Strijdom-plein, geleë op die hoek van Kerk- en Van der Waltstraat, Pretoria

Strijdom-plein, geleë op die hoek van Kerk- en Van der Waltstraat, Pretoria

Op Strijdom-plein, op die hoek van Kerk- en Van der Waltstraat in Pretoria, staan die Strijdom-beeld, opgerig ter ere van advokaat JG Strijdom, voormalige eerste minister van Suid-Afrika (1954-1958). Die beeld bestaan uit ’n reuse kopstuk wat bo-op ’n voetstuk geplaas is en beskerm word deur ’n reuse koepel wat op die grond agter die beeld rus. Voor die beeld verskyn ’n suil met vier galopperende perde daarop, wat in ’n spuitfontein staan, en waarteen die water spuit.

Vier vry hardlopende perde (wat die provinsies van Suid-Afrika voorstel), word in die algemeen aanvaar as die simbool van vryheid, terwyl die spuitfontein die stuwing en strewe na onafhanklikheid simboliseer. Die kopstuk van Strijdom beklee die mees oorheersende posisie in die beeldekompleks, sodat sy wese groot en sterk weergegee word. Die gesig kyk reguit na die simbool van vryheid, terwyl die koepel dien om perspektief en skakeling tussen die man en die ideaal te beklemtoon. Op die voetstuk waarop die kopstuk rus, staan die volgende woorde: En as jou vryheidsdag eens oor jou velde lag weet wie te danke is eer hul nagedagtenis.

Die gedagte om hierdie gedenkteken op te rig, het kort na die dood van Strijdom ontstaan. Weldra is ’n Strijdom-monumentekomitee onder voorsitterskap van die Administrateur van Transvaal, meneer SGJ van Niekerk, in die lewe geroep, met Coert Steynberg as beeldhouer van die kopstuk en Danie de Jager van die perdegroep. Die hele opset is uitgevoer onder toesig van die argitekte Roelf en Hans Botha. Nadat die onthulling van die beeld ’n tyd lank vertraag is, is dit op 31 Mei 1972 deur mevrou Susan Strijdom, die weduwee van advokaat Strijdom, onthul, terwyl premier BJ Vorster as geleentheidspreker opgetree het.

Johannes Gerhardus Strijdom is op 14 Julie 1893 op die plaas Klipfontein in die distrik Willowmore gebore. In 1917 verwerf hy die LLB-graad buitemuurs aan die Transvaalse Universiteitskollege en vestig hom as prokureur op Nylstroom.

Op Nylstroom het Strijdom sedert 1918 as prokureur vinnig opgang gemaak en in 1929 is hy tot Volksraadslid vir Waterberg verkies.

Na die Herenigde Nasionale Party se oorwinning in 1948 is hy in Malan se Kabinet as Minister van Lande opgeneem. Met die uittrede van Malan in 1954 is Strijdom bo Havenga as Eerste Minister van Suid-Afrika verkies. Hy is op 24 Augustus in 1958 oorlede terwyl hy nog die amp beklee het.

In Kerkstraat Nylstroom, hoofstad van die Waterberg in die hartland van Noord-Transvaal, staan die Strijdom-huis, vlak naas die historiese Witkerk van die Nederduitse Gereformeerde Kerk wat op sy beurt weer skuins oorkant die opvallende standbeeld van advokaat Strijdom staan.

Aanvanklik het die Strijdoms ’n klein grasdakhuisie in die buitewyke van die dorp laat oprig. Soos die gesin gegroei het, het hulle behoefte ook gegroei. In 1943 is die huis vergroot en in 1948 is die argitek Gerard Moerdijk (self ’n boorling van Waterberg) genader om die huis te vergroot en die Kaaps-Hollandse fassade te ontwerp. In 1958, na die afsterwe van die Eerste Minister, het die Transvaalse Provinsiale Administrasie die huis oorgeneem. In 1975 word dit tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar en as museum ingerig waarna die huis professioneel gerestoureer is. Meubels en ander gebruiksartikels van die Strijdomgesin en ook persoonlike besittings van advokaat Strijdom maak die museumskat uit. Die lewensgetroue borsbeeld van advokaat Strijdom, gekap uit ’n hardekoolstomp uit sy geliefde Bosveld, laat die besoeker aan die Strijdomhuis te staan kom voor Hans Strijdom, die mens.

Daar bestaan etlike ander borsbeelde van wyle advokaat JG Strijdom. Benewens die reeds vermelde is daar borsbeelde deur Coert Steynberg in die Parlementsgebou, op sy graf in die Heldeakker in Pretoria en in die voorportaal van die JG Strijdom-hospitaal. In die radiotoring in Hillbrow is ’n borsbeeld deur Hennie Potgieter en by die Ingenieursfakulteit van die Universiteit van Pretoria ’n borsbeeld deur Johanna Wassenaar.

Bron: Basson, J.L. 1989. J.G. Strijdom. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 204–205.