Die borsbeeld is in die ingangsportaal van die DF Malan-sentrum van die Universiteit van Stellenbosch

Die borsbeeld is in die ingangsportaal van die DF Malan-sentrum van die Universiteit van Stellenbosch

’n Borsbeeld van die gevierde Afrikanerleier Daniel Francois Malan, geskep deur Coert Steynberg, is op 22 Mei 1974 met die herdenking van sy honderdste verjaardag op Stellenbosch onthul. Dié borsbeeld, die besitting van die Universiteit van Stellenbosch, staan in die ingangsportaal van die DF Malan-sentrum. Dit is uit brons gemaak, is ongeveer 560 cm hoog en front noordwes. Die borsbeeld rus op ’n 2,9 m hoë vierkantige marmervoetstuk, wat op sy beurt op ’n sirkelvormige witmarmervoetstuk van ’n meter hoog geplaas is. Die eenmeterhoë voetstuk met die borsbeeld staan in die middel van ’n veel groter sirkelvormige marmervoetstuk en die hele beeld is teen ’n halfsirkelvormige witmarmer-agtergrond geplaas. Daar is geen inskripsie op die beeld nie.

Afgesien van hierdie borsbeeld bestaan daar nog ’n borsbeeld van DF Malan, wat deur die beeldhouer Henkel geskep is. In totaal bestaan daar vier replikas hiervan, waarvan een in die DF Malan-museum in die JS Gericke-biblioteek van die Universiteit van Stellenbosch gehuisves word, en ’n ander in die Parlementsgebou, Kaapstad.

Die borsbeelde van DF Malan versinnebeeld sy grootheid as staatsman, en as Afrikaner kerk- en kultuurleier. Hy is op 22 Mei 1874 op die plaas Allesverloren, naby Riebeeck-Wes, gebore as ’n kind uit ’n gesiene en stoere Afrikanerfamilie. Nadat hy hom as predikant aan die Victoria-kollege bekwaam en sy doktorale studie aan die Universiteit van Utrecht, Nederland, voltooi het, was hy van 1905 tot 1915 agtereenvolgens predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Kaapstad, Montagu en Graaff-Reinet.

Van meet af aan het doktor Malan ’n belangrike rol in algemene kerklike sake gespeel en baie gedoen om die Afrikanersaak te bevorder – optredes waarvoor hy gou erkenning gekry het. Met die tweespalt in die blanke politiek wat onder meer die stigting van die Nasionale Party in 1914 uitgeloop het, is doktor Malan in 1915 aangestel as redakteur van De Burger – die blad was as die Nasionale Party se spreekbuis opgetree het.

Doktor Malan was dit ook beskore om ’n belangrike rol in die politiek te speel: in 1919 word hy as die Nasionale Party se verteenwoordiger vir Calvinia verkies en hy bly dit tot 1938. Hierna het hy, totdat hy uit die politiek getree het, die kiesafdeling Piketberg verteenwoordig. As versiende politieke strateeg, buitengewoon bekwame parlementariër en skitterende debatteerder, het Malan vinnig hoë louere verdien. In 1924 is hy aangestel as Minister van Binnelandse Sake, Onderwys en Volksgesondheid – ’n portefeulje wat hy met onderskeiding beklee het. Twee belangrike sake wat die Afrikaners ten nouste geraak het, en wat tydens sy ministerskap deur hom deurgevoer is, was die erkenning van Afrikaans as amptelike taal (1925), waardeur die Afrikaner een van sy grootste kultuurskatte gewaarborg gekry het – en ’n eie vlag vir Suid-Afrika (1927).

Die bittere stryd wat daar in die oorlogsjare (1939-1945) tussen die Afrikaners onderling geheers het, was vir Malan, wat ’n vurige voorstander van Afrikaner-volkseenheid was, ’n bitter ondervinding. Onder die besef van die noodsaaklikheid van Afrikaner-eenheid met die oog op die 1948-verkiesing het hy in 1947 ’n verkiesingsooreenkoms met die Afrikanerparty aangegaan. Die verkiesing, wat op 26 Mei 1948 gehou is, was ’n triomf vir Malan en vir Afrikanernasionalisme. Daardeur het sy geloof ten opsigte van Afrikaner-volkseenheid werklikheid geword, wat vervat is in die oproep: “Bring bymekaar wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort!”

Op 74-jarige ouderdom word hy die vierde premier van Suid-Afrika en stel ’n kabinet saam wat vir die eerste keer in die geskiedenis uitsluitend uit Afrikaanssprekendes bestaan. Malan het in sy termyn as Eerste Minister alles in die stryd gewerp om die Afrikaner en sy party se posisie in Suid-Afrika te bevorder en te konsolideer. Hy het die inisiatief geneem vir die samesmelting van sy Herenigde Nasionale Party en die Afrikanerparty in 1951 tot die Nasionale Party. En deur sytoepassing van die apartheidsbeleid het hy, ten spyte van groot teenkanting en die gevolge wat dit vir rasseverhoudinge ingehou het, Afrikanernasionalisme gestimuleer en die posisie van die NP só versterk dat dié party in die 1953-verkiesing ’n werklik klinkende oorwinning behaal het. In Oktober die volgende jaar het Malan, wat reeds 80 jaar oud was, uit die politiek getree.

Hy was ’n man van die volk, van die Afrikaner; wat eers die Afrikaner gedien het en deur die Afrikaner die hele Suid-Afrika. Sy lewe lank was hy ’n pleitbesorger vir die Afrikaanse kultuur, en daarvoor het die FAK sy eksklusiewe Erepenning vir Volksdiens in 1957 aan hom toegeken.

Die feit dat die borsbeelde van doktor Malan op Stellenbosch in ere gehou word, is ’n weerspieëling van sy besondere verbintenis met die dorp. Afgesien van die feit dat hy daar ’n lang ruk student was, was hy ook vir 18 jaar lank (1941-1959) kanselier van die Universiteit van Stellenbosch. Met sy uittrede uit die politiek tot sy dood op 7 Februarie 1959, het hy pal in sy huis Môrewag op dié dorp gewoon. Jaarliks, op 10 Oktober, word daar deur studente van die Universiteit van Stellenbosch ’n kranslegging en ’n huldigingsrede by sy graf teen Papegaaikop gehou.

Bron: Van Zyl, D.J. 1989. D.F. Malan. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 44–45.