Nederlands was te moeilik vir baie

Artikel 137 en eksamentaal
January 23, 2015
Die kerke en ’n “dunbevolkte hiernamaals”
January 23, 2015

“Hollands” was die amptelike taal, maar wat sy posisie bedreig het, was die betreklik lae onderwyspeil van die Afrikaners, die gebrek aan ’n stedelike bevolking en die feit dat daar maar ’n heel klein elite was. PP van Eeden sê dat dit in Vlaandere en Noorweë veral die elite was wat die gevestigde kultuurtaal wou behou, terwyl die minder goed geskoolde bevolking en die plattelanders ’n eie taal voorgestaan het. In Turkye kon in die twintigerjare ’n drastiese taalhervorming deurgevoer word omdat so ’n groot persentasie van die bevolking ongeletterd was. Kaapland was die provinsie met die grootste Afrikanerbevolking, en daarin het maar 7,63% van die Afrikaners in 1908 standerd 4 gehad, 2,84% standerd 6 en 1,12% standerd 7.

Taalstryders het dikwels beweer: (1) Nederlands is te moeilik vir Afrikaners omdat hulle gewoonlik vir ’n te kort tyd skoolgaan om dit te bemeester; (2) hulle gebruik daarom liewer Engels, wat meestal hul onderrigmedium is; (3) dit is veel makliker vir hulle om in die kort tyd op skool Afrikaans te leer skryf en (4) Afrikaans is dus die doeltreffendste instrument teen verengelsing.

Ten opsigte van (1) het generaal Hertzog in 1910 gesê dat, hoewel hy ses jaar in Suid-Afrika en drie jaar in Holland gestudeer het, hy oortuig is dat hy nie goed Nederlands kan skryf nie. Hoeveel minder sou ’n Afrikaanse kind, wat nie dié voorregte geniet het nie, dan in staat wees om Nederlands te gebruik? Selfs die voorstanders van Nederlands kon dié taal nie soos die Hollanders praat nie. JHH de Waal vertel dat professor Moorrees in 1901 in Amsterdam ’n preek gelewer het in sy deftigste Nederlands. Maar: “Versta je wat ie er zegt?” vra iemand aan ’n ander kerkganger. “Ik versta er geen steek van”, het dié geantwoord. Daarteenoor sê ’n bekende predikant, doktor WM Nicol, dat die meeste Afrikaanse studente aan die Stellenbosse kweekskool teen 1907 baie Nederlands gelees en geskryf het, sowel in akademiese werk as briewe, dit baie in preke en lesings gehoor het en verbaas was hoe maklik hulle dit later kon praat.

Om stelling (2) te illustreer, het Preller aangehaal uit briefies van Volkstem-korrespondente “uit de aanzienlikste Afrikaner stand van de hoofdstad” wat as verskoning vir Engelse briewe aangevoer het: “As my Dutch is not sufficiently good, enz.”; “Pardon me for writing in English, but I can hardly rely on my dear ‘taal’ ”; “Hope you won’t mind, old chap, but my Dutch grammar is too rusty to work, please translate”. Dominee W Snyman het op die eerste taalkongres in die Paarl in 1896 al gesê dat sommige manne van die Taalbond wat Nederlands aanbeveel, intussen in hul huise Engels praat.

Vrywel alle taalstryders het betoog dat Afrikaans maklik was en dus aangewese skryftaal. So het Jan FE Celliers in 1907 voor die ATG in Pretoria gevra: “Hoe baje Afrikaners skrijwe altijd Engels omdat hulle Hollands sleg skrijwe en bang is dat hulle foute gesien sal worde. En dit’s van ons beste opgevoede Afrikaners wat so maak. Is die aangewese weg nie dat hulle Afrikaans skrijwe?”