In die roostuin voor sy ou woonhuis in Heidelberg

In die roostuin voor sy ou woonhuis in Heidelberg

Die bolyfbeeld van A G Visser staan in die erf van die woning waar hy vir so ’n groot deel van sy lewe gewoon en gewerk het, op die hoek van HF Verwoerd- en Van der Westhuizenstrate in Heidelberg, Transvaal.

Andries Gerhardus Visser is op 1 Maart 1878 op die plaas Zaaifontein in die distrik Fraserburg gebore. Hy geniet sy skoolopleiding aan die Hugenote-Gedenkskool op Daljosafat. Reeds in 1896 publiseer hy Afrikaanse gedigte in Ons Klyntji.

Hy word onderwyser en later skoolhoof op Carnarvon, maar as vurige Afrikaner bots hy gedurende die Anglo-Boereoorlog met die Britse militêre owerheid. As gevolg hiervan vertrek hy in 1901 na Edinburg, Skotland, waar hy hom as geneesheer bekwaam.

Na sy terugkeer, vestig hy hom as arts op Carnarvon.

In 1916 verhuis die Visser-gesin na Heidelberg en in 1917 betrek hulle die ruim huis op die hoek van die huidige HF Verwoerd- en Van der Westhuizenstrate. Hier was sy spreekkamer aan die huis. Visser het vir hom ’n groot praktyk opgebou en was spoedig ’n geliefde geneesheer.

Ondanks Visser se bedrywige lewe, was hy erevoorsitter van die Heidelbergse Afrikaanse Kultuur- en Taalvereniging, wat in 1918 gestig is. Die Visser-woning was feitlik die kultuursentrum van Heidelberg, waar die inwoners vergader het vir musiekaande en gesprekke oor kuns en kultuur.

Visser ontvang die Hertzogprys twee keer: vir sy bundels Gedigte (1925) en Rose van herinnering (1927). Na sy dood verskyn daar nog twee digbundels van hom, naamlik Die purper iris en ander nagelate gedigte en Uit ons prille jeug. Hy skryf liefdes- en vaderlandse gedigte, maar sy eintlike verdienste lê in sy geestige gedigte.

As digter was Visser baie gewild by die publiek – ’n ware volksdigter. Vanweë hul sangerigheid, is baie van Visser se verse deur die jare heen getoonset – vandaar dat hy bekend staan as “Die sanger van die Suikerbosrand”.

Op 10 Junie 1929 is Visser onverwags oorlede. Hy is in die Kloofkerkhof op Heidelberg begrawe. Op sy graf rus ’n geopende marmerboek met die eenvoudige inskripsie: Goddank vir jou.

Die Afrikaanse Kultuurvereniging van Heidelberg wou ’n monument ter ere van hierdie gevierde Volksdigter oprig. In 1960 is ’n AG Visser-huldigingskomitee in die lewe geroep en die taak is aan hulle opgedra om, indien moontlik, ’n standbeeld van AG Visser op te rig.

AG Visser-aande is by talle skole gereël om fondse in te samel en Visser bekend te stel. Verder is daar ok opstelwedstryde by skole, onderwyskolleges en universiteite gereël. In Augustus 1963 het die Komitee besluit om oor te gaan tot die oprigting van ’n bolyfbeeld, twee maal lewensgrootte. Die treffende bolyfbeeld van Visser staan in sy geliefde rosetuin voor sy woonhuis. Die hol bronsbeeld staan op ’n voetstuk van klip waarop ’n bronsplaat aangebring is. Die beeld is gemaak deur beeldhouer Hennie Potgieter en die voetstuk is gebou deur Koos Nolte.

Die beeld is op 1 Maart 1964 onthul deur doktor JJ van Tonder, voorsitter van die huldigingskomitee.

Fondse om die huis as bypassende monument aan te koop, het ontbreek en in 1972 is besluit om die beeld te verskuif. Gelukkig het hiervan niks gekom nie, aangesien Historiese Huise van Suid-Afrika Beperk, ’n maatskappy van die Rembrandt-groep, die AG Visser-huis aangekoop het met die uitsluitlike doel om dit vir die nageslag te bewaar.

Die huis is opgeknap en word deur senior amptenare van die maatskappy bewoon. Die beeld is op sy ou plek in die tuin gelaat en die eiendom word deur die Rembrandt-maatskappy as ’n kultuurbate vir die hele land in stand gehou.

Op 1 Maart 1978 is daar oral in Suid-Afrika feesvierings gehou om AG Visser se honderdste verjaardag te herdenk. In Heidelberg het die hoofseuns en hoofmeisies van agt verskillende skole uit die omgewing kranse gelê by die borsbeeld van Visser. Die beeld word jaarliks deur ’n hele aantal besoeker besoek en dien om hierdie geliefde volksdigter op eenvoudige, maar treffende wyse te huldig.

Bron: NALN. 1989. A.G. Visser. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 134–135.