In die middel en aan die westekant van Van Riebeeckpark

In die middel en aan die westekant van Van Riebeeckpark

Met sy dertigjarige bestaan in 1959, het die FAK taalfeeste beplan met die doel om almal wat Afrikaans kan praat of verstaan, te laat deelneem aan die “Wonder van Afrikaans”. Hiervolgens sou sentrale feeste op groot sentra gehou en taalhelde gehuldig word. Die gedagte aan ’n gedenkteken op Welkom het ontstaan op ’n vergadering van skoolhoofde, waar die aandeel van skole in die feesverrigtinge bespreek is. Die aanvanklike konsep was ’n klipstapeling, wat gou uitgebou is tot ’n monument “Die Wonder van Afrikaans”. ’n Komitee van 25 lede, onder leiding van meneer J van Zyl Alberts, het die inisiatief vir die oprigting geneem. Meneer Leon Roodt was die argitek, en die ontwerper meneer Gerhard Olivier. Mejuffrou Laurika Postma was die beeldhouer van die bronskopstuk met fakkel, en meneer HL Joubert het die gietwerk gedoen. Die boukontrakteur was meneer Stapelberg en die boukoste was R6 000. Die terrein, wat geskenk is deur die dorpsbestuur onder voorsitterskap van meneer JI Cronjé, is geleë aan die westekant en in die middel van Van Riebeeckpark, ’n hanetree vanaf die spore in beton van die poskoets van die Van Riebeeck-feesviering in 1952. Die gedenkteken is so geplaas dat dit staan in die brandpunt aan die westekant van ’n Oos-wes geleë groenstrook en twee diagonale boom-omsoomde park-wandelpaaie. (Dit is vandag duidelik, uit die pragtige groot bome en aanloklike ruimtes in die groenstrook en park, wat die stadsbeplanners indertyd met hierdie parkland-beplanning beoog het.)

Die 3,7 m hoë gedenkteken, in die vorm van ’n prisma, is in sy geheel saamgestel uit gelyksydige driehoeke. Die voetstuk is ’n driehoek, gebou van ruwe ysterklip uit die omgewing. Hierop staan die prisma met ’n trapvormige voetstuk gedeelte van glad afgewerkte, ongepolyste, rooibruin Parysgraniet, waarop gemonteer is in die hooffasette van gegote brons.

Die voetstuk van ruwe ysterklip versinnebeeld die geloof waaruit gespruit het die arbeid en uiteindelike triomf van die kampvegters vir Afrikaans. In die ligbreking van die prisma tree verskeie ligpunte van die stryd om erkenning van die taal na vore. Op die trapvormige voetstukgedeelte word die trapsgewyse ontwikkelingsgang wat tot die “Wonder van Afrikaans” gevoer het, aan elke van die drie kante van die gedenkteken in drie groepe uitgebeeld.

Die eerste groep beeld die Afrikaanse Bybel uit. Die regstreekse begeerte om die Bybel in Afrikaans te vertaal, was die aanleidende oorsaak tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners, wat die Afrikaanse taalstryd ingelui het en waaruit gegroei het die Afrikaanse boek. Dit alles het gevoer tot Die Wonder van Afrikaans.

Op die tweede kant word die Genootskap van Regte Afrikaners – die Eerste Taalbeweging – vertoon, op wie se werk die Afrikaanse taalverenigings, van die Tweede Taalbeweging gebou is in medewerking met ons skrywers, digters en redenaars. Alles en almal het meegehelp tot die wondersnelle ontwikkeling en gevolglike erkenning van Afrikaans.

Derdens word spreektaal uitgebeeld wat baie jare reeds stil gewag het op diegene wat dit wou aangryp en indra in die skryftaal, wat Afrikaans weer onteenseglik aan die wêreld kon toon as kultuurtaal – wat binne die bestek van ’n halfeeu tot die viering van die Wonder van Afrikaans gelei het.

Die hoeksteenlegging van hierdie eerste Afrikaanse Taalmonument in Suid-Afrika is op 23 Mei 1959 deur professor DF Malherbe waargeneem.

Die onthulling is op 20 Augustus 1960 waargeneem deur professor DF Malherbe nadat mevrou MM Jansen ’n tweede gedenksteen en professor S du Toit die derde gedenksteen onthul het.

Die volgende boodskap van professor doktor Malherbe som die essensie en inhoud van hierdie Afrikanerbaken pragtig op:

“Die taal is ’n skeppingsgawe van God aan die mens, ’n vermoë om hom te verhef bo alle ander skepsels, en tewens ’n alomvattende sentrale bindingsmiddel van ’n volk. Die klimaat waarin Afrikaans gebore is, was berekend om hom te laat versink in ’n wildernis van moeras tot ’n brabbeltaaltjie, ’n magtelose gestamel tussen mense, tevrede met vraag en antwoord, armlik en onbekwaam om te styg tot die hoogte van die kultuurvlak. Maar Afrikaans, ’n geskenk van God, ’n wonder deur geboorte, het opgestaan tot wonderbaarlike ontplooiing; Afrikaans, kind van die veld, meer as honderd jaar in natuurlike groei aan homself oorgelaat, onbelemmerd en vry van skoolmeesterlike dwangbuise.

“Die patriotmanne wat hom eerste verhef tot skryfmiddel, wys ’n skrale oes.

Getroues, wees tevrede, want
vlak by die drumpel van die Dood
groei’t vak aan vak op Gods bestel;
’n ander skaar besorg die brood.

“Hulle werk staan as baken van geloofsmoed op die vlakte van ons geskiedenis, terwyl Afrikaans in ons eeu sy hoogtes bereik op alle terreine.

“Dit is ondenkbaar dat so ’n taal, versinnebeeld in die gedenkteken op Welkom, gegee sou wees aan ’n volk wat nie ’n toekoms het nie. Mag hy die gedagte van die wêreld verryk met Christelike inhoud.”

Bron: Van Wijk, J. 1989. Taalmonument. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 120–121.