Naturally – Deca

’n Monument van ’n pa se hartseer
Februarie 10, 2019
Droomvrou
Februarie 11, 2019

Dit gebeur nie
baie gereeld dat ’n groep meer as een album per jaar vrystel nie, maar in die
verlede het popgroepe soos Creedence Clearwater Revival en Modern Talking dit
gedoen.

Herman en Douw
Steyn, wat dieselfde van deel maar nie verwant is aan mekaar nie, het ’n paar
jaar gelede die instrumentale duo Deca gevorm en sedertdien het hulle nie
stilgesit nie. Nadat hulle in 2018 sommer twee albums vrygestel het, is hulle
terug met hul nuwe een, Naturally
wat, soos gewoonlik, ’n kombinasie van oorspronklike komposisies en bekende
snitte bevat.

Die titelsnit is
een van hul eie skeppings en het daardie tipiese Ierse klank wat ’n mens van
hul komposisies kan verwag. Hulle is nie bang om moderne musiek in te sluit
nie, en die eerste bekende snit is Ed Sheeran se pragtige onlangse treffer “Perfect”.
Nog een wat nie te lank gelede op die trefferslyste was nie en wat hulle
ingesluit het, is Walk the moon se treffer “Shut up and dance”. The greatest showman was seker die
beste, en gewildste, musiekrolprent van die afgelope jaar of wat en “This is me”,
wat daaruit kom, is een van die hoogtepunte van die album.

“Hilltop jig” is
nog een van Deca se eie komposisies wat ’n mens sommer laat lekkerkry. Mense is
besig om Lady Gaga vlak te kyk, maar met haar vertolking van die vroulike
hoofrol in die nuwe weergawe van die rolprent A star is born het sy gewys wat in haar steek. Dieselfde geld haar
treffersnit “Shallow”, wat Deca hier ingesluit het. Aan die ander kant is “The
sound of silence” van Simon and Garfunkel, een van daardie liedjies wat altyd
gewild sal wees; Deca is seker een van die min groepe wat ’n instrumentale
weergawe opgeneem het en ’n mens moet sê; dit is besonder goed. “Swallowtail
jig” is ongelukkig die laaste oorspronklike komposisie op die album en weer
eens sal dit jou voete laat jeuk. “The show must go on” is eintlik ’n
ontsettend hartseer liedjie, want dit was op Queen se laaste album wat
uitgereik is voor Freddie Mercury se dood. Hoewel die woorde natuurlik nie hier
gehoor kan word nie, bly dit treffend. “It ain’t me” was onlangs ’n treffer vir
Selena Gomez, en dis goed dat dit ook op ’n ander manier vertolk word. Soms
gebeur dit dat ’n liedjie onbekend is totdat dit in ’n advertensie gebruik
word. Dit is die geval met die laaste snit, “Memories”, wat deur André de
Villiers geskryf en gesing is. Dit is gebruik in ’n pragtige
Volkswagen-advertensie waarin ’n jong egpaar ’n Beetle nuut gekoop het en
deurentyd saam met ander motors gehou het totdat hulle hom vir hul seun vir sy
18de verjaardag gegee het. Sedertdien is dié liedjie gedurig in aanvraag.

Soos gewoonlik
het Deca met ’n uitstekende album vorendag gekom en hulleself weer gevestig as
een van die voorste instrumentale groepe in Suid-Afrika. Hul vermenging van
bekende treffers en oorspronklike komposisies bly ’n wenresep en hul musiek is
toeganklik vir enigiemand, maak nie saak wat ’n mens se musieksmaak is nie.

The post Naturally – Deca appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico