Voor die hoofingang van die polisiekantoor op die CR Swart-plein in Durban

Voor die hoofingang van die polisiekantoor op die CR Swart-plein in Durban

Charles Robberts Swart, volksman en staatsman is op 15 Julie 1982 oorlede ná ’n lewe van onbaatsugtige diens aan Suid-Afrika en in die besonder aan die Afrikanervolk. Hy is op 5 Desember 1894 op Winburg gebore en deel reeds op vyfjarige ouderdom in die smarte en ellende van sy volk toe hy saam met sy moeder en ander huisgenote na die Winburgse Konsentrasiekamp gestuur is. Dáár is vermoedelik die ideaal gebore om die republikeinse staatsvorm, waaronder hy gebore is, volkome te laat herleef. As politikus het hy hom onvermoeid beywer vir die verwesenliking van die ideaal en aan hom is dit gegun om die eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika te word, ’n amp wat hy ses jaar lank met waardigheid en onderskeiding beklee het.

Hy het ’n aktiewe belangstelling in kultuursake gehad: stigterslid van die FAK en die Voortrekkerbeweging, erelid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en lid van die Beheerraad van die Nasionale Oorlogsmuseum vir die Boererepublieke. Afrikaans het hy met toegewydheid benader, en hy was byvoorbeeld as Minister van Justisie verantwoordelik vir die herstel van die naam landdros, die vertaling van die Nederlandse Uniewette en die Romeins-Hollandse regsbronne. In 1965 is die FAK se Erepenning vir Volksdiens aan hom toegeken.

In 1980 het kolonel Nico Theron, van die afdeling Openbare Betrekkinge van die SAP, luitenant-kolonel Buks van Staden versoek om oud-staatspresident CR Swart te pols oor ’n borsbeeld van hierdie eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika. Die borsbeeld sou voor die Durbanse polisiekantoor op die CR Swart-plein in Durban opgerig word. Luitenant-kolonel Van Staden het hom gedurende Oktober 1980 op sy plaas De Aap besoek, waar hy die voormalige Staatspresident weer vir die eerste keer na jare gesien het. Dit was, volgens hom, uiteraard moeilik om die steeds bekende stem te koppel aan die lang, skraal verouderde figuur. Buks van Staden sou die beeldhouer van die borsbeeld wees. Toe Buks die doel van sy besoek gestel het, was oudpresident CR Swart merkbaar aangedaan. Daar is toe gereël dat sodra die wasbeeld gereed is, dit aan hom getoon sou word.

Vir die skep van die borsbeeld het die beeldhouer heelwat foto’s bestudeer. Die kunstenaar het besluit om die beeld van “Oom Blackie”, soos hy gelief bekend was, te skep op ’n ouderdom toe hy as Staatspresident waarskynlik die naaste aan sy volk gestaan het. Op die tydstip toe die wasbeeld voltooi is, is “Oom Blackie” vir die laaste keer in die hospitaal opgeneem. Hy het hierdie laaste borsbeeld nooit gesien nie.

Die borsbeeld is twee keer lewensgrootte. Die modelleer van die borsbeeld het drie weke in beslag geneem, en dit is in brons gegiet deur H Joubert, kunsgieter by Hartbeespoort, in Transvaal.

Die beeld weeg ongeveer 150 kg en dit is 1 m hoog. Dit wit marmervoetstuk is deur die beeldhouer ontwerp en deur Verti Slab in Pretoria gegiet. Dit is 1,75 m hoog.

Die borsbeeld en die voetstuk gesamentlik is ongeveer 2,75 m hoog en staan in die binneplaas ongeveer 3 m van die hoofingang van die polisiekantoor met ’n uitsig oor die see.

Op die voetstuk is twee geelkoperplate aangebring, waarvan die etswerk deur die tegniese afdeling van die SAP gedoen is. Die bewoording op die betrokke plaat aan die agterkant is: Hierdie borsbeeld is onthul deur Sy Edele Louis le Grange DVD, LV Minister van Wet en Orde op 22 Julie 1983.

Die plaat aan die voorkant lui soos volg: Sy Edele Charles Robberts Swart Staatspresident van die Republiek van S.A., vanaf 31 Mei 1961 tot 30 Mei 1967.

Sy voorletters en van C.R. Swart is aan die voorkant in 100 mm-letters gemonteer. Die beskrywing op die twee geelkoperplate is in albei landstale.

Die koste vir die maak en giet van die borsbeeld en voetstuk is moontlik gemaak deur ’n bydrae van R5000 van die stadsraad van Durban. Die kunstenaarsarbeid en die oprigting van die beeld is kosteloos verantwoord deur kolonel Van Staden, in amptelike opdrag van die SAP.

Bron: Geyser, O. 1989. C.R. Swart. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 250–251.