Nuwe letterkundige beweging
January 23, 2015
Eugène Marais
January 23, 2015

NP van Wyk Louw het mettertyd die sentrale figuur in die Afrikaanse letterkunde en kultuurlewe geword. Die Engelse skrywer Guy Butler sou hom later noem “the greatest poet our complex society has yet produced; and one of the most sensitive and conscientious thinkers on such key issues as the relationship between language, culture and nationalism.” Die skrywer Karel Schoeman noem Louw “Suid-Afrika se grootste digter en een van die min figure van wêreldformaat wat die land nog opgelewer het.”

Louw is op 11 Junie 1906 gebore op Sutherland waar sy vader prokureur was. In 1920 is die Louws na Kaapstad, waar Louw sy opleiding aan die South African College School en die Universiteit van Kaapstad gekry het. In 1929 was hy tydelike dosent en van 1930 tot 1949 lektor in opvoedkunde aan die Universiteit van Kaapstad. Hy het bekend geword met sy digbundels Alleenspraak (1935) en Die halwe kring (1937). Die Nederlandse digter-literator, HA Mulder, het gesê dat Louw met laasgenoemde bundel die moderne Nederlandse poësie ewenaar, wat in dié tyd tot die beste ter wêreld gereken is.

Party letterkundiges het Louw se werk lank misken en bespot. ’n Uitsondering was G Dekker van Potchefstroom wat die eerste Afrikaanse literatuurgeskiedenis geskryf het. Onder die Dertigers was Louw die onbetwiste leier. Sy opstel “Die rigting van die Afrikaanse letterkunde” (1936) het groot invloed uitgeoefen op die denke oor die Afrikaanse letterkunde. Die skrywer se woorde moet so eerlik wees as sterfbedwoorde; “alles, maar ook alles wat die moderne mens roer, wat sy vreugde of sy smart maak, moet in ons literatuur sy neerslag kry”. Sy eerste opstelle is in 1939 gebundel in Berigte te velde en Lojale verset. Dit gee blyk van ’n universele gees, maar is terselfdertyd sterk nasionaal. So formuleer hy, in samehang met aantekeninge oor die kunstenaar se angs, vertwyfeling en fanatisme een van die bestaansvoorwaardes van klein tale: die strewe om ’n volk met ’n eie taal te bly, kan net geregverdig word “deur die rykdom van onvervangbare waardes wat ons in dié taal voortbring”.

Vir hom is ’n volksbeweging “alleen ’n tegniese middel om ’n gestelde doel te bereik, maar dit is die kultuurskepper wat reg aan die doel, en dus aan die beweging, gee. Kultuur en politiek moet saamwerk soos oog en hand; sonder die politieke beweging is die kultuur soms nie by magte om sy pad te baan nie, maar sonder die kultuur is die politieke beweging altyd bloot ’n blinde gryp na mag.” Dat Louw as die grootste digter van sy tyd “onherroeplik verbind” was met “dié ding wat ons ’n ‘volk’ noem” (sy eie woorde in later jare), het help sorg dat Afrikanerintellektuele lojaal gebly het aan hul volk. Hy het in 1934 lid van die Broederbond geword.

Nog twee Dertigerdigters was Elisabeth Eybers en Uys Krige. Krige was lank in Spanje; by sy terugkeer kon hy nie by die “Gesuiwerde” koerant Die Burger werk kry nie, en is toe na twee “Smelter”-dagblaaie, eers Die Vaderland, toe Die Suiderstem. Hier het hy van politieke sienswyse verander en die Verenigde Party begin steun. Binne die Dertiger-dampkring was ook die prosaskrywer Hettie Smit met haar opsienbarende Sy kom met die sekelmaan.