Anthony Edward (Anton) Rupert (1916-2006) was ’n Afrikaanse entrepreneur, sakeman en filantroop. Gebore op Graaf-Reinet, studeer hy Chemie aan die Universiteit van Pretoria en word later dosent. Sy eerste besigheid is ’n droogskoonmakery. Later stig hy die tabakmaatskappy Voorbrand, en vervaardig sigarette in sy motorhuis. Voorbrand sou later ontwikkel tot Rembrandt, ’n tabak en industriële reus. Rembrandt sou later verdeel in Remgro en Richemont, besighede wat vandag honderde maatskappye in 35 lande besit, en ’n gekombineerde jaarlikse netto verkope van $10 miljard het. As stigterslid van die World Wildlife Fund was Rupert ook verantwoordelik vir die oprigting van oorgrensparke in Suid-Afrika.