Nog op ons boekrak Augustus/September

Net soos ek is – Franna Benadé
September 8, 2021
Nog op ons boekrak: Junie 2021
September 9, 2021

Immigrant – ’n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers

Deur Ena Jansen, Elisabeth Eybers

Uitgewer: Human & Rousseau

Prys:  R280

 

Oor hierdie boek:

Eybers se verse was jare laas in druk. Dié keuse, uitgesoek deur Ena Jansen, goeie vriendin van haar, wys op Eybers se veelsydigheid as digter. Die bloemlesing behels o.m. die bekende “Maria”, “Busrit in die aand”, verse oor haar kinders, die emigrasie na Nederland, tot haar latere, aangrypende gedigte oor ouer word. Goeie poësie is tydloos, en dit blyk duidelik met dié uitgawe van Eybers se bekendste werk. 

 

Vin

Deur Lien Botha

Uitgewer: Queillerie

Prys: R280

Oor hierdie boek:

Vin is die verhaal van kunstenaar-kurator Vin Verster se geleidelike greepverloor op haar skeppende en skikkende omgaan met kuns, haar verhouding met haar argeoloog-man, en haar vermoë om in SA sielerus te voel. Deur twee dekades van oorsese kunsresidensies, voortslepende familiedrama en die benouende obsessie van ’n vyandiggesinde in die kunswêreld sien die leser met die oë van dié vindingryke kuns-vlugteling. 

 

Grotbaba

Deur Julia Donaldson, Philip de Vos en Emily Gravett

Uitgewer: Tafelberg

Prys: R170

Oor hierdie boek:

Broeps die grotbaba voel allenig en verveeld. Sy ma verf ure aaneen en sy pa jag pal vir kos vir die pot. Toe Broeps Mamma se verfkwas optel, is sy ouers smoorkwaad. Hulle dreig om hom te voer vir die groot, honger beer! Dan daag daar ‘n vriendelike mammoet op . . . en Broeps maak ‘n hele klomp nuwe vriende. ’n Heerlik ondeunde avontuurverhaal deur twee van die wêreld se voorste skeppers van kinderboeke, in Afrikaans vertaal deur veelbekroonde rympiekoning Philip de Vos.

 

Die geheime lewe van Gita

Deur Jacolet van den Berg

Uitgewer: Lapa

Prys: R250

 

Oor hierdie boek:

Gita kruip al haar lewe lank agter voorgee weg; ʼn mantel vir elke okkasie. Flambojante, pienk-Gita, vir wanneer sy opspraak wil maak, swart-Gita wanneer sy wil wegraak en laag lê, rooi-Gita wanneer sy uitdagend is, en natuurlik die blinkkant-bo-baadjie as sy voor die familie is. Maar agter die mantels spook dit by Gita. Haar pa het weggeloop met ’n ander vrou toe sy tien jaar oud was. Sedertdien sukkel sy om mense naby haar toe te laat. Niemand mag haar sien sonder ’n mantel nie. Wanneer haar werk deure moet sluit pak sy haar lewe op en vertrek Knysna toe. Daar waar haar pa is. Waar sy nuwe vrou is. Waar sy nuwe kinders is. Langs die pad ontmoet sy die kleurvolle Llewellyn wat haar as verkleurvroutjie sien en sy is heeltemal oukei daarmee. Sy is wel nie oukei met die amper-blinde tjellospeler, Darius, en sy broer wat haar geheime lewe wil oopkrap nie. Skielik is daar vier baie verskillende mans in haar lewe, en Gita het nie genoeg mantels om alkant te dek nie. Die geheime lewe van Gita is Jacolet van den Berg se eerste volwasse roman by LAPA. Dis ʼn lekkerleesroman met komiese oomblikke en baie hart. Gita is ʼn vrou met wie almal kan identifiseer. Sy sukkel om mans te vertrou as gevolg van haar ontroue pa en wil niemand naby haar toelaat nie. Sy is op die oppervlak iemand met selfvertroue, maar haar perfeksionistiese ma se verwyte lui gedurig in haar ore. Gita se storie kan enigiemand s’n wees.

 

Goed, beter, Betsie

Deur Elize Labuschagne

Uitgewer: Protea Boekhuis

Prys: R295

 

Oor hierdie boek:

Hierdie skrywer weet hoe om ʼn storie te vertel en hoe om die leser in te katrol. Haar kinderjare in Pretoria-Wes word lewendig en humoristies verhaal. Haar pa het lewenslank boekminderwaardig gevoel omdat hy nie kon gaan studeer nie. Sy pa het sy grond verloor en hy moes vroeg die skool verlaat om te gaan werk. Hy onderskei hom in die spoorweë, maar die drankduiwel ry hom (en die gesin). Geen kind van hom hoef te gaan leer nie, glo hy. Die verteller self spring duidelik en onweerstaanbaar uit die bladsy regop – iemand wat, in haar eie woorde al soos ʼn haas verskrik is deur haar pa maar wat haar eenvoudig nie laat onderkry nie. Sy sou gaan leer, buig of bars. En sy het nie opgehou voordat sy ʼn doktorsgraad verwerf het nie.

 

Kosmos en komete

Deur Kaalwoorde

Uitgewer: Lapa

Prys: R200

Oor hierdie boek:

Kosmos en komete is die debuutbundel van Instagram- en Faceboo-digter, Kaalwoorde. Die sukses van dié jong digter op sosiale media word toegeskryf aan haar toeganklikheid. Sy verwys na haar gedigte as bepeinsings oor gevoelens en gebeure, aansporings om te droom, en gedagtes wat die leser los met positiwiteit. In hierdie bundel val die klem op reise deur verskillende landskappe – fisies sowel as emosioneel. Kaalwoorde se gedigte is romantiese mymeringe oor die skoonheid van eenvoudige dinge soos ’n veld vol kosmos, sowel as drome wat soos komete die ruimte ingestuur word. Die gedigte is toeganklik en juis gemik op lesers wat nie tradisionele digbundels koop nie; dit herinner aan die werk van Rupi Kaur en Atticus.

 

Derde gety

Deur Zandra Bezuidenhout

Uitgewer: Human & Rousseau

Prys: R250

 

Oor hierdie boek:

Derde gety dui op ‘n oorgang waarin hede en verlede versmelt. ‘n Nuwe tyd-ruimte van ewewig, besinning en tuiskoms breek aan, waarby uiteenlopende onderwerpe uit ‘n ryk ervaringswêreld betrek word. Die bundel behels ‘n verskeidenheid beeldryke verse, met ‘n fyn aanvoeling vir o.m. skoonheid in al haar manifestaties, menslike verhoudings en deurgaans ook ‘n maatskaplike bewustheid. Die taalgebruik is vindingryk maar helder, en die gedigte getuig van ‘n besonderse poëtiese vakmanskap.

 

Die miskruier en die maan

Deur Carié Maas

Uitgewer: Protea Boekhuis

Prys: R265

 

Oor hierdie boek:

Dis een ding om jou jop te verloor omdat jy as vennoot jou voet neergesit het oor ’n verdagte staatskontrak. En nog een dat die Gladdejan vir ’n baas sy oog op jou vrou het. Maar dan wil hulle jou boonop melk vir ’n laaste argitekstekening vir ’n opkomende magnaat.

Argitek Karel Nel deins nie terug vir die Soedan nie, net so min as wat hy kleintyd vir donshael in sy sitvlak geskrik het, en die Nubiërs se verbluffende kultuur sou selfs ’n heerlike uitdaging vir sy skaalliniale kon wees.

Maar hy het ’n verrassing vir wie ook al dink hy gaan net weer almal uit die gemors help.

Hy is ’n man van daad. Hy onderneem reise op soek na sy wortels en om sin te maak van sy hede, maar eintlik om die speelsheid in sy huwelik te herwin. Ná uitmergelende en onsuksesvolle vrugbaarheidsbehandelings en spanning by hul gesamentlike werk is die romantiek by die agterdeur uit.

Dis ’n lekker eietydse roman, slim en humoristies met kreatiewe, hardkoppige karakters en allerlei interessanthede oor antieke kulture en kuns.

 

Leef jou nuwe lied

Deur Sonja Goldberg, Elsa Winckler

Uitgewer: Lux Verbi

Prys: R230

 

Oor hierdie boek:

 Die lewe laat jou dikwels uitgebrand en afgemat. Leef jou nuwe lied is ’n uitnodiging van die bekende skrywer Elsa Winckler en haar pastoor-sussie Sonja Goldberg om saam deur die jaar te
stap met jou hand stewig in jou Vader s’n. Ontdek ’n nuwe lied in jou hart deur hierdie 200 dagstukkies en weet Hy is daar vir jou. Hy sal jou in staat stel om vreesloos in liefde te leef.

 

Moenie die melk vergeet nie

Deur Jaco Jacobs en illustrasies deur Yolandi Prins

Uitgewer: Pan Macmillan South Africa

Prys: R120

 

Oor hierdie boek:

Mamma stuur vir Mila en Pappa winkel toe om melk te gaan koop. Wat gewoonlik ’n vervelige en voorspelbare uitstappie is, word ’n onvergeetlike avontuur. Hulle ry op ’n eenhoring, vlieg in ’n ruimtetuig, koop kos vir Mila se troeteldraak en kom soos wafferse superhelde tot die redding toe ’n reuse-toring blikkieskos amper omval. Daar is net een probleem – hulle het sowaar die melk vergeet!

 

 

 

 

 

 

 

 

The post Nog op ons boekrak Augustus/September appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico