Foto 2

DF Malan

Op weg na ’n republiek

Toe die bejaarde DF Malan die vierde Eerste Minister van Suid-Afrika word, het dit vir baie Afrikaners die kroon gespan op jare se harde werk en volharding. Malan se bewindsaanvaarding het die tydperk van die generaals afgesluit en ’n nuwe era ingelui waar die nasionalistiese Afrikaners die kaart kon inkleur. Malan was vir baie Afrikaners die verpersoonliking van Afrikanernasionalisme en die strewe na ’n eie republiek.

Na die Tweede Wêreldoorlog het kleiner volke regoor die wêreld met toenemende selfvertroue op hul regte begin aanspraak maak. Hulle was vasbeslote om die juk van die Europese koloniale moondhede af te skud. Die internasionale klimaat het gunstig geword vir onafhanklike republieke vry van voormalige Europese kolonies. In 1948 is die staat Israel gestig.

Foto 3

Advokaat JG Strijdom

Suid-Afrika was die 21ste land in Afrika wat binne een dekade onafhanklikheid verkry het. Malan het Indië se versoek om onafhanklik te word, maar terselfdertyd lid van die Britse Statebond te bly, gesteun. Hierdie benadering het ook vir die Nasionaliste ’n middeweg gebied om ’n eie republiek te kry met behoud van die historiese band met Brittanje.

JG (Hans) Strijdom, ook bekend as die “Leeu van die Noorde” het met sy bewindsaanvaarding in 1954 die pas na Republiekwording versnel. Onder sy bewind het die Suid-Afrikaanse vlag die enigste amptelike vlag geword, “Die Stem” die enigste nasionale lied en Simonstad is onder Suid-Afrikaanse beheer geplaas. Strijdom was slegs vier jaar premier voordat hy na ’n kort siekbed oorlede is. Sy vrou, Susan, beskryf hom as ’n “idealistiese volksmens, lief vir die skone, die kunste maar veral vir musiek. Hy was lief vir tradisie, ’n waaragtige demokraat, in sy huis net soos in sy politieke lewe”.

 

Foto 5

Hendrik en Betsie Verwoerd

HF Verwoerd het hom in 1958 as Suid-Afrika se sesde eerste minister opgevolg. Verwoerd was ’n uitnemende akademikus en die eerste in sosiologie in Stellenbosch. In 1937 is hy as die eerste hoofredakteur van Die Transvaler aangestel. Hy dien eers as senator, voordat Malan hom as Minister van Naturellesake benoem het.

Verwoerd kondig in 1960 aan dat Suid-Afrika ’n referendum oor Republiekwording sou hou. Hy het onderneem dat Suid-Afrika na Republiekwording as lid van die Statebond kon aanbly, maar die ander Statebondlande het die aansoek as gevolg van Suid-Afrika se apartheidsbeleid afgekeur.

 

Op 31 Mei 1961 het Suid-Afrika ’n republiek geword. CR Swart was die eerste staatspresident. Verwoerd het tydens die geleentheid gesê:

Die republikeinse ideaal was die besieling tot al ons dade,
dit was die besieling tot die groei van ons volk,
dit het gelei tot ons eenheid,
dit het gelei tot ons ekonomiese voorspoed,
dit het berus op ons geloof in God en was die leidraad vir ons geestelike sowel as ons materiële lewe.
In Sy hande het ons ons toekoms geplaas en uit Sy hande het ons die gawe ontvang.
Die krag van ’n ideaal is onuitputlik en dit sal nog verder vorentoe besiel …

Foto 6

Hierdie foto is geneem op 31 Mei 1961 op Kerkplein om 12:00, oomblikke nadat Suid-Afrika formeel ‘n Republiek geword het.

 

Afrikaners het Republiekwording as ’n tweede kans beskou nadat hulle die Boererepublieke na die Vrede van Vereeniging verloor het. Hulle wou ten alle koste ’n sukses van die republiek maak en het om dié rede vanuit hul roepingsbesef plig teenoor land en volk as een van die belangrikste waardes beskou.

Een van die hoogtepunte van die tydperk was Chris Barnard wat die wêreld se eerste suksesvolle hartoorplanting op 3 Desember 1967 uitgevoer het. Meer as 41 000 hartoorplantings in 297 sentra is wêreldwyd gedoen en Chris Barnard se metode word steeds gebruik.

Foto 8

Chris Barnard by sy pasiënt na die eerste suksesvolle hartoorplanting

Die eerste vyf jaar van die republiek is gekenmerk deur ongekende ekonomiese voorspoed, nywerheidsontwikkeling, die vestiging van infrastruktuur en algemene vooruitgang van alle Suid-Afrikaners.

Foto 9

Die eerste vyf jaar van die republiek is gekenmerk deur ongekende ekonomiese voorspoed, nywerheidsontwikkeling, die vestiging van infrastruktuur en algemene vooruitgang van alle Suid-Afrikaners. Op 23 Augustus 1955 het die eerste olie by SASOL gevloei. SASOL sou ‘n wesenlike bydrae lewer tot die ekonomiese groeitydperk van die Republiek.

 

Perspektief op apartheid

Giliomee skryf dat dit vir hom moeilik is om te verstaan hoekom mens vandag geen nugter of gebalanseerde ontleding van apartheid sien nie. “Dit is vir my duister hoe die Afrikaners ’n gesonde politieke bewussyn kan ontwikkel as die hele apartheidsgeskiedenis enersyds deur sommige net in skuld en skaamte en andersyds deur sommige met blinde ontkenning bejeën word.”

Die NG Kerk se 1935-sendingbeleid is enersyds ’n metode wat ontwikkel is om die evangelie aan ’n diverse samelewing te verkondig en andersyds om die kerke in die NG kerkfamilie tot selfstandigheid te begelei. As oud-NG predikant was Malan deeglik bewus van die kerklike ontwikkeling. Die oortuiging het by die nasionaliste posgevat dat die beleid as die model gesien word waarop volkereverhouding in Suid-Afrika gereël moet word. Na die oorwinning van die Nasionale Party, het Malan ook begin om die beginsels van die sendingbeleid in landswette te ontwikkel en die hele Suid-Afrikaanse samelewing aan die hand daarvan te struktureer. Die NG kerk se Kaapse Sinode het in 1949 verklaar dat die apartheidswette verwant is aan die sendingbeleid van 1935. Hiermee het die NG kerk inderwaarheid ’n Christelike goedkeuringstempel op apartheid as landsbeleid geplaas. Vir Afrikaners was dit genoeg om te weet dat die kerke die beleid as Bybels regverdig het.

Verwoerd wou die tuislande van die verskillende swart stamme omskep in onafhanklike state waar swart Suid-Afrikaners volle burgerregte sou geniet. Hy het verkies dat gepraat word van afsonderlike ontwikkeling of vreedsame naasbestaan as van apartheid. Die terme was vir hom meer positief en het die beleidsoogmerke beter verduidelik. Verwoerd wou aan elke bevolkingsgroep die geleentheid bied om selfstandig na sy eie aard en vermoë te ontwikkel met behoud van eie identiteit. Om dié rede het die twee slagspreuke “Skep jou eie toekoms” en “Behou jou identiteit” Verwoerd se uitgangspunte die beste beskryf.

Flip Buys plaas ’n gebalanseerde siening van apartheid op die tafel deur klem te lê op die positiewe en negatiewe kante van apartheid. “Aan die positiewe kant,” verduidelik Buys, “was dat dit gesien is as ’n beleid om die Afrikaner as ’n klein volkie – op ’n groot en gevaarlike vasteland – se vryheid in ’n eie land te verseker, deur ’n proses wat terselfdertyd vryheid aan ander volke in hul eie lande sou bewerkstellig. Die tema van vryheid kom soos ’n goue draad na vore in tallose Afrikaanse liedere, gedigte en prosastukke, wat dit duidelik maak dat dit ’n grondmotief in die Afrikaner se nasionale strewe was. Vryheid, en nie onderdrukking nie, was die vertrekpunt van Afrikaners se soeke na oplossings vir die rassevraagstuk.” Aan die negatiewe kant was apartheid gesien as ’n metode om die Afrikaner teen Afrika te beskerm. Vryheid was die strewe, maar vrees het die dryfkrag agter die apartheidsideologie geword. Jan Lubbe verduidelik die selfvernietigende gevolge van ideologie as “gebore uit ’n situasie van vrees, bedreiging en gepaardgaande onreg, verhef dit sekere ideale tot ’n einddoel wat uiteindelik die absolute aantrekkingskrag op mense uitoefen. Dit teken subtiel ’n valse beeld van die werklikheid, ’n illusie waarin mettertyd ideologies gekleurde waardes toegeken word. Dit teer op die isolasie van mense. Dit beskou selfkritiek as ’n gebrek aan lojaliteit. Dit hol etiese waardes uit en gee daaraan ’n nuwe inhoud. Dit ontwikkel ’n eie woordeskat. Uiteindelik heilig die doel die middele.”

Om die positiewe en negatiewe kante te balanseer, probeer Flip Buys Verwoerd se beleid binne die konteks van die nasionaliste se kaart verstaan. Hy beoordeel apartheid aan die hand van die strategiese in-mandjie wat op Verwoerd gewag het toe hy beleidsbesluite oor rassebetrekkinge moes ontwikkel. Dit word in die volgende tien punte opgesom:

1.    Veelheidstaat, nie eenheidstaat nie

Afrikaners het histories nie Suid-Afrika as ’n eenheidstaat gesien nie. Suid-Afrika is as geografiese term beskou, geskoei op die Wes-Europese model waar verskeie volke in hul eie lande bly, maar oorhoofs kon saamwerk. Verwoerd het Suid-Afrika dikwels met die Britse Statebond vergelyk. Net soos onafhanklike nasies in die Statebond, kon volke in Suid-Afrika hulself regeer, terwyl hulle ekonomies saamwerk. Afrikaners wou die landkaart deur die tuislandbeleid herskik, sodat Suid-Afrika as ’n multinasionale staat kon funksioneer. Die konsolidasie van grondgebied en nywerheidsontwikkeling in tuislande was van die groot knelpunte wat die oogmerk gekniehalter het.

2.    Stryd teen Britse kolonialisme

Die Afrikaner van 1961 het vir die grootste deel van sy bestaan vir vryheid teen Britse koloniale oorheersing geveg. Eers na die afhandeling van hierdie stryd met Republiekwording in 1961, het die hantering van die swart vraagstuk ’n nasionale prioriteit geword. Dit is selfs moontlik dat Afrikaners hul vryheidsdrang op swart volke geprojekteer het deur te glo dat elke volk soos hulle in ’n eie land vry wou wees.

3.    Die nasleep van die Anglo-Boereoorlog

Afrikaners is meer as een keer in hul geskiedenis met uitwissing bedreig. Giliomee praat ook van die “bestaansangs” en oorlewingstryd van die Afrikaner as ’n klein volkie wat deur sy hele geskiedenis onveilig was. Die eerste konsentrasiekampe was in Suid-Afrika gebou, en nie in Nazi-Duitsland nie. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Nazi’s hul konsentrasiekampe selfs regverdig deur na die Engelse kampe in Suid-Afrika te verwys. Daar was ’n gevoel dat Afrikanermassasterftes nooit weer mag gebeur nie, en dat die Afrikaner nooit sy mag oor homself mag prysgee nie. NP van Wyk Louw het kort na die Tweede Wêreldoorlog in 1946 geskryf dat wanneer die Afrikaner ’n minderheid onder ’n swart meerderheid sou word, “hy so hulpeloos soos ’n Jood in Duitsland” sal wees. Gebeure in Afrika het die siening versterk dat dit die einde van die Afrikaner se veiligheid sou beteken as hy onder ’n swart regering te lande sou kom. Afrikaners het apartheid met vryheid vir alle volke in hul tradisionele lande as ’n alternatief vir wit óf swart oorheersing gesien.

Foto 10Vryheid-deur-apartheid is tot die tagtigerjare as ’n voorwaarde vir Afrikaneroorlewing in Afrika gesien. Verwoerd het onderskeid getref tussen permanente of groot apartheid wat die ontwikkeling van ’n eie land vir elke volk beteken het, en klein apartheid wat as tydelike oorgangsmaatreëls gesien is totdat eersgenoemde tot stand gebring is. Afrikaners was egter blind vir die morele implikasies van die beleid en die vernietigende effek wat die gedwonge skeiding op gesin- en samelewingstrukture gehad het.

 

4.    Armoede en taalverwaarlosing

Die nasionale welvaart van groot dele van die Afrikaner is meermale uitgewis, soos tydens die Groot Trek, die Anglo-Boereoorlog, verstedeliking na die oorlog, die Rebellie en die Depressie. Wat opheffing betref, was die Afrikaner op homself aangewese. Die geskiedenis van Afrikanerarmoede en taalverwaarlosing loop hand aan hand met Afrikaners se politieke verhaal. Telkens wanneer Afrikaners die politieke mag verloor het, het die afskeep van Afrikaans, “selfs Taalmoord!” en uiteindelik armoede, gevolg. Daarom het Afrikaners die handhawing van hul vryheid in ’n eie land tradisioneel as ’n voorwaarde vir die voortbestaan van Afrikaans en hul ekonomiese welsyn gesien.

5.    Die stand van die swart bevolking aan die beginjare van apartheid

Voor die Tweede Wêreldoorlog was die oorgrote meerderheid swart mense nog ongeskoold, in tradisionele gebiede woonagtig, nie polities aktief nie en was die getalle verhoudings in die dorpe en stede nie so oorweldigend soos later jare nie. Die verstedeliking tydens die oorlog het hierdie situasie verander, alhoewel dit in daardie jare nie duidelik was of dit ’n permanente toestand gaan wees nie. Die tradisionele leiers het steeds sterk steun gehad, die ANC was relatief onbekend, en soos elders in die wêreld het wit mense nog nie gemeen dat hul vlak van ontwikkeling gelyke politieke deelname in ’n eenheidstaat regverdig nie.

Afrikaners se houdings was paternalisties. Daar was selfs ’n gevoel van trots omdat swart mense se lewensgehalte beter was as in die res van Afrika. Die sentrale vraag in die Suid-Afrikaanse politiek van die grootste deel van die vorige eeu was hoe om die Afrika-volke se reg op vryheid te verwesenlik sonder dat die Afrikaner in dieselfde proses sy vryheid verloor.

6.    Ras en apartheid

Apartheid was nie gegrond op die mislukte rasse-ideologie van Hitler se Duitsland nie, maar op die Westerse hoofstroomdenke oor ras tot ongeveer die einde van die vyftigerjare. Die afgryse in Europa oor die Nazi-gruweldade het ’n rasse-ideologie grondig diskrediteer. Die winde van verandering het sterk oor die wêreld begin waai. Anti-paternalisme, rassegelykheid, politieke bevryding en sosiale kwessies soos die ekonomiese opheffing van armes het teen die begin van die sestigerjare Westerse politieke denke oorheers.

Apartheid het internasionaal ’n simbool geword van rasse-onderdrukking. Europa het die Nasionale Party met agterdog bejeën. Die Nasionale Party was vir Europa die simbool van rassediskriminasie, rasseheerskappy en die onregverdigheid van die vooroorlogse Europa. Suid-Afrika het die teiken van die nuwe onafhanklike state in die Verenigde Nasies geword. Ongelukkig het die eensydige Westerse veroordeling nie Suid-Afrika se konteks volledig in ag geneem nie.

Suid-Afrika was ver van Europa en het nie die gruwels van die oorlog eerstehands meegemaak nie. Die stryd teen Britse oorheersing was hier nog prioriteit. Apartheid was ook nie van die begin af net met teenkanting begroet nie. Die VN-sekretaris-generaal, Dag Hammarskjold, het voorstelle aan Verwoerd gemaak om apartheid te omskep as ’n mededingende alternatief vir integrasie. Sommige Westerse lande het apartheid met belangstelling as eksperiment begroet. Die geweldige ingewikkeldheid van ’n probleem met rasse, nasionalistiese, ideologiese, etniese en kulturele aspekte het baie internasionale waarnemers laat glo dat die Suid-Afrikaanse kwessie onoplosbaar is.

7.    ANC se beleid van geweld en bande met die Kommunistiese Party

Foto 11 Die ANC het tradisioneel baie nou bande met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party gehad. Die president van die ANC in 1927, Josiah Gumede, was na ’n besoek aan Rusland oorstelp van opwinding. Sy kommentaar oor sy Foto 11besoek is veelseggend: “I have seen the world to come where it has already begun. I have been to the new Jerusalem.” Dit was maar net die begin van die hegte verhouding tussen die ANC en Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP). In Afrika het Afrika-nasionalisme, ook bekend as uhuru, soos ’n veldbrand gewoed. In Afrika-lande soos die Kongo, Mosambiek, Angola en Rhodesië het onafhanklikheid gepaard gegaan met wrede geweld gerig op die wit bevolking. Kommunistiese Rusland het bevrydingsbewegings finansieel ondersteun en hulle van wapens voorsien.

In Suid-Afrika het die ANC, Kommunistiese Party, PAC en ander bevrydingsgroepe al meer militant geword. Die ANC-jeugvleuel het onder leiding van Tambo en Mandela die gematigde ANC-leier Moroka onttroon en Luthuli tot ANC-president verkies. Moroka was ’n mediese dokter in Thaba Nchu en die agterkleinseun van Hoofman Moroka van die Barolong. Hy het na die Slag van Vegkop beeste, melk en ander vars produkte na die Voortrekkers gestuur en hulle gehelp om na Thaba Nchu terug te keer. Vanweë die historiese band wou Moroka nie geweld teen Afrikaners steun nie.

Onder leiding van Luthuli, Mandela en Tambo is ’n militêre vleuel, Umkhonto weSizwe, gestig wat binnelandse verset moes aanblaas. Binnelandse geweld het toegeneem. In 1956 het duisende vroue na die Uniegebou opgeruk teen die passtelsel. Die ANC het ook in dié jaar die Freedom Charter as beleidsdokument aanvaar. Een van die tragiese insidente het in 1960 by Sharpeville plaasgevind toe 69 betogers deur die polisie doodgeskiet en 180 gewond is.

Foto 12Verwoerd is kort daarna in ’n sluipmoordaanval tydens die Randse Paasskou geskiet. Hy het wonderbaarlik oorleef. Geweldpleging, terrorisme, sabotasie en bomontploffings het die Suid-Afrikaanse regering geen ander keuse gelaat as om die ANC, PAC, Kommunistiese Party en Poqo te verban nie. Ironies genoeg het Luthuli die Nobelprys vir vrede gekry, terwyl die gematigde Moroka in die vergetelheid verdwyn het.

Tydens die ANC se tweede raadplegende konferensie gedurende 1962 in Tanzanië, het die SAKP die meerderheid poste op die ANC se Rewolusionêre Raad verkry en so in die praktyk beheer oor die ANC se militêre vleuel oorgeneem. Hierdie magsposisie is ook op ideologiese vlak versterk. Die Kommuniste, Joe Slovo en Joe Matthews, se “Strategy and Tactics of the African National Congress” is deur die ANC goedgekeur as grondslag van hul stryd. Die ANC het nie net die ortodokse Marxisties-Leninistiese ideologie nie, maar ook die SAKP se tweefase-revolusiemodel as strategie aanvaar. Slovo het daarna betekenisvol verklaar dat die kortste pad na sosialisme en uiteindelik kommunisme via ’n demokratiese staat is.

Die noue ideologiese en leiersverbintenis tussen die ANC en SAKP het enige skikking met die Nasionale Party voor die val van kommunisme ondenkbaar gemaak. Die algemene konsensus onder Afrikaners was dat die risiko te groot was om die ANC te ontban. Hul strategie was om met die swart tradisionele leiers saam te werk en afsonderlike state en strukture vir die verskillende swart groepe as teenvoeter vir die ANC te skep.

Buthelezi het destyds teen die langtermyngevolge van die ANC-strategie gewaarsku: “As ons die land nou onregeerbaar maak, sal dit na bevryding onregeerbaar bly.” Hierdie voorspelling van Buthelezi is bewaarheid as gekyk word na die hedendaagse geweldsmisdaad, onderwyskrisis en boikotkultuur. Giliomee meen indien ’n volle demokrasie in 1960 ingestel is, sou dit waarskynlik tot populistiese aansprake, ernstige wrywing en kapitaalvlug gelei het. Suid-Afrika is volgens hom gelukkig dat algemene stemreg eers ingestel is nadat kommunisme as ekonomiese alternatief vir kapitalisme in duie gestort het.

8.    Dekolonisasie van Afrika

Foto 13

Harold Macmillan saam met Verwoerd tydens sy aankoms op Jan Smuts Internasionale Lughawe

Die Britse premier, Harold Macmillan, het in 1960 die land besoek en in die parlement sy beroemde “Winde van verandering”-toespraak gehou, waartydens hy die onkeerbaarheid van dekolonisasie voorgehou het. In sy antwoord, het Verwoerd gesê dat wat Suid-Afrika probeer doen met afsonderlike ontwikkeling, heeltemal in lyn daarmee is. Hy het die tuislandbeleid gesien as Suid-Afrika se vorm van dekolonisasie. Waar Brittanje leiding geneem het met die onafhanklikheidswording van Botswana, Swaziland en Lesotho, sou Suid-Afrika voortgaan met die proses om die swart tuislande tot onafhanklikheid te lei.

Die geweld waarmee baie van die Afrika-lande onafhanklik geword het en die rampspoedige beleidsrigtings wat die meeste van hul regerings na onafhanklikheid ingestel het, het nasionalistiese Afrikaners verder oortuig dat ’n algemene demokrasie in ’n eenheidstaat nie wenslik was nie. Die meeste Afrikaners het net nie Britse oplossings van een man een stem sonder die beskerming van minderheidsregte vertrou nie. Een van die belangrikste dryfvere agter die apartheidsbeleid was die idee van konflikvoorkoming. Wat apartheid in die oë van die nasionalistiese intelligentsia regverdig het, was die idee dat die Afrikaners bereid was om enige iets vir die swart mense te gun wat hulle vir hulself opeis. Net soos die Afrikaners, sal hulle geregtig wees op hul eie skole, kerke, woongebiede, tuislande en regerings wat hulle kan inrig volgens hul eie kulturele voorkeure. Die voortdurende vrees van Afrikaners vir hul veiligheid en “verswelging” deur getalle het ’n belangrike rol gespeel in die instandhouding van statutêre apartheid.

9.    Die Koue Oorlog

Afrika het ’n belangrike slagveld in die Koue Oorlog geword. Die geloofwaardigheid van die NP-regering se standpunt is versterk deur ’n sterk Sowjet- militêre teenwoordigheid in Suider-Afrika. Die Amerikaanse veiligheidsdienste se sienings het gaandeweg Suid-Afrika se binnelandse en buitelandse beleid beïnvloed. Daar was al meer gepraat van ’n Sowjetgesteunde kommunistiese aanslag wat deur Amerikaans-ontwikkelde teen-rewolusionêre strategieë beveg moes word. VSA-doktrines het regeringsbeleid geword, en geldige swart strewes is soms as deel van die “aanslag” gesien wat beveg moes word. Die konflik is al minder vertolk in terme van botsende strewes na selfbeskikking wat deur afsonderlike state opgelos moes word. Die ANC se koppeling aan die kommunisme en die Sowjetunie het waarskynlik ook ’n verharding in die regering se houding teweeg gebring. Gesprekke met die oog op ’n oplossing het eers na die val van kommunisme en die beëindiging van Rusland se grootskaalse steun aan die ANC moontlik geword.

10.    Botsende ideologieë

Die sosialistiese grondslag van die ANC het ’n trompopbotsing met die vryemarkgesinde regering onafwendbaar gemaak. Die hoogste waarde van die sosialisme is gelykheid in die vorm van gelyke uitkomste. Die sentrale sosialistiese uitgangspunt is dat ongelykheid voortspruit uit ongelyke behandeling (verontregting) deur die samelewing, en nie weens ongelyke talente of insette nie. Die oplossing vir hierdie strukturele verontregting lê in ’n klasseopstand en revolusie. Welvaartsverdeling moet plaasvind volgens die basiese behoeftes van ’n mens, en nie volgens die persoon se produksie nie.

Vir sosialiste is demokrasie politieke gelykheid en sosialisme ekonomiese gelykheid. In praktyk het dit beteken dat die ANC die apartheidsbestel gesien het as die oorsprong van ongelykheid in Suid-Afrika, wat uitgeskakel moet word met ’n klassestryd, moet lei tot ’n nasionaal-demokratiese revolusie, wat dan weer gevolg moet word met ’n sosialistiese revolusie en uiteindelik waarskynlik deur ’n volle kommunistiese bestel. Die gewone oorsake van armoede en onderontwikkeling op die vasteland van Afrika waar daar nooit apartheid was nie, het by die ANC verbygegaan en feitlik geen waarneembare rol in hul ontledings gespeel nie.

Aan die ander kant het die regering die oorsprong van armoede en onderontwikkeling van veral die swart bevolking hoofsaaklik as die gevolg van ’n kultuur en waardestelsel beskou. Die invloed van sekere apartheidswetgewing soos werksreservering is feitlik geïgnoreer. Die swart mense se griewe is toegeskryf aan kommunistiese opstokers en intimidasie. Die feit dat die ANC enige sprake van taal, kultuur en etnisiteit teengestaan het en in die Marxistiese tradisie minderhede beskou het as “ethnic trash” wat totaal uitgewis moes word, het ook nie gehelp om die Afrikaners se sienings te verander nie.

Afrikanerkritiek teen apartheid

Die algemene persepsie dat alle Afrikaners apartheid gelate aanvaar het, is beslis verkeerd. Selfs onder die nasionaliste was daar fel kritiek en debatte oor oplossings en alternatiewe. Giliomee beklemtoon egter dat die materiële en ander voordele wat hierdie vordering meegebring het, nie kan opweeg teen die geestelike skade wat apartheid meegebring het nie. Die kritiek uit die letterkunde, kerklike en ekonomiese kringe word aan die hand van drie persone verwoord:

Foto 14 NP van Wyk Louw word deur sy tydgenote beskryf as ons grootste digter en tot vandag toe beskou as een van die Afrikaner se grootste intellektuele leiers. In 1945 is hy een van die stigters van die tydskrif Standpunte en bly redaksielid tot sy dood in 1970. In 1948 ken die Universiteit van Utrecht, Nederland, aan hom ’n eredoktorsgraad toe, en in 1950 aanvaar hy die leerstoel in Afrikaanse Taal en Kultuur aan die Universiteit van Amsterdam. In 1958 volg Louw vir CM van den Heever op as hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy kennis van intellektuele gebiede soos die Katolisisme, wiskunde, geskiedenis en veral die filosofie was enorm. In 1966 ontvang hy eregrade van onderskeidelik die Universiteit van Rhodes, Universiteit van Stellenbosch en Universiteit van Kaapstad. Deur die jare publiseer hy talle poësie en prosa. Louw wou Afrikaners tot kritiese selfondersoek dwing oor die morele implikasies van apartheid en die spanning wat dit in verhoudings bring. Hy het geglo dat Afrikaners moet “voortbestaan in geregtigheid”. Louw se vertrekpunt was dat Afrikanerskap vir die buitewêreld aantreklik moes wees. Sy pleidooi vir “vrye meningswisseling” as “die lug waarsonder ons nie kan lewe nie” was daarop gerig om die harde kante van Afrikanerwees te versag in ’n tyd toe gesprekke beperk was tot eie kring en kritiese stemme gesmoor was. Sy verbondenheid met die Afrikanersaak word treffend verwoord in sy voorspraak uit Die dieper reg:

Ek kom om vir ’n volk te pleit
wat klein naas al die volke staan, –
dat hulle naam nie sal verklink
en tot die stiltes gans vergaan;
maar dat hul sterk voor God durf kom.
Rein is die mens wat suiwer streef
en deur hul reg ’n nageslag
in die verre eeue nog kan leef…

Kort voor Verwoerd se dood het hy en Louw koppe gestamp. In die Pluimsaad waai ver vra Louw: “Wie is die volk?” Daarteenoor was Verwoerd se vertrekpunt dat Afrikaners vanuit ’n gekonsolideerde en kragdadige posisie standpunt moet stel. Tydens die republiek se vyfde verjaarsdag het Verwoerd Louw se vertrekpunt voor die skare van 750 000 mense verdoem met begeerte dat daar eerder skrywers en digters na vore sal tree “wat nie weifelend vra: wie is ’n volk nie?, maar wat kan uitjubel: Dit is my volk!” Jaap Steyn skryf in sy Louw-biografie dat die debat die begin was van die groterwordende breuklyn onder Afrikaners. Enige kultuurgemeenskap het skrywers, digters, sangers, joernaliste en meningsvormers nodig met ’n kritiese blik op die werklikheid. Net so is daar ook beskermers nodig wat sorg dra vir interne stabiliteit. Kultuurgemeenskappe ontspoor as hulle eensydig klem op enige een van die twee plaas. Die gesprek tussen die twee vertrekpunte behoort dinamies en selfs robuus te wees, maar nie verdelend nie. Sedert die Louw/Verwoerd-debat kon Afrikaners nie werklik suksesvol hierdie dinamiese kragte weer saambind nie. Sonder die oop verhouding na buite verstar gemeenskappe, en sonder die stabiliteit van eie integriteit verval hulle in opportunisme.

Foto 15

Beyers Naudé saam met ANC-president Oliver Tambo

Beyers Naudé was een van die mees omstrede figure van sy tyd. Hy was ’n Afrikaner in murg en been, ’n direkte afstammeling van die Franse Hugenote en vernoem na generaal Christiaan Beyers onder wie sy pa geveg het tydens die Anglo-Boereoorlog. In 1918 was sy pa medestigter van die Broederbond en Beyers Naudé was vir etlike jare die jongste lid van die organisasie. As predikant van die NG Kerk word hy verkies tot moderator van die Suid-Transvaalse Sinode. In 1960 verwerp hy die Bybelse regverdiging van apartheid en stig die Christelike Instituut met die doel om apartheid te beveg. Hy ondersteun aktief die ANC se gewapende stryd teen apartheid en word onder huisarres geplaas. Na sy dood in 2004 is hy vereer met ’n staatsbegrafnis en Beyers Naudé-rylaan is na hom vernoem. Ten spyte van die feit dat hy deur die meerderheid Afrikaners van sy tyd as ’n verraaier beskou is, het hy kort voor sy dood nog verklaar: “Ek is ’n Afrikaner en was in my lewe nog nooit iets anders gewees as ’n Afrikaner nie.”

Foto 16Anton Rupert was een van die suksesvolste Afrikanerentrepreneurs tot op hede. Hy het sy maatskappy, Rembrandt, uitgebou tot ’n finansiële reus wat in 35 lande en ses kontinente sake doen. Rupert het in die sestigerjare Verwoerd die stryd aangesê oor die ekonomiese haalbaarheid van die tuislande. Verwoerd het uit vrees vir kolonialisasie van tuislande van die standpunt uitgegaan dat die tuisland-regerings self verantwoordelikheid moes neem vir nywerheidsontwikkeling. Om die rede het Verwoerd geweier dat Rupert en ander maatskappye in tuislande belê. Tyd het Rupert reg bewys. Die gebrek aan volhoubare nywerheidsontwikkeling het tot armoede in die tuislande en toenemende verstedeliking van die swart bevolking gelei.

Ten spyte van die ideale en die geweldige pogings wat ingesit is om die beleid te laat slaag, was dit teen die einde van die Vorster-tydperk duidelik dat apartheid in ’n doodloopstraat beland het. Die vinnige ekonomiese groei het swart verstedeliking dramaties laat toeneem. Die meeste swart tuislande het nie naastenby so vinnig ontwikkel as wat verwag was nie. Daarby het die internasionale weerstand teen apartheid die druk om te verander laat opbou.

Vorster se uitwaartse beleid

VerwoFoto 17erd was onder Afrikaners ’n uiters gewilde eerste minister. Baie Afrikaners onthou nog die geweldige skok toe hy op 6 September 1966 deur Dimitri Tsafendas in die Volksraadsaal met ’n dolk doodgesteek is. Verwoerd se onverwagse dood het ’n intellektuele vakuum binne die Nasionale Party gelaat wat nooit weer gevul is nie. Dit het mettertyd gelei tot ’n verstarring van politieke denke wat ook die doodsklok vir apartheid gelui het.

Na die sluipmoord op Verwoerd, het advokaat BJ (John) Vorster eerste minister geword. Hy was ’n generaal in die Ossewabrandwag uit verset teen Jan Smuts se deelname aan die oorlog. Tydens sy internering was hy ook kamphoof op Koffiefontein. Vorster word later Volksraadslid vir Brakpan en minister van Justisie. Vorster was ’n gewilde eerste minister, lief vir sport en bekend vir sy humor.

Foto 18

BJ (John) Vorster

Vorster het teen alle verwagtinge begin om klein apartheid af te takel op sportgebied. ’n Klein skeuring na regs het tot die stigting van die Herstigte Nasionale Party (HNP), onder leiding van Albert Hertzog en Jaap Marais, gelei.

Vorster het met hulp van sy Minister van Verdediging, PW Botha,  begin om Suid-Afrika se militêre vermoë te versterk. Met die uitwaartse beleid van dialoog en détente het Vorster terselfdertyd uitgereik na ander Afrika-state. Dit het die grondslag gelê vir ’n fase van ontspanningspolitiek tussen Suid-Afrika, Afrika en sy Westerse bondgenote. Een van Vorster se groot uitdagings was om ’n oplossing vir die Rhodesiese vraagstuk te vind. Vanweë Vorster se bemiddeling, is vreedsame verkiesings gehou wat ’n einde aan die burgeroorlog gebring het.

Foto 19

In Mei 1971 arriveer Suid-Afrika se eerste duikboot in Tafelbaai. Die duikboot word na Maria van Riebeeck vernoem.

Foto 20 Vorster se drome het egter in skerwe gespat met die Soweto-onluste op 16 Junie 1976. Die algemene persepsie is steeds dat die gebeure ’n opstand teen Afrikaans was as gevolg van die regering se afdwing van Afrikaans as onderrigtaal. Advokaat Louis Pienaar bevraagteken die persepsie asof dit die volle waarheid vertel. Pienaar bevind dat ’n “onbuigsame, hofvaardige en  stompsinnige” burokrasie se toepassing van die taalbeleid beslis ’n aanleidende oorsaak tot die onluste was. ’n Toegeeflike benadering kon die tragedie beslis vermy het. Die rol van kommunistiese politieke agitators se intimidasie kan ook nie ontken word nie. Pienaar bevind die agitators het geweet dat ’n gewelddadige botsing met die polisie op hande was indien hulle met die onwettige optog sou voortgaan. Hulle was “koelbloedig genoeg om weerlose skoliere in die spervuur te lei”, terwyl hulleself in die agtergrond geskuil het. Die tragiese dood van 15 skoliere het Vorster se drome vir ’n vreedsame Suid-Afrika in skerwe laat spat. Hierdie onluste het ’n nuwe fase van binnelandse onrus en geweld ingelei.

SOUTH AFRICA-APARTHEID-RIOTSDie laaste paar jare van Vorster se bewind is gekenmerk deur toenemende gerugte oor korrupsie, wanbesteding en magsmisbruik in sekere staatsdepartemente. Die gerugte het mettertyd gelei tot ’n volledige ondersoek na die praktyke binne die Departement van Inligting. Dit het later bekend geword as die Inligting-skandaal en gelei tot die uittrede van Vorster. Alhoewel nog op die oog af sterk, het die Nasionale Party teen die einde van die sewentigerjare krake in sy fondamente begin toon, wat later sou lei tot skeuring en verbrokkeling van die eens magtige party van Malan, Strijdom en Verwoerd.

Teen die einde van die Vorster-era was dit duidelik dat ’n koerswysiging dringend nodig was. Afrikaners kon egter nie ooreenstem wat die koerswysiging moes wees nie.