‘n Nuwe klipmonument vir oom Paul
September 28, 2018
Hulde aan Samuel Henri Pellissier op sy negentigste verjaarsdag
September 28, 2018

’n Herinnering

Om oor Van Wyk Louw ’n herinnering te skrywe “sommer soos ek hom geken het,” is onmoontlik. Niemand kon Van Wyk Louw sommer ken nie. Daarom moet ek vooraf vergewe word: omdat ek hom nooit sonder betrokkenheid kon ken nie, en omdat herinneringe altyd persoonlik, driekwart onherhaalbaar, en altyd deur ’n enkele bril gekleur is. Herinneringe kom so dikwels van mense wat meer dink dat hulle verstaan as wat hulle werklik verstaan het, wat meer hoop dat hulle aanklank gevind het as wat dit uit hul eie kleinheid moontlik was. En: elke paar oë kyk anders na ’n veelkantige mens. Mens kyk maar teen ’n enkele faset vas en deur al die straalbrekinge heen probeer jy die ander, die binnefasette, raaksien, totdat jou oë self moedeloos word van staar.

Mens sou natuurlik sy bydrae tot die Afrikaanse literatuur en kultuurlewe kon oorweeg, want dié bydrae en die aard daarvan sê ook al iets van die man self. Uit sy werk blyk immers ’n buitengewone talent, en hy was verantwoordelik vir die mees deurslaggewende vernuwings in die Afrikaanse letterkunde: soos Dertig, waarvan hy die leier was, of die invloed van sy latere werk soos Nuwe Verse en Tristia, of die wyse waarop hy die kritiek telkens nuwe rigtings kon Iaat inslaan deur sy literêr-teoretiese opstelle. Dít sê al heelwat van die man, net soos die wyse waarop hy in sy opstelle aan ons nasionalisme ’n sin kon gee en daar iets adelliks van maak, iets van die mens Van Wyk Louw sê.

Foto: N.P. van Wyk Louw in sy studeerkamer in Johannesburg afgeneem

By ’n herinnering wil mens nie hierdie bekende dinge betrek nie, jy wil liewer vra: Hoe het ek van die waarde van die man bewus geraak by die bekende feite verby? En dan weet jy nie, kan jy net vermoed dat dit op vele wyses tegelyk moes geskied het. Jy onthou hoedat sy poësie op ’n dag skielik by bot onderwysers of professore kon verbypraat en iets uit die woorde laat skemer wat soos ’n besef in jou kom sit het. Al het jy toe nie goed verstaan nie, net soos jy nou nog maar half begryp, het jy verstrik geraak in die gedagtes, vrese en menslikheid van die poësie, in die mooi selfs van ’n reël. Jy het begin weet van die mooi waaroor mens nie praat nie.

Dan die man self. In die klas op Wits. ’n Man wat rustig uit ’n wye belesenheid praat en dit eenvoudig en helder doen soos net iemand wat goed verstaan kan: eenvoudig en helder. Jou verbasing – dié kan jy onthou – voor iemand wat tog oor die dinge praat sonder om in terminologie te verdwyn of met die aangehaalde wysheid van ander die argument vertroebel. Mens word bewus van so ’n vreeslose maar versigtige denkpatroon.

Dié indrukke het seker opgestapel en mettertyd ’n beeld kom vorm, ’n gekleurde beeld, en ’n beeld wat mens net nie meer van die naam of die werk kon Iosdink nie, al moes jy dit as vakman probeer doen, of as herinneringskrywer probeer omseil. Die gesprekke wat mens voer met die medemens by wie jy die masker bietjie kan lig en jouself kan wees, die gesprekke oor liefde, of mooi, of God, dié kan in elk geval nie later in herinnerings neergeskryf word nie. Eienaardighede kan interessant wees, maar dié is skeef en onregverdig.

Ek kan een ding onthou wat hy nie kon verdra nie, letterlik nie kon verduur nie: dat sy Afrikanerskap of volksverbondenheid in twyfel getrek word. Sy heftigste reaksie wat ek ooit meegemaak het, was juis toe hy gedurende ’n polemiek as links en nie meer Afrikaner nie uitgemaak is. “Hoekom skryf ek nog vir hulle?” het hy gevra, terwyl hy tog weet het dat dit nie anders kon nie, selfs, dat hy dit nie anders wou nie.

Sy verbondenheid met die Afrikaner en sy mense was diep in hom, al was dit ’n volk van wie hy soms met ’n glimlag moes sê: “Lyk nie my ons is nog nie só ver voor Ghana nie.” Daar was juis vir my iets van waarde in die wyse waarop hy sy volk met foute en al kon liefhê, soos mense, so lyk dit my, moet liefhê: nie ’n geïdealiseerde beeld van wat jy hoop jou mense is nie, maar hulle soos hulle is, mét foute, met skeefhede, met irriterende hoedanighede. Lief wees vir jou mense is meer as die goedpraat van hul dade of die idealiseer van hul gewoontes. Die goeie realistiese liefde is meer as die liefde van dié wat nie wil aanvaar nie, maar wat wil toeskryf wat nie bestaan nie, of gedurig die prentjie wil regteken.

Daarom betig ’n digter soms as hy eerlik is, kom hy in verset teen sy mense, maar steeds met verbondenheid, steeds as deel van die volk, van binne af uit, en altyd met liefde.

Foto: Die digter en sy hond in die tuin van die Louws se destydse woning in Parkview

Die tweeledigheid van liefde en betigting staan in al sy boeke: in die verset wat tog lojaal moes wees, in die wyse waarop selfs die liefde nie sonder ironie bedryf moes word nie. Die saamvoel van die digter is steeds daar, maar steeds gepaard met kritiek, ironie, spot. Die maat waarmee gemeet word, is dié van die digter, dit is die ánder etiek wat soveel sondes om die menslikheid kan vergewe, selfs die dood kan vergewe, maar nooit die skynheiligheid, die onegtheid, die onetiese middel tot die heilig-gerasionaliseerde doel nie.

Die weersin in die wit graf was by Van Wyk Louw nie deurdink of van die brein nie, dit was uit die pit van sy menswees self.

Ten spyte van die volksgebondenheid – en in ons geval is volks- en taalgebondenheid al amper volledig sinoniem – is daar steeds ’n aantal plekke waar die moontlikheid van misstand tussen volk en digter maar alte groot is. Misverstand kom dan ook heel dikwels van die volk se kant af. Dié faktore bring dit mee: die digter skryf so dikwels buite die idioom van sy tyd dat sy idioom eers ’n geslag later volkome begryplik, alledaags en dus volks word; die digter moet met profete-eerlikheid juis oor die dinge praat wat in die gesprek en die volkstoespraak taboe is; die digter – so is dit meestal – sal ook sy eie persoonlike lewe op eiesinnige wyse voer en etiese dinge nastreef wat by die kleinburgerlikes verbygaan. Hy sal dalk sonder om ’n oog te knip sondes pleeg wat die gemeenskap tot doodsonde reken.

Van Wyk Louw het seker in baie oë gesondig: politiek, in sy persoonlike lewe, in die dinge wat hy in die ritse polemieke waarin hy betrokke was, moes sê. Hy het ook al die standaardverwyte moes hoor: dat sy werk duister is, dat hy dinge gesê en geskryf het wat liewers tog nie moes nie. In elke geval net hy maar by die aanhoor van die verwyte gemaak soos digters behoort te maak: hy het met histories persspektief daarna gekyk en geweet dat eietydse duisterheid verbygaande dinge is, omdat die dispuut van die duisterheid so oud soos die berge is, maar deur elke geslag digters opnuut gestry moet word as hulle hul sout werd is; dat die polemiek oor die werklike waardes in die kuns en die lewe gevoer moet word al weet die digter hy kan die stryd maar gedeeltelik wen omdat sy waardes anders is as dié van die massa. Die misverstand Iê hier: dat iemand soos Van Wyk Louw juis in dié onegtheid sy teenstander vind en dan met weinig hoop op finale sukses moet stry teen wat meestal die rasionalisasies en borswerinkies is van mense wat nie alleen nie meer eerlik en openhartig wil dink nie, maar ook soms nie meer kán dink nie.

Die ou stryd teen die Fariseërs dus.

“Dink u u sal hulle ooit oortuig?” vra ek hom op ’n keer toe hy soos altyd gedurende ’n polemiek sit en tob oor argument en teenargument.

“Nee,” sê hy.
“Nou hoekom..?”
“Ander mense lees. Hulle moet nie net een standpunt ken nie. Al weet ek mens kan nie sout op alle slakke strooi nie…”

Ook oor ander dinge het hierdie benadering geblyk :

Formalisme was taboe, die talentlose korrektheid van taalkundiges onhoudbaar:

“As één van hulle maar ’n styltjie gehad het.”

Voorskrifte en die té noukeurige navolg daarvan, gewoon dom:

“Wanneer verstaan die mense tog ’n komma is daar om gebruik te word, nie net om neer te sit omdat hy juis daar moet kom nie.”

Die Akademie het te veel na establishment gelyk en die reëls al bietjie baie:

“Die spelreëls word ook al langer as die Evangelies …”

Die oorformele skryfwyse van die literatore was irriterend:

“Laat jou grappies in jou proefskrif bly. Dalk leer iemand dat die letterkunde maar baie min boordjie dra.”

Geestigheid, ironie, liefde. Hulle was altyd in hom, selfs in sy soms onnodig-skerpe uitspraak oor mense. “Dié man,” sal hy sê, “het nog nooit ’n oorspronklike gedagte deur sy kop voel borrel nie,” of oor ’n professor wat oor die radio oor metrum praat maar nie die verse reg voorlees nie: “Hy’s nou ’n professor vir musiek wat met een vinger kan speel.”

Soms was sy oordeel oor mense te gou, te finaal na my smaak, juis omdat hy in sy vak ’n hekel aan die ondeurdagte gehad het – ook in die grootdoenerigheid.

Foto: Prof. Van Wyk Louw en sy eggenote, Truida Pohl, werk saam in sy studeerkamer ter voorbereiding van die plaatopnames wat daar van sy werk gemaak is

Maar kyk mens na ’n groot mens soos Van Wyk Louw, sal jy altyd die grootheid raaksien, selfs waar jy nie meer kan saamstem nie. Mens moet toegee vir die menslikheid. Ook vir die lyf en sy swakhede en vir die sonde in almal van ons en dus ook in ons grotes. Miskien beduie die menslike foute ook al weer iets: dat ’n digter soos Van Wyk Louw groot na ons kan kyk en namens ons kan kyk en tog saam met ons moet klein wees om ons tafels en in ons beddens en in ons heerlike kwellende vleesgebondenheid.

Terwyl ek die woord “groot” vir Van Wyk Louw gebruik, wonder ek weer of ons nie besig is om onsself te oorskat nie. Ons is klein. Dig ons die grootheid te maklik toe, kan ons al weet van groot, terwyl ons nog so min eie toetsstene het? Uit die ou dae Kruger dalk? Of sal mens ’n eerste minister of wat moet byreken, of durf byreken? Sommige van hulle moes seker deur die klein politiek só boontoe beur dat hulle nie altyd kon kyk waar hulle trap nie? Ek weet nie. Elkeen het dalk ’n aanspraak. Maar oor hoeveel eeue kan dit strek voordat hulle stilraak, voordat hulle akademiese name word wat onthou word deur ’n spesialis-historikus, ’n gebou of pad hier en daar, ’n graf soos ons almal, maar darem in die heldeakker waar die tydgenootlike oordeel hulle geplaas het.

As ’n mens in eeue dink? Wie se eeu gaan hierdie word? Elke eeu behoort aan iemand. Kyk maar langs hulle af, kyk watter name spring boon toe: ’n komponis, ’n staatsman, ’n skrywer, dalk twee of meer saam. Die geskiedenis deel dikwels die lakens anders uit as wat die tydgenote dit wil. Soms het die tydgenootlike gelyk, soms nie, en in die kunste het die tydgenootlike oordeel ’n vreemde op-en-af, ’n lukraakheid, ’n soort oor-en onderskattingsisteem wat mens alleen bewus laat van die onbetroubaarheid van die sisteem self.

Nou noem ek Van Wyk Louw groot. Kan ek hom dié eeu gee? Selfs as tydgenoot moet ek, al is dit dan tot 1970 en in die literatuur. Selfs as tydgenoot moet ek glo in my oordeel, soos al die tydgenote voor my, want ons leef nooit anders as tydgenootlik nie. Ten regte, ten onregte. Die voor my het nie geweet toe hulle foute begaan of gelyk gehad het nie. Ek twyfel aan my oë in die vals lig van my eie hede, aan my oordeel oor die man wat ek hier groot noem, veral omdat dit ’n man was wat ek nie anders kon as om lief te hê nie.

Ek weet ook: grootheid is meer as liefde of menslikheid of godsdiens of verbondenheid, of talent, of vooroordeel, of wysheid of slimheid, of humor, of ironie, of leierskap, of invloed, of verbetenheid, of geloof, of groot dade. Grootheid is meer: dis al dié dinge of gedeeltes daarvan in een gees en een lewe saamgegooi, om ’n patroon te vorm. En dan is daar nog plek vir foute en menslikheid, selfs vir kleinlikhede, selfs, selfs, selfs vir ’n enkele kleinlikheid.

“Ons is maar min, miskien is ons standaarde…” twyfel ek een aand in sy studeerkamer.

Sy antwoord is betigtiging, geloof, heelwat trots, ook adel:

“Hoeveel was die Grieke toe hulle groot was? Toe hulle ’n beskawing gemaak het. ’n Paar duisendjies!”

Ek weet wat hy sê: Getalle maak nie groot nie, vergroot selfs nie die moontlikheid van grootwees altyd nie. Is daar dalk iets van daardie tyd onder ons? Ek glo dat ek van daardie grootheid in Van Wyk Louw herken het.

Bron: Du Plessis, P.G. 1970. Lantern, Desember: 2-5.