, WP de Villiers en TP Theron is druk op die Kaapse regerings uitgeoefen om regte aan Hollands toe te ken. Du Toit en die Patriot het die beweging vir die erkenning van Hollands aktief gesteun en op 27 Mei 1881 is petisies met 5000 name by die parlement ingedien met die versoek om Hollands een van die parlementstale te maak. Ook die NG Sinode het in 1880 besluit ten gunste van die erkenning van Hollands.

’n Voorstel om Hollands vir parlementêre debatte toe te laat, is op 16 Junie 1881 ingedien. Dae lank is daaroor gedebatteer. Die eerste minister, sir Gordon Sprigg, was daarteen. Hy wil die kwaad in die begin teëgaan, het hy gesê. Daarna is nog petisies ingestuur en op 30 Maart 1882 het Hofmeyr dit weer voorgestel. Op 9 Junie 1882 is Hollands naas Engels vir die parlement erken. In die volgende paar jaar het Hollands nog ’n paar regte in die kolonie gekry, maar ’n offisiële taal het dit nie geword nie. ’n Nuwe onderwyswet het die bepaling van 1865 herroep wat die gebruik van Engels as voertaal in skole verplig het. In die praktyk het Engels egter die voertaal gebly omdat die offisiële taal Engels was en die eksamenliggaam, bekend as die University of the Cape of Good Hope, net Engels as eksamentaal gebruik het. Die University het die openbare eksamens vir skole afgeneem.

Intussen het die Afrikanerbond ’n nuwe karakter gekry. Dit het in 1881 en 1882 so vinnig gegroei dat dit ’n bedreiging begin vorm het vir Hofmeyr se Zuid-Afrikaansche Boeren Beschermings Vereniging (ZABBV). Om mededinging uit te skakel, het hy die twee organisasies laat saamsmelt. Vooraf het hy op ’n geheime vergadering van Vrymesselaars hoë Engelse soos parlementslede en die Cape Argus se redakteur, FJ Dormer, ingelig sodat hulle sy motiewe kon begryp. Vyf dae ná die geheime vergadering het hy in Kaapstad ’n AB-tak gestig met homself as voorsitter. Nou kon hy hom vir samesmelting beywer. Op 24 Mei 1883 het die Bond met sy 116 takke op Richmond in die Karoo saamgesmelt met die ZABBV se 16 takke met sowat 2000 lede. Maar hoewel die nuwe organisasie die naam Afrikanerbond behou het, het dit heeltemal ander beginsels en oogmerke as die ou Afrikanerbond gehad. Die Hofmeyr-rigting het geseëvier. Van ’n verenigde Suid-Afrika, ’n republiek of ’n eie vlag wou Hofmeyr niks weet nie; hy was tevrede dat die Engelse minderheid in die Kolonie die politieke leiding neem. Die Bond het ook nie so sterk op taalregte gestaan nie en later het Hofmeyr erken dat die “hooggeroemde” taalgelykheid van die Kolonie eintlik nie ’n feit was nie, maar fiksie.

Hoewel Hofmeyr nie anti-Afrikaans was nie, was hy die Afrikaanse beweging nie goedgesind nie. Hy het gemeen dat dit tot verbrokkeling van kragte en mislukking van die taalstryd sou lei. Wat teen die Afrikaanse beweging getel het, was skinderpraatjies teen SJ du Toit. Sy oormatige kritiek op veral kerksake het hom ook by party volgelinge ongewild gemaak. Boonop is hy in 1882 na Transvaal, wat sy invloed in die Kaap laat afneem het.