Nuwe beleid oor onderwystaal

Selfbestuur vir Transvaal en die Vrystaat
January 23, 2015
“Groote overwinning”
January 23, 2015

In Transvaal was die regerende Afrikanerparty Het Volk onder generaal Louis Botha. Dit het met 36 setels ’n absolute meerderheid verkry oor die Britsgesinde Progressiewe met 21, die Responsible Government Party 5, die Arbeiders 3 en onafhanklikes 2. In die Vrystaat het die Oranje-Unie van generaal JBM Hertzog 31 setels, die Britsgesinde Konstitusionele Party 4 en die onafhanklikes 3 setels verower.

In Transvaal het generaal JC Smuts minister van onderwys geword. Hy het in 1907 ’n onderwyswet laat aanneem wat in sommige opsigte uitstekend was, maar ten opsigte van die taal met teleurstelling en selfs verontwaardiging ontvang is omdat Hollands en Engels nie op gelyke voet behandel is nie. Die voertaal was in die laer klasse die moedertaal, maar Engels is geleidelik ingevoer. Kennis van en vordering in Engels was ’n voorwaarde vir vordering op skool. Ná standerd 3 (tans graad 5) sou Hollands nie die voertaal van meer as twee skoolvakke wees nie, terwyl Engels verpligtend sou wees. Aangesien die staat nie private skole sou subsidieer nie, het dit die einde van die CNO-stelsel beteken. Verskeie Afrikaners het die wet gekritiseer. Onder hulle was professor Jan Lion Cachet. Volgens hom sou die Smuts-wet onder meer lei tot die tersydestelling van die moedertaal. Cachet was dus een van die eerste 20ste eeuse Afrikanerintellektuele wat ’n Afrikanerpolitikus in die openbaar gekritiseer het.

Generaal Hertzog het die Vrystaatse onderwyswet ingedien. Tot en met standerd 4 (graad 6) sou onderwys geskied deur die taal wat die kind die beste praat en verstaan. Daarna sou albei tale aan elke kind onderwys word. Tot by matriek moes minstens drie ander vakke in elk van die twee tale onderrig word. Die gelykstelling van die twee tale het bittere teenstand van Engelssprekendes uitgelok. Mense van oor die hele land het die stryd met belangstelling gevolg en generaal Hertzog het al hoe meer op die voorgrond begin tree as die kampvegter vir gelyke taalregte. Dit was juis die verontagsaming van taalregte wat hom aan die politiek laat deelneem het. Hy het in 1903 in die Bloemfonteinse poskantoor opgemerk hoe swak Afrikaners behandel is omdat hulle nie in hul eie taal bedien kon word nie.

Hertzog en president Steyn was die verteenwoordigers van een van die drie koerse wat Afrikaners volgens GD Scholtz ná die oorlog ingeslaan het. Die eerste koers was dié van die Afrikanernasionaliste. Hulle het hulle met moeite aan die veroweraar onderwerp, wou slegs Afrikaners wees, wou getrou bly aan hul taal, kultuur, tradisies en godsdiens, en was bereid om die stryd vir die behoud daarvan aan te knoop. ’n Tweede koers was dié van mense wat bereid was om hulle aan die proses van anglisasie te onderwerp en geestelik heeltemal Brits geword het. Die derde koers is gegaan deur mense wat hulle onderwerp het aan omstandighede wat na hul mening nie verander kon word nie. Hulle het die beste van die saak probeer maak en het so min as moontlik ’n stryd aangeknoop. Maar hierdie groep het al hoe meer na die eerste groep oorgehel. Tot die derde groep het manne soos Botha en Smuts behoort.