Nederlanders en Vlaminge steun die boere

Kruger verlaat Transvaal
January 22, 2015
Guerillastryd begin
January 22, 2015

Sowat 150 000 mense het president Kruger op 22 November 1900 by die Franse hawe Marseille verwelkom. Ná ’n dag of twee is die reis per trein na Parys, waar daar net so ’n groot ontvangs was. Die Franse regering was egter nie bereid om te bemiddel nie, en nog minder dié van Duitsland, waarheen Kruger toe is. Die Keiser wou hom nie eens ontvang nie, maar die volk was buitengewoon geesdriftig. In Nederland is Kruger op oorweldigende wyse verwelkom. Mense het hom byna as ’n god, ’n mitologiese held, beskou en probeer aanraak. In Den Haag moes die hoteleienaar op ’n openbare funksie ’n bordjie by Kruger plaas met die versoek dat die gaste hom nie moes aanraak nie!

Oral in Europa was daar steun vir die Boere, maar die meeste in Nederland, Vlaandere en Duitsland. Miljoene Duitsers het dit keiser Wilhelm II kwalik geneem dat hy geweier het om Kruger te woord te staan. Veral in Nederland was daar in alle stande van die samelewing ongekende meelewing met die Boere. Fabriekswerkers het vrywillig ’n deel van hul loon vir die Afrikaanse saak afgestaan. Professore, sakemanne, advokate, predikante, dokters was aan die leiding van liggame soos die Nederlandsch-Zuid-Afrikaansche Vereeniging (gestig 1881). Twee afdelings van die Rooi Kruis is met ambulanse gestuur. Die Gereformeerde Kerke het ’n tehuis in Amsterdam opgerig om herberg te verleen aan Afrikaners wat hul vaderland moes verlaat. Die groot koerante het nooit moeg geword om berigte oor die oorlog te plaas en hul meelewing met die Boere te laat blyk nie. Beroemde digters soos Willem Kloos, Frederik van Eeden, PC Boutens en Albert Verwey het talle gedigte oor die Boere geskryf. Verwey beweer êrens: “’n Ander en beter mensesoort het opgestaan, ’n beter volk as ons stry in Suid-Afrika vir sy bestaan.”

Onder die boeke oor die oorlog was een deur Abraham Kuyper, redakteur van De Standaard. In ’n boek in Frans, Die Suid-Afrikaanse krisis, wat in ander tale vertaal is, het hy die Boeresaak verdedig. Ander skrywers was professor J de Louter, dosent in volkereg aan die Universiteit van Utrecht, en Charles Boissevain, hoofredakteur van die Algemeen Handelsblad. Verder was daar Louwrens Penning, wat die een boek na die ander geskryf het sonder dat hy die land self gesien het. Sy twee broers was in Suid-Afrika, maar toe hy wou emigreer, het sy moeder hom oorreed om te bly. Sy stof het hy gekry uit koerante en die briewe van sy broers, maar so realisties verwerk dat honderde duisende eksemplare boeke tot in die 1980erjare verkoop is en die lesers se siening van die Afrikaner bepaal het. Penning wou veral die jong Nederlandse lesers met nasionale trots inspireer en hulle oortuig dat hulle saam met die stamverwante Boere tot ’n heldevolk behoort; die jong Boervolk was “een loot van de Oud-Nederlandse stam”. Penning het 78 boeke geskryf, onder andere ook oor Nederland, die volk Israel en die vrymaking van slawe in Suriname. Volgens die Nederlandse letterkundige Hans Ester was hy in die beste sin van die woord ’n volkskrywer wat met sy liefdevol vertelde romans ’n veredelende uitwerking op sy lesers gehad het.