Nuwe name vir nuwe sake

Verkenning van die land
February 3, 2015
Die lewe in die kolonie
February 5, 2015

Cango Caves

Met die verkenning van die land en sy diere en plante het daar ’n behoefte aan nuwe name ontstaan. Soos reeds vermeld, is bestaande name soms oorgeneem. So is Kango ’n verminking van Khoi-woorde wat “die vallei tussen die heuwels” beteken.

In die Kango is een van die mooi natuurverskynsels van die land in 1780 ontdek: die wonderlike kalkklipgrotte in die Swartberge digby die huidige Oudtshoorn. Die grotte, vandag bekend as die Kangogrotte, was op ’n plaas met die naam de Combuys aan de Cango, die eiendom van Hermanus Steyn. Die ontdekker was moontlik ene Van Zyl. Hy het dit per ongeluk gevind terwyl hy ’n bokkie agtervolg het wat in ’n grot gaan skuiling soek het. Volgens ’n ander bron was die ontdekker ’n veewagter van Van Zyl wat beeste gesoek het. Van Zyl is met ’n tou laat sak in die gat wat die beeswagter gesien het.

In die 17de en 18de eeu is tallose nuwe woorde vir die nuwe plante en diere, die boerdery en die maatskaplike lewe geskep. Die koloniste het aanvanklik soms Nederlandse benamings wat eintlik nie toepaslik was nie, vir nuwe plante en diere gebruik. Die gevolg is dat Afrikaans soms name gekry het wat vir heeltemal ander plante of diere gebruik is as die Nederlandse benamings. Die Afrikaanse patryse lyk so veel op die Europese dat dit heeltemal natuurlik is dat die Suid-Afrikaanse voëls die Nederlandse naam gekry het. Nou word die groter voëls by ons fisant genoem, terwyl wat in Nederland onder fazant verstaan word, ander voëls is. In Nederland is die vink lid van die Fringillinae, waartoe ook die mossie behoort, terwyl die vinke by ons veel groter voëls is wat behoort tot die Ploceidae. Ons tier is in Nederlands ’n panter of luipaard, terwyl die dier wat in Nederlands tijger heet, hier nie voorkom nie.

Party van die baie wetenskaplikes wat die Kaap besoek het, meld ook die name wat die koloniste aan plante en diere gegee het. Die Sweedse plantkundige A Sparrman wat in 1772 en 1776 aan die Kaap was, gee Kaapse benamings soos ijzervarken, tijgerkat, klipspringer en strandwolf. Hy het ander interessante dinge opgemerk: “Die slawe noem alle Christene baas, veral die opsieners en huishere.”

Die reeds vermelde Franse reisiger, Francois le Vaillant, skryf dat die kinders hom “oom” genoem het en die mans “neef”. (MHK Lichtenstein meld weer dat mense hulleself neef of niggie genoem het.) Le Vaillant sê dat die mans hom met ’n handdruk ontvang het, die vroue met ’n soen. Dadelik ná sy aankoms is tee aangebied, en as die tafel gedek is, is die vreemdeling genooi om saam te eet. Ook is dit as vanselfsprekend beskou dat hy die nag onder hul dak deurbring. Vaillant het die boervroue aan die grens bewonder. Hulle het net so onverskrokke as die mans geveg teen wilde diere en vyande. Hy vertel van ’n weduwee wat haar plaas alleen bestuur het. Wanneer die San haar beeste bedreig, het sy op haar perd gespring en nie gerus voordat hulle verwilder is nie. Op ’n ander plaas het die 21-jarige dogter haar pa op togte vergesel.