Ons spoorweë
April 14, 2017
Die Paardekraalmonument
April 14, 2017

(Geskryf deur Linde Dippenaar, Laerskool Drie Riviere, soos verskyn in Historia Junior)

’n Jaar gelede het ek ’n boekprys Veertien gedenktekens van Suid-Afrika vir ’n opstel oor Geloftedag ontvang.

Ek het die boek baie interessant gevind. Dit het ’n foto en beskrywing van veertien verskillende gedenktekens.

Die beskrywing van die Danie Theron monument het my veral geïnteresseer. Die boek gee nie net ’n beskrywing van die monument nie, maar behandel ook Danie se lewensgeskiedenis.

Omdat ek self ’n Voortrekker is, voel ek trots  daarop dat dit juis die Voortrekkerbeweging was wat dit op hulle geneem het om die monument ter ere van dié Boereheld op te rig.

As Voortrekker was dit ook my voorreg om op 10 Oktober 1962 die onthulling van nog ’n kenteken, naamlik  die Kruger-standbeeld, te Krugersdorp by te woon.

Die besonder interessante program wat geadverteer was, het duisende besoekers van oor die hele land na Krugersdorp, die dorp vernoem na president Kruger, gelok. Vroeg die oggend was daar al duisende besoekers van heinde en ver by die Paardekraal-monument. By die stadsaal was honderde Voortrekkers van kommando’s oor die hele Witwatersrand, Pretoria en Vereeniging asook kadette opgestel.

Dit was ’n lieflike toneel, toe die Staatspresident en mevrou Swart in die replika van die Paul Kruger-koets, getrek deur spogperde, onder geleide van ’n twintigtal verkeerspolisie en dertig berede polisie op spekvetperde, na die Paardekraal-monument (ook ’n gedenkteken) vertrek het. Daarna het die Voortrekkers en kadette in ’n optog gevolg.

Die gronde by die Paardekraal-monument was byna te klein vir al die mense.

Met die aankoms van die Staatspresident by die Paardekraal-monument is Die Stem gesing en daarna het die Staatspresident die teken gegee dat die duiwe maar losgelaat kon word.

Die duiwe wat almal byna gelyktydig losgelaat is, het ’n paar draaie oor die monument gevlieg en daarna koers gekry na hulle verskillende tuistes.

Die skriflesing en gebed is toe waargeneem. Indrukwekkend was die duisendstemmige Laer- en Hoërskoolkore. Daarna het al die mense na die Kruger-standbeeld vertrek.

Nadat die Staatspresident sy onthullingstoespraak gelewer het, het die Suid-Afrikaanse weermag ’n onthullingseremonie uitgevoer en President Swart het die monument onthul.

Terwyl die saluut van negentien kanonskote afgevuur is, het vier vliegtuie van die Suid-Afrikaanse lugmag die saluutvlug waargeneem.

Daarna is kranse by die Kruger-standbeeld gelê deur die volgende hooggeplaastes: President CR Swart, Minister Jan de Klerk, asook die burgemeester van Krugersdorp, meneer P Marais.

Min. JJ Serfontein het die Staatspresident en aanwesiges bedank en die voorsitter het ’n dank- en slotwoord gespreek.

Die dankgebed is deur Senator GR Wessels waargeneem. Die stem is gesing en daarna het die skare na hul verskillende tuistes verdlaag.

Die Kruger-standbeeld is ongeveer elf voet hoog en is van brons gemaak met ’n graniet voetstuk. Die beeldhoudster, mej. L Postma, het haar dit veral ten doel gestel om die lewe van Paul Kruger simbolies uit te beeld.

Hy word voorgestel in die fleur van sy lewe, toe hy vir die eerste keer president geword het.

Hy hou ’n Bybel in sy linkerhand wat sy inspirasie en leiding ten alle tye was. Die keil in sy regterhand simboliseer sy opregte nederigheid ten spyte van sy hoë amp en bekwaamheid.

Ons het hier gestaan by die derde monument van President Kruger, en ons kan saam met die Burgemeester van Krugersdorp sê dat die oprigting van die standbeeld, die lewe en werke van die President diep in Krugersdorp se bodem en in ons harte geanker het.