Nederlandse beweging

SJ du Toit se koersverandering
June 3, 2015
4 JUNIE
June 4, 2015

Ná die koersverandering van SJ du Toit het Afrikaans die koeranttaal geword waarin die saak van die Afrikaner veroordeel is, en wel deur die Patriot. Die Afrikanersaak is in Nederlands gestel deur blaaie soos De Volksstem in Pretoria, De Express in Bloemfontein en Ons Land in Kaapstad. Die voertaal van Afrikanernasionalisme was dus Nederlands. Ons Land is in 1892 gestig en het die steun van JH “Onze Jan” Hofmeyr geniet, en in 1894 is dit geamalgameer met De Zuid-Afrikaan, wat aan die kwyn was. Die volledige benaming was De Zuid-Afrikaan verenigd met Ons Land, maar die algemene naam Ons Land.

Die republieke het ná die Jameson-inval maatreëls teen verengelsing verskerp. President MT Steyn van die Vrystaat het offisiële korrespondensie met Natal en die Kaapkolonie in Nederlands pleks van Engels begin voer. Staats-departemente soos dié van telegrafie, poswese en spoorweë is noukeurig dopgehou, en by aanstellings is voorkeur gegee aan Afrikaners. Kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog is ’n wetsontwerp aangeneem wat aan Hollands ’n groter plek in die Vrystaatse onderwys gegee het. CR de Wet, die latere generaal, het op 13 April 1897 gesê dat die verwaarlosing van ’n taal die onafhanklikheid van ’n nasie ondermyn. In Transvaal het die Jameson-inval die Afrikaners gesterk wat die agitasie vir meer Engels op skool teengestaan het.

In die Kaapkolonie het Nederlands sedert 1882 ’n paar winste behaal weens die groter taalnasionalisme. Op 1 November 1890 is die Zuid-Afrikaansche Taalbond gestig, wat hom vir die “volkstaal” sou beywer. Met 47 teenoor 36 is besluit ten gunste van Nederlands in plaas van Afrikaans. Die eerste voorsitter was professor PJG de Vos en die eerste sekretaris professor N Mansvelt, wat in 1891 Transvaal toe is as superintendent-generaal van onderwys. Van 1896 af het die Taalbond eksamens in Nederlands en Suid-Afrikaanse geskiedenis afgeneem. As spreekbuise van die Bond het gedien Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift, Jong Zuid-Afrika en Ons Tijdschrift. Ook Ons Land het altyd baie publisiteit aan die Taalbond gegee. Die Nederlandse beweging is veral gesteun deur die geleerdes soos predikante.

In Nederland het baie mense professor Jan te Winkel se houding teenoor Afrikaans as kultuurtaal in mindere of meerdere mate gedeel. Te Winkel het die “Patriottenpartij” gevra om nie ’n taal in te voer wat in niks anders sy krag kon soek nie, “as in die gemaksug van die mins ontwikkeldes onder die boere”. Waarop ’n ander bekende Nederlandse taalkundige, DC Hesseling, verontwaardig geantwoord het: “Hoe kan mens so iets sê van die waaragtige taal van ’n volk!”

Hesseling het in 1897 in De Gids, wat in Nederland uitgegee is, heel profeties die volgende oor Nederlands in Suid-Afrika geskryf. Hy het gesê dat hy dit nie as moontlik beskou dat ’n skryftaal wat van buite aangevoer is en deur ’n kloof van twee eeue van die spreektaal geskei is, ooit die voertuig kan word van ’n nasionale letterkunde nie – wat die enigste bolwerk is teen die mag van Engels wat al hoe meer veld win.