Die Afrikaanse digter, Ingrid Jonker, is op 19 September 1933 op Douglas in die Noord-Kaap gebore, enkele maande nadat haar ouers geskei is. Sy woon by haar ma en ouma in die Gordonsbaai-omgewing. Haar ma sterf in 1943 in die psigiatriese hospitaal Valkenburg – waar sy ook in 1961 opgeneem sou word – en sy moes as kind ’n paar keer rondtrek. Haar pa, Abraham H Jonker, was ’n Nasionale Party-politikus en hulle het nie goed oor die weg gekom nie. Sy het aan Wynberg Meisieskool gematrikuleer en het daarna by boekwinkels, uitgewers en drukkerye gewerk.

Sy het haar eerste gediggies reeds op sesjarige ouderdom geskryf en sommige daarvan is in Die Jongspan gepubliseer. Haar debuutbundel, Ontvlugting, verskyn in 1956, maar dit bevat nie baie goeie poësie nie. Die volgende bundel wat eers sewe jaar later verskyn, Rook en oker (1963), trek vir die eerste keer werklik aandag. Sommige van die gedigte uit dié bundel is in Engels, Frans, Duits, Hindi, Persies, Zoeloe en Xhosa vertaal en sommige is oor die radio in Suid-Afrika asook in verskeie Europese lande uitgesaai. Jonker het ook vir hierdie bundel die Afrikaanse Pers se toekenning ontvang vir die beste boek van die jaar. Die prysgeld en ’n studiebeurs van Anglo American het haar in staat gestel om oorsee te reis. Haar dogter, Simone, wat ’n belangrike rol in Ingrid se gedigte speel, is uit haar huwelik met Pieter Venter gebore. Hulle is later geskei.

Ingrid beëindig haar lewe deur in die see te stap en só te verdrink. Sy sinspeel daarop in sommige van haar gedigte, veral dié gedigte wat haar ongelukkige tienerjare en verwerping uitbeeld. Op 19 Julie 1965 is haar liggaam in die see by Drieankerbaai naby Kaapstad gevind. Medeskrywers en vriende het kort ná haar dood ’n letterkundige prys, die Ingrid Jonker-prys vir die beste debuutbundel vir poësie, ingestel. Dit word alternatiewelik vir bundels in Afrikaanse en Engelse digkuns toegeken. Benewens enkele digbundels, het Ingrid Jonker ook ’n paar kort outobiografiese sketse, ’n goeie kortverhaal, Die bok en ’n eenbedryf, ’n Seun na my hart, geskryf. Ná haar dood verskyn Kantelson (1966) en Versamelde werke (1975).

Ingrid word gegroepeer onder die “Sestigers”, waarvan André P Brink en Jan Rabie ook deel was. Haar gedigte is deur die jare deur kunstenaars soos Laurika Rauch, Laurinda Hofmeyr, Marimba en Anneli van Rooyen getoonset. Chris Chameleon se album Ek herhaal jou, waarop hy 14 van haar gedigte getoonset het, is in 2005 uitgereik. Dit was ’n blitsverkoper.