Advokaat Hans Strydom, die “Leeu van Waterberg” was Suid-Afrika se sesde eerste minister. Hy was moontlik die mees vurige republikein om ooit die land te regeer, hoewel hy nie geleef het om Suid-Afrika ’n republiek te sien word nie. Hy was ’n harde politieke werker, wat homself, volgens party tydgenote, letterlik dood gewerk het. Hoewel hy nie in sy tyd ’n republiek tot stand kon bring nie, het hy belangrike simboliese voorbereidings gemaak.

Biografiese gegewens

Johannes Gerhardus Strydom is op 14 Julie 1893 in die Willowmore-distrik in die destydse Kaapkolonie gebore. Hy het, soos Smuts, Hertzog en Malan voor hom, aan die Victoria College (latere Universiteit van Stellenbosch) sy eerste graad behaal. Daarna het hy gaan boer, maar sy planne in die verband is deur die ineenstorting van die volstruisveremark kortgeknip. Hy is na Pretoria waar hy sy LLB-graad voltooi het en as advokaat toegelaat is.

Strydom was ’n geesdriftige operaliefhebber. Met ’n opera-uitvoering het hy die flambojante sangeres Margaretha van Hulsteyn ontmoet en die twee is na ’n blitsromanse getroud. Die huwelik het egter nie lank gehou nie. Later het hy met ’n musiekonderwyseres van Nylstroom, Susan de Klerk, getroud. Haar broer was die latere minister Jan de Klerk, die vader van oudpresident F.W. de Klerk.

Die Strydom-familie het verwag dat Hans in Pretoria as advokaat sou praktiseer, maar in pleks daarvan, het hy ’n prokureurspraktyk in Nylstroom geopen. Hy was ’n aktiewe en gewilde lid van die gemeenskap wat sy wortels nog dieper ingestoot het toe hy ’n plaas in die distrik gekoop het.

Nylstroom was die hoofdorp van die Waterberg-kiesafdeling, een van die mees uitgestrekte kiesafdelings in die land. Sedert die stigting van die Nasionale Party onder generaal Hertzog in 1915, was Waterberg ’n NP-kiesafdeling. Met die 1929-verkiesing is Strydom tot Volksraadslid (LV) vir dié kiesafdeling verkies. Met die samesmelting tussen die NP van Hertzog en die SAP van generaal Smuts in 1934, was Strydom die enigste Transvaalse LV om dit te verwerp. Hy het Transvaalse leier van die “gesuiwerde” NP geword. In 1939, toe Hertzog se volgelinge weer by die NP aangesluit het, was hy vir ’n tyd lank mede-leier van die NP in Transvaal.

Toe die NP in 1948 die algemene verkiesing gewen het, het Strydom die minister van lande en besproeiing geword. Ses jaar later, toe dr. D.F. Malan as eerste minister afgetree het, is Strydom eenparig tot nuwe leier van die party en daarmee eerste minister van Suid-Afrika verkies. Hy het die amp tot in 1958 beklee, maar sy gesondheid het ernstig agteruitgegaan. Op 24 Augustus 1958 is hy oorlede.

Openbare lewe

Advokaat J.G. Strydom het homself waarskynlik nie van vroeg af as ’n openbare persoonlikheid gesien nie. Sy groot liefde was vir die boerdery en sy regsberoep was die gevolg van die onverwagse ineenstorting van die mark vir volstruisvere. Hy was wel van vroeg af op Afrikaners se regte gesteld en het as student aan ’n optog vir gelyke taalbehandeling deelgeneem. Hy het hom ook bewustelik teen die mode om Afrikaanse name te verengels, versit. Hy het ook as jong prokureur ’n eiendom se titelakte in Afrikaans opgestel. Die Registrateur het geweier om dit te aanvaar, omdat hy geglo het dit moes in Engels wees. Strydom het hom op die grondwet beroep wat gelykheid tussen tale gewaarborg het en die Registrateur selfs met die hof gedreig. Dit is uiteindelik aanvaar en mettertyd het Afrikaanse aktes alledaagse praktyk geword.

Dit het dikwels gebeur dat ’n belangrike politikus vir ’n kiesafdeling as kandidaat aangebied word, sodat hy in die parlement kon kom. Met Strydom was dit anders. Hy was ’n gewilde prokureur in Nylstroom met ’n sterk betrokkenheid in die gemeenskap. Die kiesafdeling Waterberg het hom verkies sonder om te weet dat hy nog ’n groot leier sou word; vir hulle was hy net hulle leier.

Die groot toets het met die samesmelting van 1934 gekom. Strydom was oortuig dat die SAP van generaal Smuts en die NP van generaal Hertzog onversoenbare beginsels gehandhaaf het, omdat die NP republikeins was en die SAP imperialisties. Hy het voorsien dat dit op ’n botsing sou uitloop, waar Hertzog die slegste daarvan sou afkom. Maar vir eers was dit Strydom wat die slegste daarvan afgekom het, omdat hy die enigste LV in Transvaal was wat nie saamgesmelt het nie. Daarom was hy ’n vanselfsprekende keuse vir leier van die “gesuiwerde” NP.

Dat Strydom nie net provinsiale leier was omdat hy die enigste LV was nie, het hy met harde werk bewys. Hy het honderde vergaderings regoor die provinsie gehou en mense met die ideaal van ’n eie republiek besiel. Aanvanklik was die sukses baie beperk en het hy soms vergaderings met minder as tien mense toegespreek. Dit het glad nie sy geesdrif gedemp nie. Ook in Waterberg het hy steeds elke deel van die kiesafdeling elke jaar besoek om verslag van sy werk te doen. Hy was soms weke aaneen weg van die huis af. Die party het nie geld gehad vir al die veldtogte nie en hy het die meeste politieke uitgawes self betaal. ’n Parlementslid se salaris was destyds in vergelyking met ander beroepe nie so goed soos vandag nie.

Met die volgende verkiesing in 1938 het dit gelyk of al sy moeite verniet was. In die hele Transvaal was dit weer net Waterberg wat NP gestem het, en dit was boonop met ’n klein meerderheid. Die beginselbotsing tussen Hertzog en Smuts het wel in 1939 om Suid-Afrikaanse deelname aan die Tweede Wêreldoorlog plaasgevind. Die meeste van Hertzog se ondersteuners het weer by die NP aangesluit, hoewel party by Smuts gebly het. Die NP het sy naam na die Herenigde Nasionale Party verander. Dan was daar ander, soos Oswald Pirow en sy Nuwe Orde, wat die demokrasie verwerp en Nazi-Duitsland gesteun het. Die Ossewa Brandwag (OB) het ook in daardie rigting geneig.

Die hereniging met Hertzog se mense het tot die stigting van die sogenaamde Herenigde Nasionale Party gelei. Generaal Kemp, NP-leier in Transvaal voor die samesmelting, het Strydom se medeleier in Transvaal geword. Dit het egter nie beteken dat Strydom minder hard gewerk het nie. In die aanloop tot die 1943-verkiesing het hy ’n geweldige program gehandhaaf. Dit het soms sy gesondheid so aangetas dat hy in die bed moes bly. By sulke geleenthede het sy vrou dikwels vir hom ingestaan. Die resultaat was ’n aansienlik sterker prestasie, met die Herenigde NP wat 11 setels in Transvaal gewen en landwyd 16 setels van die Verenigde Party verower het.

Tussen 1943 en 1948 het interne spanning tussen die leier, dr. D.F. Malan en ’n republikeinse vleuel onder leiding van Strydom ontwikkel. Die NP was sedert sy stigting ’n republikeinse party en diegene wat onder Malan geweier het om met die SAP saam te smelt, was juis republikeine. Teen hierdie tyd het Malan egter geglo die kwessie van ’n republiek moes nie te aktief nagestreef word nie, omdat dit verdelend kan inwerk en VP-ondersteuners kan ontmoedig om na die NP oor te loop. Vurige republikeine soos Strydom, dr. H.F. Verwoerd in Transvaal, adv. C.R. Swart en dr. N.J. van der Merwe in die Vrystaat het toenemend van die louer republikeine in die Kaapprovinsie, Malan self, dr. T.E. Donges en mnr. Paul Sauer verskil.

In die aanloop tot die 1948-verkiesing het die NP ’n alliansie met die Afrikanerparty aangegaan. Dit was ’n party wat deur Hertzog-volgelinge gestig is toe hulle leier uit die politiek getree het. Dié party het nie ’n enkele setel in 1943 verower nie, maar in sekere kiesafdeling Afrikaners se stemme so verdeel dat die VP gewen het. Die Afrikanerparty was selfs minder geesdriftig oor ’n republiek as Malan en die republikeinse vleuel het gevoel dat hy te ver gaan om die party onder dr. N.C. Havenga te akkommodeer. Daar was selfs sprake om ’n republikeinse party te stig.

Met die 1948-verkiesing was daar ’n geweldige swaai na die NP. Hulle het van 43 setels na 70 gespring; saam met die Afrikanerparty het hulle 79 setels gehad teenoor ’n gekombineerde opposisie van 74. Van die 79 regeringslede was 36 Transvalers. Van slegs 1 setel in 1938 het Transvaal tot die grootste provinsie in die party gegroei. Geskiedkundiges skryf dit aan Strydom se harde werk, standvastigheid en duidelike leiding toe.

As leier van die grootste party in die regering, het Strydom-ondersteuners verwag dat hy ’n senior pos in die kabinet sou kry. Hy het egter minister van lande en besproeiing geword, ’n portefeulje wat as minder belangrik beskou is. Van sy ondersteuners het Malan bitter kwalik geneem en geglo dat hy Strydom se invloed daardeur wou beperk. Nog ’n Transvaalse kabinetslid, mnr. Ben Schoeman, het die bewering later in sy outobiografie verwerp. Dit is welbekend dat Strydom geesdriftig oor die landbou was en geweldig sterk oor waterbewaring vir besproeiing gevoel het. Verder wou Strydom nie sy pligte as provinsiale leier verwaarloos nie en wou dus ’n minder veeleisende portefeulje hê. Die pos wat hy gekry het, het hom perfek gepas.

Met verkiesing van 1953 het die NP, by wie die Afrikanerparty intussen aangesluit het, ’n verdere setel in Transvaal verower. Dit was duidelik dat die bejaarde leier, dr. Malan, weldra sou uittree. Die stelsel het destyds so gewerk dat die koukus (al die parlementslede) ’n nuwe partyleier verkies het. As leier van die grootste party is hy vanselfsprekend deur die goewerneur-generaal versoek om ’n nuwe regering saam te stel.

Daar is algemeen aanvaar dat Strydom die meeste steun in die koukus sou kry, maar Malan wou die pos liewer aan Havenga laat gaan. Malan en Havenga was nog die laaste lede van die kabinet voor 1934 wat steeds in die politiek was. Daarom het hy oorweeg om die goewerneur-generaal direk te vra om Havenga in sy plek as eerste minister aan te stel. Die Kaapse NP het hulle by sy besluit berus, maar in die Vrystaat en Transvaal is dit met krag verwerp. Havenga het deurentyd laat blyk dat hy beskikbaar sou wees vir die pos van eerste minister, maar net as hy onbestrede (sonder dat ander kandidate gestel word) verkies sou word.

Toe Malan sy uittrede aangekondig het, was Strydom op die punt om op ’n uitgebreide Europese reis te vertrek en hy sou twee dae voor die verkiesing van ’n nuwe leier terug wees. Strydom-ondersteuners het jare later nog vermoed dat Malan die tyd so gekies het dat Strydom nie steun sou kon werf nie. Of dit waar is, weet niemand nie. Die punt is dat Strydom betyds terug was vir die verkiesing, maar geen vinger verroer het om homself verkies te kry nie. Hy het bloot aangedui dat hy beskikbaar sou wees. Toe voorstelle vir ’n nuwe leier in die koukus gevra is, is Havenga eerste genomineer. Nadat Strydom ook genomineer is, het Havenga onttrek. Die vurigste republikein in die NP het so eerste minister geword.

Die vraag word soms gevra hoekom Strydom nie dadelik daartoe oorgegaan het om Suid-Afrika tot republiek te verklaar nie. Die rede lê in een van die kompromieë van die Nasionale Konvensie wat tot uniewording in 1910 gelei het. Plattelanders was bang dat hulle deur kiesers in die groot stede oorheers sou word. Daarom is ooreengekom dat plattelandse kiesafdelings minder mense sou bevat as stedelikes. ’n Plattelandse stem het in der waarheid meer getel as ’n stedelike stem. In 1948 het die VP ongeveer 120 000 meer stemme as die NP gekry, maar die NP se steun was hoofsaaklik op die platteland, daarom het hulle die meeste setels verower. Selfs in 1953 het die NP net 20 000 meer stemme as die VP ontvang. Heelwat NP-ondersteuners was ook nie sterk republikeine nie.

Veral Engelssprekendes was bang dat die NP sy parlementêre meerderheid sou gebruik om ’n republiek uit te roep, hoewel die meeste kiesers dit heel moontlik nie sou ondersteun nie. Dit sou ’n herhaling wees van die parlementêre besluit in 1939 om aan die Tweede Wêreldoorlog deel te neem, in weerwil van aanduidings dat die meeste kiesers dit sou verwerp. Malan en Strydom het herhaaldelik beloof dat Suid-Afrika slegs met die “breë volkswil” van kiesers tot republiekwording sou oorgaan.

Nog ’n kwessie was of Suid-Afrika ’n republiek binne of buite die Britse Gemenebes van Nasies (Statebond) moes wees. Die NP se beleid was altyd daarbuite, omdat aanvaarding van die Britse monarg as staatshoof ’n voorwaarde vir lidmaatskap was. In 1949 het Indië egter republiek geword maar tog lid van die Gemenebes gebly. Dit kon dus vir Suid-Afrika ook moontlik wees, maar sommige sterk republikeine sou dit dalk verwerp. Aan die ander kant het mense wat oor die algemeen republikeins-gesind was, gevoel dat lidmaatskap van die Gemenebes vir Suid-Afrika beskerming in ’n vyandige wêreld gegee het. Hulle sou nie ’n republiek steun as daar enige kans was dat lidmaatskap prysgegee sou moes word nie.

Republiekwording was ’n kwessie wat die blanke bevolking in twee onversoenbare kampe kon jaag. Strydom wou dus die pad daarvoor voorberei, sonder om oorhaastig te wees. Daarom is in sy tyd besluit om Die Stem van Suid-Afrika en die Engelse vertaling daarvan as amptelike volkslied in die plek van God save the Queen te aanvaar en die Unievlag as enigste vlag. Die Union Jack sou dus nie meer gehys word nie. Die Appèlhof is as hoogste hof van Suid-Afrika verklaar en niemand kon meer na die Britse Geheime Raad appelleer nie.

Vir Strydom was daar geen twyfel dat blankes in Suid-Afrika moes regeer nie. Hy het die woorde “blanke baasskap” dikwels gebruik. Reeds in Malan se tyd is gepoog om Kleurlinge van die gesamentlike kieserslys af te haal en op hulle eie lys te plaas. Hulle sou dan tussen blanke kandidate kon kies om hulle belange te beskerm. Die wetgewing is in die parlement aangeneem, maar die appèlhof het dit verwerp. Volgens die hof was stemreg ’n kwessie waaroor ’n tweederde meerderheid nodig was en die regering kon dit nie behaal nie.

Strydom se standpunt was soos volg: Stemreg was met ’n tweederdemeerderheid verskans, omdat dit deel van die Suid-Afrika Wet van 1909, ’n Britse wet, was. Sedert die Statuswette van 1934 was Suid-Afrika nie meer aan Britse wetgewing gebonde nie en die verskansings het volgens Strydom verval. Verder, volgens die Britse parlementêre tradisie, was die parlement die oppergesag. Geen hof kon die parlement se besluite ongeldig verklaar nie. Dit was vir hom belangrik om die “soewereiniteit” van die parlement bo twyfel te stel.[1]

Die Britse parlement het uit ’n Laer Huis (House of Commons) wat verkies is, en ’n Hoër Huis (House of Lords) wat weens afkoms sitting gehad het, bestaan. In Suid-Afrika is die tradisie gevolg deur die Volksraad te laat verkies en die Senaat in te stel wat uit gesiene mense bestaan het. Hulle is deur lede van die Volksraad aangewys. In die krisis oor Kleurlingstemreg en die soewereiniteit van die parlement, is hierin ’n uitweg gevind. Die senaat is vergroot en nuwe senatore was almal ondersteuners van die regering. Dit is met soveel mense vergroot, dat die NP ’n tweederdemeerderheid sou hê. Die wetgewing is weer voorgestel en met die vereiste meerderheid aanvaar. Hoewel die howe dit as manipulasie van die stelsel beskou het, was dit wettig en kon nie ongeldig verklaar word nie.

Nog omstrede wetgewing van Strydom se era was die uitbreiding van paswetgewing na swart vroue. Passe is reeds vroeg in die negentiende eeu in die Kaapkolonie ingestel as ’n manier om die beweging van swartmense in “blanke” gebied te beheer. Wetgewing is van tyd tot tyd hersien om nuwe omstandighede in berekening te bring. Tradisioneel het swart mans tydelik in “blanke” gebied gewerk. Met verstedeliking tydens en na die Tweede Wêreldoorlog het al meer swart mense permanent na die stede getrek en hulle gesinne saamgebring. Vir die eerste keer het blankes gevoel dat dit ook nodig was om swart vroue se bewegings te kontroleer. Daarom is dié wetgewing in 1956 na hulle uitgebrei.

Voor die nuwe paswetgewing aanvaar is, was daar uitgebreide protesaksies daarteen. Een daarvan was ’n optog van duisende vroue na die Uniegebou in Pretoria. Sedert 1994 word dit met Vrouedag op 9 Augustus herdenk. Op daardie stadium het die optog egter nie die verloop van sake beïnvloed nie.

Die verkiesing van 1958 sou die eerste geleentheid wees om Strydom se prestasie as eerste minister by die stembus te toets. Hoewel sy dokters gewaarsku het dat sy gesondheid nie sterk was nie, en dat hy dit met sy ongenadige program geknak het, het hy die veldtog met oorgawe gelei. Slegs die mense naaste aan hom het van sy gesondheidsprobleme geweet.

Die uitslag was ’n geweldige oorwinning vir Strydom. Vir die eerste keer het die NP meer stemme as alle ander partye saam verwerf. Wat seteltal betref, het hulle 103 van 156 moontlike setels verower.

Strydom het egter nie na die veldtog ooit weer sy werksaamhede ten volle opgeneem nie. Hy kon nie van die uitputting van die verkiesing herstel nie en het telkens te vroeg weer begin werk. Op 24 Augustus 1958 is hy aan ’n hartaanval oorlede en is in die Heldeakker in Pretoria begrawe.

Slot

Advokaat J.G. Strydom is na sy dood deur kommentators beskryf as iemand wat, soos Moses, die beloofde lande (’n republiek) kon sien, maar nie daar kon ingaan nie. As ’n mens besef dat Suid-Afrika minder as drie jaar later reeds ’n republiek was, kan ’n mens sien dat daar heelwat waarheid ingesteek het.

Op die Strydomplein in Pretoria is ’n indrukwekkende bronsborsbeeld van Strydom onder ’n geweldige betonsuil opgerig. In 2001 het dié struktuur in duie gestort en is nie herstel nie. In Nylstroom (amptelik Modimolle) is sy huis steeds ’n museum ter ere van dié groot Waterberger.

[1] Dit is een van die aspekte waar Suid-Afrika na 1994 anders is. Daar is tans ’n grondwetlike hof wat alle wetgewing aan die bepalings van die grondwet kan toets.