Net soos ek is – Franna Benadé

Nog op ons boekrak: Julie 2021
August 11, 2021
Die Malan-Familiebond van Suid-Afrika
August 12, 2021

In 1987 het die Suid-Afrikaanse musiekbedryf vir die eerste keer kennis gemaak met die broers Innes en Franna Benadé, wat daardie jaar se Debuut-televisiekompetisie gewen het.

Daarna het hulle vier albums uitgereik, maar later het hulle elkeen ’n solo-loopbaan gevolg. Nadat Franna lank stil was, het sy seun Riaan in 2020 sy uiters suksesvolle debuutalbum vrygestel en die trefferslyste met minstens drie snitte gehaal.

Nou is Franna terug met ’n nuwe album in ’n genre wat hom soos ’n handskoen pas, naamlik kontemporêre Christelike musiek. Die album bevat ’n mengsel van ou bekende liedere asook ’n paar snitte wat vir die eerste keer opgeneem is.

Die eerste snit is die bekende Halleluja-lied “Wat ’n vriend het ons in Jesus”. Die woorde is egter heeltemal anders; glad nie dieselfde as dié wat in die Halleluja-sangbundel voorgekom het, of wat deur die FLAM-kommissie van die NG-kerk goedgekeur is nie. Jy voel asof jy wil saamsing, maar omdat die woorde onbekend is, kan jy nie. Nog ’n bekende Halleluja-lied is “Blye versekering”; nog met die oorsrponklike Afrikaanse woorde. Hy sing egter die woorde van die nuwe refrein ook.

“Hoe groot is U” is nog ’n ou bekende lied wat ’n mens sal laat saamsing, maar die versgedeeltes is nuut terwyl die refrein behoue gebly het. Die eerste nuwe snit op die album is die vrolike “Blye boodskap”, wat maklik deur gemeentes aangeleer kan word. Die country-klank van die album kan veral gehoor word in “Krag in die bloed”, ’n bekende snit onder sekere denominasies. Op “Ewig Jesus” sing Franna se dogter Yelena saam met hom. “Ek sal vasstaan” is die kortste snit op die album; nie eens ’n minuut en ’n half lank nie, maar dit maak nie regtig saak nie, want dit kan maklik aangeleer word.

“Saggies en teer” is nog ’n bekende Halleluja-lied met woorde wat grootliks met die oorspronklike weergawe ooreenstem, maar daar is tog ’n paar verskille. “Ek gee oor aan U” en “Jy is myne” is die Afrikaanse weergawes van “I surrender all” en “In the garden” onderskeidelik; veral ouer luisteraars sal hierby aanklank vind. Die titelsnit is ’n pragtige nuwe snit wat lugtyd op radiostasies wat Christelike musiek speel, verdien. Dieselfde kan van die laaste snit, “Waar U my lei”, wat handel oor algehele oorgawe aan en vertroue in die Here, gesê word.

The post Net soos ek is – Franna Benadé appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico