Marie Koopmans-De Wet
June 27, 2017
Mev. Genl. Piet Joubert
June 27, 2017

(Geskryf deur dr. TS van Rooyen, soos verskyn in Historia Junior)

Waarom is dit dat ons eintlik min jong helde uit ons geskiedenis ken? Ons ken almal die verhaal van Japie Greyling en ’n paar ander, maar as ons onthou dat ons geskiedenis meer as driehonderd jaar in die verlede terug strek, dan verbaas dit jou dat die aantal jong helde wat ons onthou byna op ons vingers getel kan word. En tog het daar soveel in ons volk se verlede gebeur, en moes oud en jonk voortdurend die grootste heldemoed aan die dag lê om te verhoed dat ons volk nie vernietig word nie.

Miskien moet die feit dat ons die name van so min van ons jong helde ken, ook daaraan toegeskryf word dat die heldedaad nie altyd opgeteken is nie, of omdat daar op die tydstip toe die heldedaad plaasgevind het, nie daaroor in die koerante geskryf is, sodat almal daarvan kon verneem nie. Dan het die jongeling se daad onbekend gebly, behalwe in die klein kringetjie waarin hy beweeg het en na verloop van tyd het die mense ook nie meer daarvan gepraat nie.

Die volgende is die verhaal van ’n nog jong seun se heldedaad wat anders is as die gewone heldedaad. Hy het nie met doodsveragting deur ’n vol rivier geswem om iemand te red nie, nog minder het hy deur ’n koeëlreën sy mense op die slagveld gaan help. Tog, in sekere opsigte, herinner sy verhaal aan dié van Japie Greyling.

Dit was ’n mooi helder Desemberoggend in die dorpie Utrecht in Suid-Oos-Transvaal. Op hierdie heerlike Saterdagoggend in die jaar 1879 het die vrouens in die stowwerige hoofstraat die een of twee winkels besoek om hul naweekinkopies te doen. In die Ulundi-hotel het ’n paar mans in die sitkamer gesit en “politiek” praat. Sommige van die mans was soldate van die Britse leëreenheid wat net buite die dorp gestasioneer was.

Die mans het ernstig gesit en gesels, want die oudburgers van die ou Transvaalse Republiek, het orals in Transvaal vergaderings begin hou en luidrugtig te kenne gegee dat hulle nie tevrede is oor die feit dat sir Theophilus Shepstone byna twee jaar gelede die Transvaal vir Brittanje geannekseer het nie. Hoe kon die Boere dan so ontevrede wees, want noudat die Britse vlag oor Transvaal waai, word die Boere mos beskerm teen die Zoeloes en ander vyandiggesinde inboorlingstamme. Daar is nou weer geld in die land, kyk net hoe floreer die besighede. Juis vanoggend nog het ’n klompie boere hul vee na die vendusiekrale gebring waar hulle vee baie goeie pryse behaal. Dit is net ondankbare hardkoppigheid van Kruger en Pretorius om die onafhanklikheid van Transvaal terug te eis!

Toe die deur van die sitkamer oopgedruk word, kyk een van die manne op. “A, hier is een van die boere wat vanoggend vendusie bygewoon het. Ek ken hom mos. Dis Conrad Meyer, ’n ou vriend van my!”

Hy wend hom na die fors geboude jong man wat so pas ingekom het en roep uitgelate: “Conrad! kom sit hier man. So ja, laat ek jou voorstel aan my vriend Alfred Smith. Die ou is sommer baie nuuskierig om te hoor waarom julle Boere so ondankbaar is om nou, na alles wat Brittanje vir julle gedoen het, julle onafhanklikheid terug te eis.”

“Ek weet nie waarom die woord ondankbaarheid gebruik word nie,” sê Conrad en staar Alfred Smith aan wat ongemaklik op sy stoel begin rondskuif. Conrad het lank na Alfred Smith gesit en kyk en stadig gevoel hoe die drif in hom opstoot en ofskoon hy geweet het dat dit onredelik van hom is om so te voel, het al die ontevredenheid wat hy en ander gedurende die afgelope twee jaar gevoel het, hom nou sprakeloos gelaat. Smith het hom gemoedelik aangekyk en na Pretorius en Kruger verwys as ongeletterdes war deur liggelowiges gevolg word.

Toe begin dit. Conrad het skielik opgespring en Alfred Smith se stoel onder hom uitgeruk. Die volgende oomblik het vuishoue op Conrad neergereën toe die omstanders wat nuuskierig nader gestaan het, op hom toesak. Op daardie oomblik het oubaas Hermanus Lombaard en ’n paar boere wat die oggend die vendusiekrale besoek het, by die deur ingekom. Voordat die besadigde oubaas Lombaard se waarskuwende woorde “wag nou kêrels!” tot die ander kon deurdring, het ’n algemene bakleiery in die lokaal uitgebreek. Tafels is omgekeer, bottels het van die rak afgespat en ’n stoel het dwarsdeur die venster getrek. Kort na die stoel het een van die soldate met ’n hik buite die venster grond gevat en stil bly lê. Agter die toonbank het die eienaar van die hotel pleitend die woesvegtendes toegeroep: “Asseblief, asseblief, dink aan my, julle verniel alles!”

Buite in die straat het die vrouens en paar mans wat daar rondgestaan het, skielik roerloos bly staan en met groot verbasing na die hotel gestaan en kyk. Skielik het die buite swaaideur oopgeswaai en een van die soldate het tot teen die stoeppaal gesteier, vir ’n oomblik aan die paal vasgeklou en toe alle belangstelling in die omgewing verloor. Na ’n ruk het dit in die hotel stil geword, en die sewe tot agt burgers met Oubaas Lombaard vooraan, het stil by die deur uitgekom.

Hy het vermanend met sy manne gepraat: “Nee, a, kêrels, dis ’n lelike ding hierdie, julle moes liewers kalm gebly het.” Toe wend hy hom na Martinus Smuts, ’n skraalgeboude seun wat te oordeel aan sy uitgelatenheid, dit alles baie geniet het. “Martinus, wag tot ek jou vader hiervan vertel. Kyk net hoe lyk daardie oog van jou!” En terwyl Martinus skaam-skaam na oubaas Lombaard kyk, sien hy tog trots in die oë van oom Hermanus.

Toe, skielik, hoor hulle ’n uitroep onder uit die straat: “Die soldate kom!” en toe hulle opkyk, sien hulle ’n stuk of agttien soldate ten volle gewapen in die pad afgedraf kom. Vooraan het ’n korporaal gedraf.

“Spring kêrels, op jul perde, en g’n verdere moeilikhede nie, hoor!” Oubaas Lombaard was nog dodelik ernstig en die burgers het vinnig na hul perde wat daar naby gestaan het gedraf, in die saals gespring en in die teenoorgestelde rigting van die aanstormende soldate weggery. Almal behalwe Oubaas Lombaard, want die jare het sy ledemate reeds styf gemaak en hy kon nie op die saal kom nie.

“Wag oom, ek sal oom help!” Toe Oubaas Lombaard opkyk, staan Martinus Smuts by hom en sonder om verder iets te sê, help hy gou vir die oubaas in die saal.

Toe Martinus Smuts so wegry, al agter die ander burgers aan, het ’n wonderlike trots in hom opgebruis. Hy het uitgelate aan sy blou oog gevat, en sommer maar net vrolik gevoel.

Skielik hoor hy ’n vroue-stem in Engels uitroep: “Moenie skiet nie!” en toe hy vir ’n vlugtige oomblik omkyk, sien hy die korporaal wat skaars dertig tree van hom af in die stowwerige pad kniel en met sy geweer op hom aanlê. Waarom Martinus Smuts dit gedoen het, het hy nooit self geweet nie, maar sonder om te dink, het hy sy perd skielik ingehou en omgedraai.

’n Doodse stilte het oor die toeskouers wat nou soos houtpoppe op die sypaadjies gestaan het, neergedaal. Daar op die stoep van die hotel Ulundi het die een soldaat vooroorgebuig nog aan die stoeppaal vasgehou; die ander een het voor die versplinterde venster gesit, asof hy nou alle belangstelling in die wêreld verloor het.

Martinus Smuts, jong seun van sewentien jaar, het onseker oor sy ken gevryf waar die eerste donsbaardjies reeds hul verskyning gemaak het. Sewentien jaar! Hy wou nie nou al sterf nie! Hy was dan nog ’n seun, ’n kind vir wie die lewe nog mooi gelyk het, ’n kind wat al sy jare nog voor hom het.

Sy perd het onder hom onrustig in die stof gekap-kap en toe het Martinus Smuts sy spore net so effens in die liese vasgedruk en die teuels laat slap hang. En terwyl sy perd stadig vorentoe stap, het hy na die geweer gekyk wat roerloos op hom gerig was, en het hy geweet dat uit daardie loop enige oomblik nou, ’n koeël met ’n helder slag die krimpende afstand tussen hom en die knielende soldaat binne ’n oogwink sal oorbrug en sy jong lewe uit hom uitruk.

Hy het langs die loop afgekyk en die strak gesig van die soldaat wat byna liefkosend teen die kolf van die geweer gedruk was, asof van ’n ver afstand, gade geslaan.

Stadig het die perd onder hom stap vir stap nader aan die soldaat beweeg. Elke tree nader het die dood soveel sekerder gemaak, want op hierdie kort afstand kon daardie koeël nie meer mis nie. Martinus Smuts het effens vooroor op die perd se saal gesit, so asof hy iets sien maar nie kan uitmaak wat dit is nie. Sy skouers was effens vooroor gebuig asof hy geen belangstelling in enigiets het nie, soos wanneer ’n mens die dag ver gery het en jy by ’n blink waterpoel sommer net wil rus.

Die perd het nog ’n paar tree nader gegee en die vinger het stadig oor die sneller styf getrek. Teen die grond langs het die skaduwee van die geweer gelyk soos ’n swart mamba wat reguit in die sand lê en wag. Martinus Smuts het weer liggies sy perd spore gegee en die perd en ruiter was nou skaars vyftien tree van die knielende soldaat. Toe word die afstand nog korter, nou is dit tien tree, toe vyf en Martinus Smuts kan nou die staalgrys oë van die soldaat sien.

En toe, toe Martinus Smuts die teuels vaster in sy hande neem, asof hy die perd op sy agterpote oor wil trek, spring die soldaat op, draai om en hardloop tussen sy makkers in wat nog steeds agter hom asof versteend na die twee gestaar het. Die soldaat wat nog steeds aan die stoeppaal van die hotel vasgehou het, het die paal gelos en stadig op die grond gaan sit met ’n verdwaasde uitdrukking op sy gesig asof hy nou net iets gesien het wat hy nog nooit vantevore gesien het nie.

Martinus Smuts het sy perd om laat draai en weggery.

Dié aand het ’n bekommerde landdros in sy verslag aan die Hoofkantoor in Pretoria geskryf: “As dinge so moet aangaan, dan weet ek nie waar dit sal eindig nie.”

Ongeveer ’n jaar later het die Eerste Vryheidsoorlog uitgebreek.