Voor die HF Verwoerd-gebou in St Andrewstraat, Bloemfontein

Voor die HF Verwoerd-gebou in St Andrewstraat, Bloemfontein

By sy ampsaanvaarding as Eerste Minister van Suid-Afrika het hy gesê dat die eerbetoon hom verleë laat voel en dat hy dit alleen kan verwerk met die wete dat hy slegs gee wat hy ontvang het … en hy het ontvang en gegee in opregtheid, nederigheid en erkentlikheid – soos die Republiek van Suid-Afrika, waaraan sy naam onsterflik verbind sal bly.

Hendrik French Verwoerd is op 8 September 1901 in Amsterdam, Nederland, gebore, maar emigreer saam met die Verwoerd-gesin na Suid-Afrika teen die einde van 1903. Na ’n briljante skoolloopbaan studeer hy aan die Universiteit van Stellenbosch en verskeie buitelandse universiteite voordat hy op 26-jarige leeftyd as hoogleraar aan die Universiteit van Stellenbosch aangestel word. Sy betreklik kort akademiese loopbaan loop in 1936 ten einde toe hy redakteur van Die Transvaler word. In 1948 word hy as senator benoem en in 1950 in die Kabinet opgeneem as Minister van Naturellesake. Op 2 September 1958 word hy Eerste Minister van Suid-Afrika, ’n ampstermyn wat vele hoogtepunte sou bevat: ’n onafhanklike republiek, selfbestuur van die Transkei, die Oranjerivierprojek, ’n eie wapenbedryf en vele meet. Hy baan ook die weg vir sy opvolgers ten opsigte van gesprekvoering met swart leiers van Afrika.

Op 6 September 1966 sterf hy onverwags aan die hand van ’n sluipmoordenaar – die eerste sluipmoord op ’n Suid-Afrikaanse staatsman.

Doktor HF Verwoerd is talle kere vernoem. Landwyd is skole, geboue, strate, ensovoorts na hom genoem. Benewens die indrukwekkende standbeeld voor die HF Verwoerd-gebou in Bloemfontein, bestaan daar ook talle borsbeelde.

Geruime tyd voor die voltooiing van die huidige HF Verwoerd-gebou in Bloemfontein was daar die gedagte om ’n standbeeld op die betrokke terrein op te rig. Daar is toe aan ’n beeld van ’n saaie gedink. Die beoogde beeld sou dan by voltooiing Die Saaier heet.

Na die moord op doktor Verwoerd het die Administrateur van die Oranje-Vrystaat, meneer JWC du Plessis, in oorleg met die Uitvoerende Komitee besluit om die gebou na doktor HF Verwoerd te noem en ’n standbeeld van hom op die terrein op te rig. Opdrag is aan die beeldhouer, Gerard de Leeuw, gegee om ’n standbeeld in brons van die voormalige premier te beeldhou. Die standbeeld moes doktor Verwoerd as staatsman, leier en redenaar uitbeeld. Meneer De Leeuw het gevolglik oor ’n liggaamshouding besluit wat ’n boodskap vir die toekoms moes uitdra. Doktor Verwoerd sou uitgebeeld word as ’n groot leier wat vergesigte gehad het, wat voortdurend vooruit beplan en gekyk het, wat verder onwrikbaar die moed van sy oortuiging gehad het, ongeag talle teenslae wat ons land getref het. Deur middel van hierdie beeld word doktor HF Verwoerd se karakter en persoonlikheid in die liggaamshouding versinnebeeld.

Die HF Verwoerd-standbeeld, wat R19 000 gekos het en 4,267 m hoog is, is in ’n staande houding geplaas met die voete wyd uitmekaar, die bors oop, die hande in die sye, die blik strak na vore gerig en die das liggies deur die winde van verandering skuins gewaai, terwyl hy vas bly staan. Die standbeeld staan op n marmervoetstuk. Op die voetstuk is ’n plaat met die woorde: Skep u eie toekoms self. Dit is deur doktor Verwoerd onderteken.

Mevrou Betsie Verwoerd, eggenote van die ontslape doktor Verwoerd, het die standbeeld op 17 Oktober 1969 onthul by die amptelike opening van die HF Verwoerd-gebou deur die voormalige Eerste Minister, meneer BJ Vorster. By hierdie geleentheid was daar sowat 13 000 mense teenwoordig.

Enkele van die bekende borsbeelde van doktor Verwoerd is:

•    Die granietborsbeeld voor die hoofingang van die HF Verwoerd-hospitaal in Pretoria. Die beeldhouer is Jo Roos en die beeld is op 25 Januarie 1967 deur professor WJ Verwoerd, oudste seun, onthul.
•    Nog twee borsbeelde deur Jo Roos is die Carrara-marmerbeeld in die HF Verwoerd-gebou in Kaapstad en die Maroela-beeld in die HF Verwoerd-biblioteek van die Randse Afrikaanse Universiteit.
•    Coert Steynberg het die beeld in die Premiersgalery van die Parlementsgebou in Kaapstad geskep.
•    Twee borsbeelde is deur Johanna Wassenaar gemaak. Een staan by die Instituut vir Eietydse Geskiedenis aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en die ander in die Administrateurskamers in die Provinsiale gebou in Pretoria.
•    Johan Steynberg se bronsbeeld van die toenmalige premier is voor die munisipale biblioteek in Verwoerdburg opgerig.
•    ’n Treffende borsbeeld deur die beeldhouer Jan Labuschagne is op 31 Mei 1982 deur mevrou Verwoerd onthul, voor die stadsaal op Meyerton, op dieselfde plek waar doktor Verwoerd sy bekende republikeinse toespraak op 26 Maart 1960 gelewer het.
•    En dan, op sy graf in die Helde-akker in Pretoria, is ’n bronsborsbeeld deur die beeldhouer Danie de Jager.

Bron: Geyser, O. 1989. H.F. Verwoerd. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 110–111.