“Nieuw Holland in Zuid-Oost-Afrika”

Optrede teen die Matabele
March 23, 2015
Verskillende bestemmings
March 25, 2015

Piet Retief, wat in die Sesde Grensoorlog alles verloor het, wou nie dadelik aan die trek deelneem nie, en het eers met die luitenant-goewerneur, Andries Stockenström, onderhandel, maar vergeefs. Op 2 Februarie 1837 verskyn sy manifes in die Graham’s Town Journal, waarin hy sê dat die trekkers weens die landsbeleid geen vooruitsigte in die Kolonie het nie. Sy manifes begin só: “Ons wanhoop daaraan om die kolonie te red van die euwels wat dit bedreig deur die oproerige en oneerlike gedrag van vabonde wat toegelaat word om die land in alle dele te verontrus; en ons sien geen vooruitsig op vrede en geluk vir ons kinders in ’n land wat op dié manier deur interne beroeringe gekwel word nie.” Hulle wil die kolonie verlaat om in vrede en vryheid onder hul eie wette te gaan leef. Hulle wil niemand beroof of verontreg nie, maar behou hulle die reg voor om hulleself te verdedig. Een van sy klagtes is die onregverdige skuld wat onder die dekmantel van die godsdiens in Engeland op die grensboere gepak word.

Retief het vroeg in 1837 vertrek. In Maart 1837 het sy trek die Oranjerivier oorgesteek by Buffelsvlei (tans Aliwal-Noord). ’n Paar dagreise voor sy koms het Maritz hom tegemoetgery en meegedeel dat die trekkers wou hê dat hy hom as leier beskikbaar stel. Ondanks aanvanklike besware het hy hom dit laat welgeval en op 17 April 1837 is Retief tot goewerneur en Maritz tot magistraat gekies. Potgieter is nie tot enige amp gekies nie, maar sy mense was in die politieke raad verteenwoordig.

Op 6 Junie 1837 is die ampsdraers formeel beëdig en het Retief sy taak as politieke en militêre leier aanvaar. Op dié dag het die helder klanke van ’n klok om nege-uur die oggend oor die vlaktes gegalm. In hul beste klere is die mense uit hul tente en waens in die rigting van die tent van Retief. Daar het Retief, J Scholtz wat as leser sou optree, en Erasmus Smit, wat deur Retief as leraar van die “reisende gemeente” bevestig is, buitentoe gekom. Retief het sy hoed afgehaal en die res het dit ook gedoen. Erasmus het knielend God se seën afgesmeek en daarna het Scholtz ’n resolusie van nege artikels voorgelees wat deur die trek aangeneem is. Nadat die resolusies bespreek is, is oor die naam van die nuwe land gepraat. Smit se voorstel van die merkwaardige naam De Vrije Provincie van Nieuw Holland in Zuid-Oost-Afrika is aanvaar. Sommige trekkers het ook op ander maniere hul Nederlandse verlede laat probeer herleef en op hul waens die woorde Oranje Boven geverf.

Die trekkers het nou langsaam ooswaarts getrek. Verwoeste krale en hutte en die doodsbeendere van Mzilikazi se slagoffers het hulle aan dié gedugte vyand herinner. Tog was die lente van 1837 van die aangenaamste tye in die trek. Kos soos vis en heuning, koring, mielies, patats, pampoen en boontjies was volop. Wild was daar in oorvloed. Die veld was vol blomme en uitspannings het name gekry soos Roderozendal en Bloemendal. Onaangenamer was gerugte dat swart mense teen hulle opgestook word ondanks verdrae wat Retief met hulle gesluit het. Daar was onenigheid omdat Erasmus Smit die “reisende gemeente” se leraar was. ’n Geskil tussen hom en Sarel Cilliers het die Retief-trek verdeel. Cilliers het geweier om ’n eksamen voor die kerkraad af te lê voor hy ’n diens kon hou. Die koms van die trek van Pieter Lafras Uys het meer verdeeldheid geskep. Die Uyse wou hulle nie onderwerp aan die nege artikels nie. ’n Volksvergadering is op 13 September 1837 gehou waarop niks bereik is nie. Die stemming was bitter, en met die aanddiens is Psalm 109 gelees, een van die bekendste vloekpsalms.