Nasionalisme en Afrikaans

Vroue betoog vir generaal De Wet
January 22, 2015
“En ek is nog hy”
January 22, 2015

Op die dag van De Wet se vrylating is ’n dankdiens vieruur die middag in Melville, Johannesburg, gehou. Tremvragte vol belangstellendes, veral vroue, het opgedaag. Na die diens het almal geleentheid gekry om De Wet ’n handdruk te gee. Twee aande later is hy op ’n dankdiens in die NG Kerk van Braamfontein luid toegejuig.

Op 23 Desember 1915 het De Wet en sy vrou per trein na sy tuisdistrik Vrede vertrek. Sowat 1200 platformkaartjies is aan belangstellendes verkoop. Die Vrystaatse en Transvaalse volksliedere is gesing en De Wet is skouerhoog rondgedra. Duisende mense het hom ook op Jeppe- en Germiston-stasie toegejuig.

Die regering het De Wet verlof toegestaan om Dewetsdorp te besoek waar sy skoonouers woonagtig was. Die Dewetsdorpers het hom soos ’n held ontvang. Twee vroue het sy perd aan die teuels geneem en tussen twee rye vroue deurgelei tot by ’n verhoog. Die skare het hom telkens luid toegejuig terwyl hy gepraat het. “Ek praat as iemand wat sy volk in sy siel dra, as iemand wat nie van sy volk kan loskom nie.” Ná regeringskoerante se kritiek op sekere uitlatings van De Wet het generaal Louis Botha hom vermaan en het hy nie ’n groot dankfees bygewoon wat Vrede vir 3 en 4 Februarie 1916 vir hom gereël het nie. Tussen 8000 en 10 000 mense het met die trein, 543 ossewaens, 786 perdekarre en 75 motors gekom.

Onder die aanwesiges was mevrou Joubert en mevrou Eloff-Kruger wat die klementiebeweging begin het met hulle brief in De Volkstem. Dit was een van mevrou Joubert se laaste optredes – op 8 September 1916 is sy oorlede. Teenwoordig was ook ’n hele paar Volksraadslede, doktor DF Malan, redakteur van De Burger, doktor TB Muller, jong Stellenbosse taalstryder-predikant, en J Kamp, redakteur van Ons Vaderland, ’n nuwe nasionale blad.

Treffend was op die dankfees die propaganda vir Afrikaans. Sedert 1914 het dit ’n duidelike simbool van Afrikanernasionalisme geword. Doktor Tobie Muller het sy lesing gehou oor “Onse Taal” en gesê dat hy as Kolonialer byna bang is om op Vrede oor dié onderwerp te praat. “Ik weet u het ons taal lief (gejuig), omdat die Afrikaner met die taal saam opgegroei het. Ons droom ook in die taal (toejuiging). Ons mag die Hollandse taal nie verwerp nie maar, laat ons die twee tale vergelijk bij ’n weduwe en haar dogter. Na die dogter opgegroei is tot ’n mooi jong nooi, gaat elkeen liewers na haar vrij (toejuiging)” (Het Volksblad, 11 Februarie 1916).

Teen dié tyd het die Afrikaanse beweging reeds dekades die idee gepropageer dat die Afrikaner ’n volk is wat ’n eie taal as simbool van sy nasionaliteit moet hê. Die woorde “Een ider nasie het syn TAAL” was al ’n leuse in die eerste nommer van Die Afrikaanse Patriot. Doktor Malan het in 1908 gesê: “Verhef die Afrikaanse taal tot skryftaal, maak dit die draer van ons kultuur, ons geskiedenis, ons nasionale ideale, en u verhef daarmee ook die volk, wat dit praat. Hou egter die volkstaal op die voet van ’n half beskaafde provinsiale dialek, en u hou daarmee ook die volk op die peil van ’n half beskaafde ongeletterde volksklas.”