Voor die Stadhuis van Koster

Voor die Stadhuis van Koster

Ongeveer 140 km wes van Johannesburg aan die spoorlyn na Mafikeng is die dorp Koster geleë.

Koster dra die naam van die eienaar van die plaas Kleinfontein waarop die dorp aangelê is, naamlik Bastiaan Hendricus Koster, vroeër van Rotterdam, Nederland, wat hom in 1860 op die plaas gevestig het.

Met die Republiekwording op 31 Mei 1961, is ’n baken deur die inwoners van Koster in die vorm van ’n stapel klippe voor die stadhuis opgerig. Spoedig het die gedagte by die dorpsraad ontstaan om ’n monument op te rig wat die verkryging van die republikeinse staatsvorm op ’n meer blywende wyse kan uitbeeld.

Meneer DJ Seymore, die voorsitter van die dorpsraad, en meneer PW van der Walt, die stadsklerk, het die monument in oorleg met meneer WP Anderson van Rustenburg ontwerp. Meneer Anderson se firma was ook vir die maak en oprigting van die granietmonument verantwoordelik.

Die voetstuk van die vier-en-‘n-half meter hoë gedenkteken is gebou met die klippe wat met republiekwording daar gestapel is. Bokant die voetstuk is vier granietpanele, reghoekig tot mekaar om die monument aangebring, waarop respektiewelik die Republiekwapen, die dorpswapen, die oprigtingsgegewens en ’n fakkel uitgegraveer is. ’n Gedenknaald, wat toekomsvisie voorstel, vloei uit die panele na bo. ’n Wawiel is op die naald uitgebeeld. Dit stel die Voortrekkers se trek na die binneland voor, waar hulle ’n aantal republikeinse regeringsvorms ingestel het. Graniet, die materiaal waarvan die monument gebou is, stel standvastigheid voor.

Op 30 Mei 1962 is die gedenkteken deur doktor Albert Hertzog, toenmalige Minister van Gesondheid en Pos- en Telegraafwese, onthul. By dié geleentheid het hy gesê dat Suid-Afrika nie ’n land vir sagte en verwyfde mense is nie, maar dat die volk taak moet wees, en ook gereed om die hoogste offer vir die Republiek te bring. Hy het die verwagting uitgespreek dat Suid-Afrikaners sterk genoeg is om die probleme van die toekoms op te los.

’n Sentlegging op die dag van die onthulling is gebou om fondse in te samel, maar die dorpsraad het feitlik die totale koste van R2000 self gedra.

Die republikeinse staatsvorm is dié regeringsvorm waarvoor die Afrikanervolk in die verlede by uitstek ’n voorkeur openbaar het. Tydens die Groot Trek en daarna, met die Republiek Natalia van 1839 en met die verkryging van die Voortrekkers se onafhanklikheid na die Sandrivier- (1852) en Bloemfontein-konvensie (1854), is republikeinse regeringsvorms aanvaar.

Met die verlies van die Boererepublieke na die Anglo-Boereoorlog, het die republikeinse staatsvorm uit Suidelike Afrika verdwyn, maar met die herontwaking van Afrikanernasionalisme, in die loop van die twintigste eeu, het die gedagte aan die herstel van die republikeinse staatsvorm bly voortleef.

Op 20 Januarie 1960 het premier doktor HF Verwoerd aangekondig dat die vraag deur middel van ’n referendum aan die volk gestel sal word of Suid-Afrika ’n republiek moet word. Toe die uitslag van 5 Oktober se volkstemming bekend gemaak is, het die republikeine met 850 458 teenoor 775 878 geseëvier. Op 31 Mei 1961 het die Republiek van Suid-Afrika tot stand gekom.

Die betekenis van republiekwording soos versinnebeeld deur die Koster-monument en trouens ander Republiekmonumente, lê daarin dat die Boererepublieke wat op 31 Mei 1902 hul onafhanklikheid verloor het, herleef het. Paul Kruger het reeds in sy laaste boodskap aan sy volk verklaar dat die Afrikanervolk sy ideale kan bereik deur eenheid van wil en kragte. Eers byna 60 jaar later sou die vreedsame terugkeer tot ’n republiek geskied.

In teenstelling met die Republiek en sy monumente, soos dié een op Koster wat bly voortbestaan het, het die aanslae van die veranderende wêreld die een na die ander Westerse gedenktekens elders in Afrika laat verdwyn. As sodanig dien die Koster-monument tot eer van Afrikaners wat in die tydperk van Britse monargie steeds die geloof in ’n Afrikaner-ideaal, naamlik die republiek, wakker gehou het.

Bron: Rautenbach, T.C. 1989. Republiekmonument. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 166–167.