Nog botsings met Verwoerd

Doktor Verwoerd kritiseer Van Wyk Louw
January 25, 2015
Moord op doktor Verwoerd
January 26, 2015

Nie net met Van Wyk Louw nie, maar ook met ander figure en instellings het doktor Verwoerd gebots. Een van dié botsings was met die Afrikaanse nyweraar doktor Anton Rupert. Rembrandt het in 1959 besluit om die idee van nywerheidsvennootskap toe te pas. Hy was van plan om ’n tabakfabriek in die Paarl op te rig en 50% van die aandele aan mense van die bruin gemeenskap toe te ken. Verwoerd was teen die plan en het Rupert ontbied. Hy het Rupert eers gesê dat bruin mense nie in staat sal wees om 50% van die aandele op te neem nie. Rupert het geantwoord dat Rembrandt die aandele in klein hoeveelhede aan onderwysers en amptenare sal verkoop. Verwoerd verneem toe dat Rembrandt direkteure uit bruin aandeelhouers wil aanstel. Dit sou beteken dat blanke werktuigkundiges onder nie-blanke direkteure sou werk. Dit is onaanneemlik, hy het gedreig om Rembrandt toe te maak. Hy was daarteen gekant dat blanke kapitaal gebruik sal word om die tuislande te ontwikkel, en het gesê hy sal nie “’n sekere Rupert” toelaat om swartes uit te buit nie.

In dié tyd het die Afrikaners darem reeds ’n groter aandeel in die sakelewe gehad. Van 1948/49 tot 1954/55 het die aandeel van Afrikaners aan die private sektor buite die landbou met 40% gestyg van 9,6% tot 13,4%, en in 1964 tot 18%. In 1953 is Federale Mynbou gestig en het sukses in die steelkoolmynbedryf behaal. In 1964 het Fedmyn ’n aansienlike belang in General Mining van Anglo-American verkry. Verwoerd en ander het die oorname aangeval as ’n “Hoggenheimer-set” om die bietjie Afrikaner-kapitaal wat daar was, na Anglo-American se koffers te laat vloei.

Verwoerd was ook betrokke in die persstryd tussen Naspers en die noordelike persgroepe, waarvan hy voorsitter was. In dié hoedanigheid was hy ’n teenstander van Naspers se planne om ’n Sondagblad in Transvaal uit te gee. Op 17 Augustus 1965 het verteenwoordigers van die persgroepe in sy ampswoning Libertas vergader nadat Naspers geweier het om Dagbreek in Kaapstad te druk. Verwoerd het die Naspers-mense gevra wat hulle planne is. Naspers het geweier om sy planne bekend te maak, aangesien Verwoerd nie net partyleier is nie, maar ook voorsitter van twee groepe wat met Naspers kompeteer. Daarmee is die bespreking beëindig. Naspers het ’n paar dae later aangekondig dat hy sy eie Sondagblad gaan uitgee. Dit was Die Beeld met Schalk Pienaar van Die Burger as redakteur. Die eerste nommer het op 31 Oktober 1965 verskyn. Die sirkulasie was in Julie 1970 355 820 teenoor 368 637 van Dagbreek en Landstem.

Baie drukwerk van die staat soos amptelike vorms, kwitansieboeke, die staatstydskrif Panorama en amptelike jaarboek is na noordelike maatskappye. In 1962 het ’n minister Marius Jooste van Dagbreekpers die kontrak vir die Johannesburgse telefoonboek help kry. Later het nog vyf telefoongidse bygekom. In 1965 is begin om Afrikaanse biblioteekboeke vir Transvaalse skole net by Transvaalse uitgewers te koop. Die soort bevoorregting het help bydra tot die ondergang van die persgroepe wat in 1971 verenig is as Perskor (Perskorporasie van Suid-Afrika, wat die naam van ’n perskorporasie van die Ossewa-Brandwag was.)