Nuwe biografiese besonderhede oor Simon van der Stel

Hessel sterf aan kanker
July 6, 2018
Afrikaanse Liedjietuin: Blommetjie gedenk aan my
July 7, 2018

In die dokumente van die Kompanjie is biografiese besonderhede uiters skamel. Dit geld nie alleen vir Van der Stel nie, maar vir al die amptenare aan die Kaap. Soms het besoekers aanvullende werk gedoen. So het P. Kolbe in sy Caput Bonae Spei Hodiernum heelwat gegewens verstrek. Ongelukkig was hy geen onpartydige waarnemer nie. Wilhem Adriaen van der Stel het hom in die Resolusies ’n leegloper genoem en hom voor die keuse gestel om óf die Kaap te verlaat, óf die pligte van ’n vryburger op hom te neem. Kolbe het die Kaap verlaat, maar hom in sy geskrifte op die Van der Stels gewreek. George McCall Theal was hom hiervan bewus en het in sy Willem Adriaan van der Stel and Other Historical Sketches gewaarsku “that the account of Pieter Kolbe in his Caput Bonae Spei Hodiernum is so distorted by his bitter animosity towards Simon van der Stel as well as towards his son Willem Adriaan that no reliance can be placed upon it.” Ongelukkig het Theal nie besef in hoe ’n mate A.J. van der Aa in sy Biographisch Woordenboek der Nederlanden wat in 1874 verskyn het, uit Kolbe se mededelinge van 1719 geput het nie.

In 1933 het dr. F.W. Stapel in die IXde deel van die Nieuw Nederlandsch Biographisch Woordenboek baie van hierdie foute reggestel. Hy het besef dat Simon se moeder Maria Lievens was, dogter van seekaptein Hendrik Lievens en ’n inlandse vrou, Monica da Costa. Moontlik was hierdie ouma van Simon op haar beurt die dogter van ’n Portugese vader, Da Costa, en ’n inlandse vrou. Daaroor het ons nog geen helderheid nie. Dr. Stapel was egter die eerste om daarop te wys dat Simon van der Stel tot 1659 in Batavia bly woon het, voordat hy na Amsterdam gegaan het om daar sy studies te voltooi.

Foto: Die stadjie onder die berg tydens die bewind van die Van der Stels (Kaapse Argief)

Oor daardie jare van 1660 tot 1679 in die Republiek van die Vereenigde Nederlanden was nie veel bekend nie. Nadat die adjunct-archivaris van die Gemeente Archief van Amsterdam, dr. Simon Hart, verskeie dokumente ontdek het, kan ons ’n beter beeld van Simon van der Stel se lewe in Europa rekonstrueer. Oor sy eerste drie jare in Europa kon niks gevind word nie. Waarskynlik het hy sy vrou, Johanna Jacoba Six, ontmoet deur sy omgang met haar stiefpa, Jean Mariau, seun van Pierre Mariau, wynkoper van Amsterdam. Uit twee dokumente van 3 en 28 Julie 1658 blyk dat Johanna Jacoba Six se moeder, weduwee van Willem Six, met Jean Mariau hertrou is. (Gemeente Archief: D.T. & B 478, fol. 450 en D.T. & B. 1002, fol. 143). Simon van der Stel se eie akte van oudertrou staan opgeteken in D.T. & B 484, fol. 514. Daarin word meegedeel dat “Simon van der Stell, van ’t eijlant Mauritius” op die Fluweleburghwal gewoon het en op 29 September 1663 met Johanna Jacoba Zix van Haarlem, in die huwelik gaan tree. As predikant het Simon Hellius, van Haarlem die dokument onderteken. Die huwelik het op 23 Oktober 1663 plaasgevind en die drie oudste kinders is in Haarlem gedoop: Wilhelmus Adrianus op 24 Augustus 1664, Adriaan op 29 September 1665 en Catelina op 31 Augustus 1667; die jongste drie seuns in Amsterdam. Theal het die name van Simon se ses kinders korrek weergegee, maar dr. F.W. Stapel het in die Nieuw Nederlandsch Biographisch Woordenboek geskryf dat Lodewyk ’n seun van Simon van der Stel was. Hoewel daar ’n Lodewyk in die Resolusies van die politieke Raad voorkom, kan geen dokumentêre bewys gelewer word dat hy ook ’n seun van Simon van der Stel was nie.

Wat die dokumente in die Amsterdamse stedelike Archief betref, is daar ’n paar waarin wel die naam van Simon van der Stel voorkom, maar waarin ons niks van sy karakter en persoonlikheid leer nie. So gee Simon van der Stel aan Roeloff van Hooijas opdrag om hom in regte te verteenwoordig in die prosesse vir die Skepene en Kommissarisse van Kleine Sake in Amsterdam (Not. Arch. no. 2227, Acte no. 376 van notaris Adriaen Lock). Of hy self sitting gehad het in hierdie hof of slegs opdrag gegee het om iemand se saak waar te neem, word nie vermeld nie. Die dokument is op 14 Junie 1668 onderteken en ons weet daaruit dat Simon toe in Amsterdam gewoon het: Uit die dokument van 15 Junie 1666 (Not. Arch. no. 2294/4, 5.), afgesluit by notaris Jacob van Winter, woon Simon nog in Haarlem en het hy Jan Harmens en Willem de Ia Meer gevra om te getuig dat Gabryal de Ia Salle en sy vrou slegte mense was wat hulle met koppelary bemoei het. Hieruit blyk ook dat hy dit gedoen het om ’n vriend te help.

Foto: Dokument van 30 September 1675, onderteken deur Catelina Hinlopen, Simon van der Stel se skoonmoeder, Frans en Willem Six, sy swaers, Cornelia Six, sy skoonsuster en andere (Kaapse Argief)

Die eerste dokument wat Simon van der Stel se persoonlike lewe belig, is ’n notariële akte van 22 September 1670. (Not. Arch. 2234/190). Hieruit blyk dat Simon van der Stel op 22 September 1670 na sy notaris, Adriaan Lock, gegaan het om te kla oor die gerugte wat sy skoonmoeder besig was om te versprei dat hy met “Johanna Jacoba Six sijn huijsvrouw … seer qualijck soude leven, deselve ter aerde werpen, slaen, schoppen en stootende, mitsgaders een bloot mes op de keel setten ende andersints onfatsoenelijck bejegenen ende tracteren”. Al daardie dinge het sy skoonmoeder konsuis van Geesje, ’n diens bode van die Van der Stels, gehoor. Verontwaardig wou Simon weet of sy by dergelike stories sou volhard. Dié vraag is mondeling aan haar gestel en beide partye het besluit dat alles op skrif gestel sou word. Daardie stukke, indien hulle ooit geskryf is, het nog nie aan die lig gekom nie. Dis egter duidelik dat daar nie ’n baie goeie verstandhouding tussen die Van der Stels kon gewees het nie. Die skinderstories van die diensbode was waarskynlik baie oordryf, maar uit ander bronne weet ons dat Simon baie driftig van geaardheid was, en die veronderstelling is nie baie ver gesog nie dat sy vrou wel eens die slagoffer van daardie drifbuie kon gewees het.

Dikwels kry ’n bron eers betekenis wanneer dit naas ander bronne geplaas word en die gegewens uit verskeie bronne met mekaar vergelyk word. So is dit interessant om te ontdek dat Simon van der Stel reeds in Nederland groot belangstelling vir land- en wynbou aan die dag gelê het. Dit blyk o.a. uit die kontrak wat hy op 1 Desember 1671 met Johannes von Rieden afgesluit het (Vgl. Not. Arch. 2237/832). In hierdie kontrak het Van der Stel die grond wat hy by Muiderberg besit het, vir ’n tydperk van 8 jaar verhuur. Van die onryp druiwe moes brandewyn gedistilleer word. Uit ander bronne blyk dat Van der Stel ook grond by die Starnmeer, in die Beemster en in die Wieringerwaard gehad het. Die liefde vir grondbesit en respek vir die werk van die boer, asook kennis van die boerdery, het reeds hier ontwikkel en ongetwyfeld het hy ook sy kinders, hoewel hulle stadskinders was, van jongs af die werk van ’n grondbesitter leer respekteer. Later sou dit blyk uit die lewensloop van Wilhelm Adriaen, Adriaan en Frans.

Die oorlogstydperk wat in Maart 1672 begin het en in Augustus 1678 beëindig is, lewer heelwat bronne oor die doen en late van Simon van der Stel. Die eerste dokument uit hierdie tydperk is, heel gepas, ’n testament, onderteken op 3 September 1672. Die toestand was haglik. Turenne en Condé het met 120,000 troepe die land binnegeval. Utrecht het in Junie in hul hande geval en net ’n deel van die land kon deur oorstroming van die laagliggende dele gered word. Daar het paniek geheers. In Den Haag is Johan en Cornelis de Witt op 27 Augustus 1672 vermoor. In Amsterdam het Simon van der Stel gehelp om die orde te herstel en was hy een van die regters wat onder Jacob Bicker vier soldate weens verraad ter dood veroordeel het. In die testament word iets van die stemming wat in daardie dae geheers het, weerspieël, want daarin word selfs voorsiening gemaak vir die vererwing van goedere vir geval die hele gesin uitgewis sou word. In daardie geval sou Cornelia Six en haar “descendenten” alles erf. Die testament is onderteken in die huis aan die Keisersgrag, waar Simon en sy gesin gewoon het (Not. Arch. 2177/140).

Foto: Deel van ‘n dokument waaruit blyk dat “Den Heer Commandeur van der Stel” op reis na die Kaap vergesel is van “Juffrouw Cornelia, zijn suster… Sr. Mariauw, de Hrs. Neeff, Willem en Adriaan van der Stel, beijde de Hrs. Zonen”. Aan die tweede tafel het gesit “Juffr. Van der Stel, de Hrs. Dochter Juff. Maria, de Hrs. Nicht, Frans, Hendrick en Cornelis van der Stel, alle drie zonen van de Hr. en een dienstmeijt van de Jffr.” (Kaapse Argief)

Behalwe hierdie testament is nog ses stukke uit die oorlogsjare in die Gemeente Archief van Amsterdam opgespoor. Die akte wat “Sijmon van der Stel” op 29 Maart 1673 onderteken het (Not. Arch. 2241/695), beskryf hom as “Capiteijn ten dienste van de lande woonende binnen deser stede”. Waarskynlik het hy op die punt gestaan om te vertrek, want in ’n ander dokument staan dat hy in 1673 met sy kompanjie in Muiden, een van die sleutelpunte in die verdediging teen Lodewyk XIV se leërs, gestasioneer was. In elk geval kry sy vrou hier volmag om sy sake te behartig. Sy moes veral sorg dat ene Jan Wolffsenbergen, skout te Putten, gewese gevangene van Simon van der Stel, en sy borg, Ellardus van Megen, hul verpligtinge sou nakom, want hulle het belowe om vir rantsoen of verlossing te betaal aan Simon f1000 en drie van die grootste skepe met brandhout, aan sy luitenant en vaandraer f100 elk, en aan sy soldate, 80 in getal, ’n nuwe pak klere. Bowendien moes hulle nog aan hom ’n goue tabakdoos gee, waarvan die gewig vasgestel is op 5 lood of 5.6 ons. In die dokument van 12 Mei 1674 (Not. Arch. 2244, pp. 102 – 105) kry sy vrou weer eens volmag om sy sake waar te neem: skulde in te vorder asook rente van lande, huise, rentebriewe, verbande en hipoteke. Tewens mag sy huise, lande en rentebriewe verkoop en die erfgeld van haar vader ontvang. Die dokument van 24 Januarie 1675 (Not. Arch. 2248, pp. 191-193) bevat gegewens oor die finale afhandeling van Willem Six se boedel, terwyl die dokumente van 31 Oktober 1674 (Not. Arch. 2245, p. 477) en 29 Julie 1677 (Not. Arch. 2252, p. 722) onderskeidelik reëling in verband met die verhuur en verkoop van grond bevat. Die dokument van 24 Januarie 1675 (Not. Arch. 2246, pp. 216-218) werp nog die meeste lig op Van der Stel se bedrywighede en karakter as soldaat. Daaruit blyk dat terwyl Simon met sy kompanjie in garnisoen te Muiden was, ene Jan Poulus die kontrak gekry het om die soldate van voedsel te voorsien op voorwaarde dat hy geen brandewyn of sterk drank aan die soldate sou lewer nie. Aangesien hy hom nie aan dié voorwaarde gehou het nie, het Simon van der Stel geweier om die reëling in verband met betaling na te kom. Tewens word sy vaandrig. Adam Carpentier, ter verantwoording geroep omdat hy kaas wat hy uit die pakhuis by Nieuwersluis ontvang het om aan die soldate uit te deel, verkoop en die opbrengs in sy sak gesteek het. Wangedrag soos hierdie kon Simon van der Stel nie deur die vingers sien nie. Dit blyk weer eens tydens sy reis na die Kaap. Deur die rusie wat as gevolg van sy optrede teen oneerlikheid ontstaan het, het dokumente bewaar gebly waaruit blyk dat al ses sy kinders met hul tante, Cornelia Six, saam met hom na die Kaap gegaan het.

Foto: Deel van ‘n dokument van 23 Maart 1679 waaruit blyk dat Joan Bax van Heerental ‘n neef van Simon van der Stel was (Kaapse Argief)

Toe die gesin sonder hul moeder Texel op 21 Mei 1679 verlaat het, was Van der Stel beter vir sy taak voorberei as wat ons voorheen besef het. Hy het die Ooste goed geken, maar het dit nie soos ander amptenare as die Mekka van die wêreld beskou nie. Uit geen enkele dokument blyk dat hy ooit verlang het om na die Ooste terug te keer nie. Die jare wat hy in die Republiek van die Verenigde Nederlande gewoon het, het hom in alle opsigte vir sy taak aan die Kaap voorberei. Deur sy huwelik het hy in die kringe beweeg waaruit leiers gekies is. Sy voorganger aan die Kaap, Joan Bax, was sy neef. In die oorlogsjare het hy gewoond geraak om te beveel en het hy geleer hoe om met die gewone soldaat om te gaan, die klas waaruit die meeste amptenare en baie van die burgers aan die Kaap gekom het. Bowendien was hy boer en sakeman. Die druiweteelt het hom besonder aangetrek. Hy kon wyn en brandewyn maak en toe hy op 12 Oktober 1679 aan die Kaap gekom het, het dit spoedig geblyk dat hy vindingryk en veelsydig was. Binne tien jaar was die resultate van sy werk sigbaar: Stellenbosch, Drakenstein, Paarl en Franshoek was op die kaart. Sy eie huis op Constantia was gebou, ’n voorbeeld wat deur burger en amptenaar nagevolg is. Nuwe wingerde en akkerbome het die land verfraai. Die Kaap het sy tuiste geword. Afrika het sy verbeelding aangegryp en het die land geword waar sy talente ten volle kon ontplooi.

Foto: Constantia en Falsbaai wat alles aan Simon van der Stel behoort het. ‘n OU tekening deur E van Stade

Bron: Böeseken, A.J. 1964. Lantern, Desember: 66-69.