Nelson Mandela gevonnis

Al meer Afrikaners bots met regering
January 25, 2015
Doktor Verwoerd kritiseer Van Wyk Louw
January 25, 2015

Terwyl Afrikanernasionalisme al meer gekritiseer is, was swart nasionalisme aan die groei. Die vroeë jare sestig het die opkoms beleef van organisasies soos Poqo, wat uit die PAC ontstaan het, en Umkonto we Sizwe (“Assegaai van die volk”), militêre vleuel van die ANC. Die meeste het uit swartes bestaan hoewel blankes soms leiers was. Hulle het sabotasieveldtogte gevoer en die staatsveiligheid bedreig. Deur harde polisiewerk en ingrypende wette is die orde gehandhaaf. Een van die wette het dit moontlik gemaak om verdagtes tot 90 dae vir ondervraging aan te hou. ’n Storm van protes het ontstaan, en in Januarie 1965 is die gewraakte wetsartikel opgeskort.

Poqo het verskeie moorde ook op blankes gepleeg en wou in 1963 ’n algemene opstand oor die hele Suid-Afrika organiseer. Iets meer as ’n week voor die beplande opstand het die polisie twee vroue aangehou, een van hulle die sekretaresse van Potlako Leballo, leier van die PAC. By haar was daar ’n 150 briewe wat aan leiers van Poqo-selle oor die hele land geadresseer was. Dié manne en baie ander is in hegtenis geneem en van die opstand het niks gekom nie. Van Poqo was einde 1963 niks oor nie.

Ook in 1963 het die polisie ’n noukeurig beplande klopjag uitgevoer op die plaas Lilliesleaf in Rivonia, 16 km noord van Johannesburg. Dit het geblyk die hoofkwartier van Umkonto we Sizwe te wees. Meer as honderd kaarte met sabotasieteikens is gevind. Party van die teikens was toe al gesaboteer. Ook is ’n dokument Operation Mayibuye gevind – ’n uitvoerige plan vir ’n uitgebreide stryd en opstand teen die regering. Die nasionale bevel sou sorg vir 210 000 granate, 48 000 landmyne en tonne plofstof. Volgens die M-plan (Mandela-plan) sou ’n sentrale gesag op Lilliesleaf streekkomitees oor die hele land beheer en terreur teen die regering bestuur en aanblaas. Onder die mense wat op Lilliesleaf in hegtenis geneem is, was daar ’n tiental wit en swart Kommuniste. Van die (wit) leiers het uit die land gevlug, maar die oorblywendes, onder wie Nelson Mandela en Walter Sisulu, is ná ’n verhoor van sewe maande op 11 Junie 1964 tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

In 1964 het Abraham Fischer, wat in die Rivonia-verhoor die hoofadvokaat vir die verdediging was, saam met nog dertien tereggestaan op aanklagte ingevolge die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme. Dié wet het die Kommunistiese Party tot verbode organisasie verklaar. Dit het geblyk dat Fischer leier van die party was. Hy was afkomstig uit ’n gesiene Vrystaatse familie: sy vader was premier nadat die Vrystaat in 1907 selfbestuur gekry het. Hy is op borgtog vrygelaat, maar het ontvlug nadat verdoemende getuienis teen hom afgelê is, onder andere deur Gerard Ludi, ’n geheime agent van die Veiligheidspolisie wat die Kommunistiese Party binnegedring het. Fischer het hom vermom en byna ’n jaar lank op vrye voet gebly om sy bedrywighede ondergronds voort te sit. In November 1965 is hy gevang en in Mei 1966 tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Dit het later geblyk dat hy ’n leidende rol in die Rivonia-komplot gespeel het. In Mei 1975 is hy aan kanker oorlede.