(Geskryf deur Dr. FI du T Spies, soos verskyn in Historia Junior, November 1963)
In aansluiting by die vorige artikel (Nov. 1958) wil ons hier nog ’n paar vrae onder die oë neem, wat by mens opkom as jy die gedenkwaardige Slag van Bloedrivier ondersoek.
Hoe lank het die slag geduur? Volgens byna alle bronne het die Zoeloes begin storm toe dit lig geword het. Dit sal dus, as mens reken dat dit somer was, teen ongeveer 5 vm. gewees het toe die geveg ’n aanvang geneem het. Na dit “ruim twee uur” aan die gang was, lui die ooggetuieverslag van Bantjes, het kommandant Pretorius bevel gegee dat die Trekkers die Zoeloes moes bestorm en daarmee was die geveg om die laer verby. Cilliers meen in sy herinneringe dat die geveg omtrent ’n uur en ’n half geduur het. Ons kan dus aanneem dat so vroeg soos teen sewe- of agtuur die oggend die slag reeds gelewer was.
Die agtervolging van die vyand het langer geduur. Bantjes meen dat hulle die Zoeloes agtervolg het “ruim drie uren ver”. Of hy daarmee bedoel het dat hulle binne drie uur uit en tuis was, en of hulle drie uur agtervolg het en dus nog drie uur moes neem om terug te keer, is nie duidelik nie. Dit wil egter voorkom asof almal teen die middag weer terug in die laer was. Daar is toe dankstonde gehou en daarna is weer ’n sterk patrollie uitgestuur om te sien of die Zoeloes nie weer gereed maak vir ’n nuwe aanval nie, Maat die patrollie kon hulle nie weer inhaal nie. Teen sononder was al die Trekkers weer terug in die laer.
Is daar aaneen geveg? Blykbaar nie. Na elke stormloop afgeslaan is, het die Zoeloes blykbaar ’n tyd geneem voor hulle weer reg gegroepeer was vir die volgende stormloop. Hoeveel van die stormlope daar was, is nie seker nie. Sommige praat van twee, ander selfs van vier. Dit is moontlik dat uit sommige rigtings meer aanvalle geloods is as uit ander. Moontlik het die Zoeloes ook nie aan alle kante ewe hewig aangeval nie.
Interessant in hierdie verband is die rol wat die sloot, omtrent twintig tree van die laer af, gespeel het. Met verloop van die geveg het meer en meer Zoeloesoldate daarin te lande gekom. Sommige het waarskynlik daarin gevlug terwyl ander seker met die sloot langs die laer bekruip het. Toe die groot aanvalle min of meer afgeslaan was, het ’n klomp Boere die sloot bestorm en gevind dat die Zoeloes daar so dig opmekaar staan dat hulle nie hulle arms vryelik kon beweeg om met die assegaaie te gooi nie. Die meeste het maar net hulle skildvelle omhoog gehou. Die meeste van hulle is dan ook daar doodgeskiet.
Dit is blykbaar vanuit die sloot dat die enigste Trekker tydens die geveg getref is, nl. Philip Fourie wat met ’n assegaai in sy been gewond is. Tydens die agtervolging is nog twee Boere gewond, nl. kommandant Andries Pretorius self wat ’n assegaaisteek in sy hand ontvang het en Gerrit Raath wat so swaar gewond was dat hulle hom op ’n katel moes gaan haal en laer toe dra.
Iets oor die wapens. Die Trekkers het natuurlik almal nog met voorlaaiers geskiet. Om so ’n geweer te laai, was omslagtig. Eers is die regte hoeveelheid kruit voor by die bek van die geweer ingegooi en vasgestamp en dan die koeël of lopers. Hulle het blykbaar hoofsaaklik met lopers geskiet; dit is growwe hael van lood gemaak waarvan die vereiste hoeveelhede in sakkies toegenaai was wat dan met sakkie en al voor by die bek van die geweer ingegooi is. Al die gewere was nie ewe groot nie; dus het die hoeveelheid lopers per skot ook gewissel. Die lopers kon nie so ver skiet as ‘n koeël nie, maar daar is meer per skoot getref.
Die kanonne is op dieselfde wyse gelaai, ook met lopers wat natuurlik heelwat groter was as dié van die gewere. Tydens die eeufeesviering in 1938 en selfs later nog is verskillende van die lopers in die gras om die terrein opgetel. Daar was blykbaar twee kanonne. Een daarvan was die bekende ou Grietjie wat die Trekkers saam uit die Kaapkolonie gebring het en wat vandag in die Ou Museum in Pretoria te sien is. Hierdie kanon was deur dik en dun saam met die Trekkers in Natal. Hy was selfs op een tyd die speelding van die kinders wat daarop rondgery het. Hieraan het die ou mense egter gou ’n end gemaak. Hulle het so ’n spelery waarskynlik oneerbiedig gevind.
Behalwe ou Grietjie was daar nog ’n koper kanonnetjie by Bloedrivier wat Pretorius self van die Kolonie af saamgebring het. Hy het die naam van Weeskind gehad. Wat later van hom geword het, kan nie vasgestel word nie.
Die kanonne het seker ’n belangrike aandeel in die slag gehad; al was dit dan net dat die vuur en rook brakende monde meer verskrikking onder die vyand versprei het as die kleingeweervuur, asook die groter lawaai wat hulle veroorsaak het.
Hoe het die Zoeloes aangeval? Dit is duidelik dat dit maar nie net ’n ordelose stormloop was nie. Hulle was in regimente opgedeel. Bantjes vertel dat dit nogal mooi was om te sien hoe voor die geveg elke regiment, elkeen met sy leier of generaal vooraan, sy bestemde plek rondom die laer inneem totdat die laer volkome omsingel was. Blykbaar het die jong krygers die eerste kans gekry om aan te val terwyl die ouer regimente krities op ’n afstand sit en kyk het. Volgens een verteller het sommige van die ou regimente nie eers kans gekry om later self aan die geveg deel te neem nie. Hulle is feitlik meegesleur deur die wilde vlug wat ontstaan het.
So is daar baie interessante besonderhede wat aan die lig kom as mens bietjie noukeuriger ondersoek instel na die merkwaardige geveg van 16 Desember 1838.