Ek sal nie ’n oomblik aarsel om ‘verkeerd’ te skryf as ek sodoende ’n sekere effek kan bereik nie. Ek word, afgesien van die inhoud, merendeels beïnvloed deur die ritme van die taal. Dit is ’n soort betekenis-ritme.” Só reageer Etienne Leroux (Stephanus Petrus Daniël le Roux, 1922-1989) op kritiek oor sy ‘swak taalgebruik’ (Gesprekke met skrywers 1, 1971:64). Dit was egter nie die ergste kritiek wat hy moes deurstaan nie. Sy groot deurbraak, die roman Sewe dae by die Silbersteins (1962), besorg aan hom die Hertzogprys, maar ook mosies van teenkanting deur ál vier sinodes van die NG Kerk. Sy satiriese Magersfontein, o Magersfontein! (1976) word uiteindelik verbied.

Leroux boer dwarsdeur sy skrywersloopbaan op die plaas Janee naby Koffiefontein. Hy het egter grootgeword op Middelplaas naby De Rust in die Klein-Karoo. Hoewel sy Dag in berg-en-dal (opgeneem in Die groot Afrikaanse kortverhaalboek) onder ons mees klassieke kortverhale tel, is hy veral bekend vir sy groot bydrae (saam met ander Sestigers) om die Afrikaanse roman op internasionale peil te plaas. Ná vele afwysings deur uitgewers verskyn sy debuut, Die eerste lewe van Colet in 1955. Dit vorm saam met Hilaria (1957) en Die mugu (1959) ’n trilogie. Daarna volg sy beroemde Silberstein-trilogie: Sewe dae by die Silbersteins, Een vir Azazel (1964) en Die derde oog (1966).

Sy derde trilogie sluit in, 18-44 (1967), Isis Isis Isis (1969) en Na’va (1972). Sy oeuvre word afgesluit met Onse Hymie (1982). In 1990 verskyn sy onvoltooide Die suiwerste Hugenoot is Jan Schoeman postuum.

Vir Leroux is die storie as’t ware bysaak. Die belangrikste gegewens lê in die mitiese en ander parallelle en verwysings onder die oppervlak. Só daag hy die leser uit tot ’n intellektuele spel, maar lê hy ook ’n eiesoortige tydsdokument vas wat waarskynlik in die toekoms toenemend aandag sal ontvang.