Nog op ons boekrak: Julie 2021

Nog op ons boekrak: Junie 2021
August 13, 2021
Net soos ek is – Franna Benadé
August 13, 2021

Skeur

Outeur: Carel van Rooyen

Uitgewer: Human & Rousseau

Prys R175

Meer oor die boek:

Dis nie asof Maria elke dag oor die toekoms droom nie; sy het egter altyd gedink hulle het darem een. Maar nou is die verlede al wat daar is. Hulle voorspel die Nightshifts gaan alles vernietig. Vrydag 21 Julie is dalk die laaste dag. Die dag waarop Luan haar nooi na ’n kuier by sy huis saam met die skool se gewildste kinders. Maar ken sy enige van hulle werklik? Ken sy haarself? Onder die regte omstandighede kan enigiemand gevaarlik wees.

 

#kouekoffie

Outeur: Carla Lang

Uitgewer: Protea Boekhuis

Prys: R225

Meer oor die boek:

As slaap en alleen piepie vir die voëls is, jy weke laas beenhare kon skeer, jy sukkel om in jou broeke te pas en push-up bra’s moet dra – o ja, en jy gewoond is aan koue koffie – dan is hierdie rubriekbundel vir jou!

’n Humoristiese blik op die vreugdes en uitdagings van moederskap en vrouwees.

Carla Lang se blog, #kouekoffie, het reeds oor die 15 000 aanhangers (followers). Van die rubrieke het oorspronklik op Netwerk24 verskyn.

Kommentaar van die lesers van haar blog:

Sy praat so uit mens se mond! Kon netsowel my eie woorde gewees het. – Rozanne Herion

Ek vrek oor jou 100% Afrikaanse sin vir humor oor ouerskap! – Stephanie Louw

Fantasties! Só goed! Lag lekker en is net so REAL! – Rene Swarts

Mal oor jou blog! Hou so aan, jy gee ’n mamma moed! – Ané Visagie

Love love LOVE die blad! Berei my emosioneel voor vir dit wat nog kom! – Suzanne van der Hoven

Dit laat my voel ek is nie die enigste nie. – Tina Barnard

Krok en dil

Outeur: Jaco Jacobs

Uitgewer: Pan Macmillan Suid-Afrika

Meer oor die boek:

Ontmoet vir Krok en Dil. Dil hou van grappies vertel … maar hy hou nie van pizza met pynappel nie. Krok hou van kosmaak … maar hy hou nie daarvan as iemand vir hom lag nie. Dil hou van Krok. En Krok hou van Dil. Krok en Dil is beste maats … en hulle sal jou laat skater van die lag!

Die boek bevat drie skreeusnaakse strokies wat perfek is vir beginnerlesers: Krok die kokVandag gaan ek nie lag nie; en Krok in ’n rok.

 

Briewe van Mieliepit

Outeur: Fanie Viljoen

Uitgewer: Luca

Prys: R155

Meer oor die boek:

Ontmoet vir Mieliepit: ’n baie pittige troetelhoender van Bloemfontein. ’n Bietjie lui (sal sy self erken), en baie lief vir gesels, skryf sy die allersnaakste briewe aan ene Liefsteling. Sy vertel stories oor Jaco en Janet, die twee kinders in die huis, en alles wat hulle aanvang. Soos alle broers en susters baklei hulle soms lelik, en soos alle kinders vertel hulle soms nie heeltemal die waarheid nie. Gelukkig is Mieliepit altyd daar om hulle te help. Elke storie bevat ’n bietjie pitkos om die leser te laat nadink, sowel as ’n Bybelgedeelte om verder te gaan lees, en ’n gebed wat die leser kan bid. Party storiebriewe het selfs aktiwiteite vir die lesers om te doen. Hierdie eerste kinderboek uit LUCA se stal is uit die pen van geliefde kinderboekskrywer Fanie Viljoen, en is pragtig geïllustreer deur Megan Bird.

 

Marilyn

Outeur: Chanette Paul

Uitgewer: Lapa

Prys: R350

Meer oor die boek:

Vywervrou? Nee, ʼn kaivrou. Dis wat sy is. Omring met haar geliefde vywervroue, weet Marilyn sy is nie een van hulle nie. Sy is ʼn kaivrou, die waterwese wat mans en kinders die dieptes intrek en verdrink. Daarvan getuig haar hele lewe tot hier toe. Dis iets waarmee sy gedink het sy vrede gemaak het. Met die pandemie wat die wêreld op sy kop keer en die ouderdom wat Marilyn al hoe meer bewus maak van haar sterflikheid, is dit seker nie vreemd om bestek op te neem van wat agter lê nie. Dit moet wees waarom haar gedagtes deesdae aanhoudend terug foeter na die verlede toe. So ver terug as daardie jaar toe sy Paul Avenant ontmoet het, en uiteraard ook die tragiese gevolge van dié ontmoeting. Nie dat dit daarna veel beter gegaan het nie. Een onbesonne ding na die ander het sy aangevang tot sy hier op Vywerbaai beland het. Hier waar sy met haar seun kon herenig en, as enorme bonus, die vywervroue leer ken en hegte vriendskappe gesmee het. Sy was sowaar naïef genoeg om te dink die meetsnoere begin nou vir haar in die regte plekke val. Tot die dag voor die eerste grendeltydperk toe sy besef ʼn mens se sondes haal jou altyd in. Selfs sondes wat jy nie self gepleeg het nie …

 

Stil vloei die komati

Outeur: Elize Parker

Uitgewer: Luca

Prys: R280

Meer oor die boek:

Stil vloei die Komati fokus op natuurbewaring, renosterstropery en horing-handel, trauma, mensehandel, vergifnis en romantiese liefde.

’n Fratskoeël het hulle dit genoem. Die een wat hulle nefie, Jaco, in die voorkop net bo sy oog getref het. Sy ouers het die drie niggies vir sy dood verantwoordelik gehou. Jare later word Lenore se hulp ingeroep om die renosterkalfie by Bateleur te help versorg. Haar droom is om ’n toevlugsentrum vir diereslagoffers van wildmisdaad te stig. Tarien droom daarvan om ’n skuilhuis vir die slagoffers van mensehandel teen die grens te vestig. Maar nou is sy al hoe minder oortuig sy is waar sy moet wees. Bella dra ontwerperspakkies. Hofsaak ná hofsaak maak sy seker die waarheid seëvier. En nou is hulle deur Tjaart, wildboer en een van die rykste suikerrietboere duskant Komatipoort, bymekaar gebring om die bande te knip of bevestig.

 

Wildekus

Outeur: Morné Malan

Uitgewer: Lapa

Prys: R280

Top of Form

Elkeen wat vra, ontvang, elkeen wat soek, vind, en vir elkeen wat klop sal oopgemaak word. Vir die welgestelde sakeman, Adam Swart, kom geloof egter nie so maklik nie. Dis juis hoekom sy dogter, Lea, en haar ma van hom vervreem is; sy wêreldbeskouing laat nie plek vir wonder nie. Wanneer Lea se ma egter sterf, gryp Adam die kans om sy verhouding met sy dogter te herbou. Hulle Wildekus-wegbreek het skaars begin wanneer ’n groep rondswerwende gelowiges reg langs hulle kom laer trek met ’n versameling voos en vodde karavane. Kort daarna, onder die wakende oog van hulle jong, imposante leier, begin die luidkeelse gesanik, nagtelike kruisvure en waansinnige seedopery. Dis alles net te veel vir Adam, en sy frustrasies loop oor in ’n ernstige kopstampery met Lea. Die volgende oggend is die karavane skoonveld. Sy dogter ook. Na bykans vier jaar se gesoek, gee Adam sy weelderige lewe in die stad prys. Hy moet terug Wildekus toe, hy moet vir Lea gaan vind as hy ooit weer vrede in sy gemoed wil hê. In die diep Transkei beland hy op die spoor van Die Lewende Vlees, ’n sekte swerwers wat daar tussen die heuwels hulle eie stukkie paradys probeer staanmaak. Maar elke swerwer het sy storie, elke paradys sy slang.

 

Man op ’n fiets êrens heen

Outeur: Frederik de Jager

Uitgewer: Protea Boekhuis

Prys: R250

Meer oor die boek:

Wat Frederik de Jager se verhale uniek maak, is die feit dat dit om mense sentreer, dat dit fyngetekende portretstudies is. Of dit nou Jan Rabie, die enigste dogtertjie op ’n seunskoolbus, Mal Marina die klawerkoningin is of die seun op die speelgrond wat so stip kon kyk, of sy laerskoolvriend die aksieheld, dis karakters waarmee elke leser kan vereenselwig. Soms is die onderwerp die skrywer self, die skaam seun wat Sartre se selfbewustheid as bewustheid verstaan, die een wat weier om die klavierspelende sissie te wees. Die skryfwerk is dus tydloos en universeel.

De Jager het ’n fyn oog en ’n slag met die woord. Soos Dana Snyman kan hy ’n emotiewe snaar raaktokkel en nostalgie opwek. De Jager is egter eerder prosaïs as volksverteller. Hierdie verhale is raak woordprente wat die uitsonderlikheid van gewone mense vasvang, met deernis, humor en ’n skeut hartseer – Op een na het al hierdie stukke verskyn in die tydskrif Vrouekeur van 2015 tot met die sluiting daarvan in 2020, as aflewerings in die rubriek “Mense onderweg”. Die laaste, langer stuk was ook in Vrouekeur, maar as alleenstaande artikel.

 

Arendsvlerke vir Siebert

Skrywer: Elsa Winckler

Uitgewer: Luca

Prys: R270

Meer oor die boek:

Liewe Here, ek verstaan nie. Help my.

Terwyl Katinka probeer om die dood van haar man te verwerk, dring haar seun se veranderde gedrag uiteindelik tot haar deur. Sy is verslae en geskok deur die besef dat hy vasgevang is in omstandighede wat ook sy lewe kan beëindig. Wanneer vrees die oorhand kry, wend sy haar tot die Here.

Here, U sê vir ons in Jesaja, die wat op U vertrou, kry nuwe krag, hulle vlieg met arendsvlerke. En Here, nou het ons sulke vlerke nodig.

Moeps die ster

Outeur: Aaron Blabey, vertaler: Jaco Jacobs

Uitgewer: Protea Boekhuis

Prys: R120

Meer oor die boek:

Die wêreld se mees selfgesentreerde mopshond neem aan ’n prettige fotosessie deel. Hy trek allerhande lawwe kostuums aan en dans rond – hy wil graag die ster van die dag wees. Maar dan sien die fotograaf Worsie raak. Moeps is nie juis bly daaroor dat Worsie die kollig steel nie en probeer alles om sy sterstatus terug te kry!

Nog ’n lekkerlag rympiesboek vir Moeps se aanhangers!

 

 

 

 

 

The post Nog op ons boekrak: Julie 2021 appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico