Namibië word onafhanklik

2 Februarie 1990
January 26, 2015
Op pad na magsprysgawe
January 26, 2015

Omstreeks 1980 het dit nog gelyk of Afrikaans in Namibië onaantasbaar sterk staan. Dit is as onderhandelingstaal gebruik op die Turnhalleberaad oor ’n nuwe bedeling. Een van die senior vennote was die Demokratiese Turnhalle-alliansie (DTA). Daarin het ’n Afrikaner, Dirk Mudge, ’n leidende rol gespeel. Die DTA was naas die South West Africa People’s Organization (Swapo) die grootste politieke groepering. Een lid van die alliansie was die Republikeinse Party, wat Afrikaans, Engels en Duits as amptelike tale wou hê.

Die kragte wat vir Engels gewerk het, was egter oorweldigend. SWAPO het, naas ’n gewapende stryd, ook ’n taalstryd gevoer. Om die bevolking te laat wegbeweeg van Afrikaans is dit gestigmatiseer as die taal van die onderdrukker, wat deur die blanke Suid-Afrikaanse regering op Namibiërs afgedwing is.

Met die steun van die DTA het Engels die enigste amptelike taal geword. Die gevolge was gou duidelik. Die uitsaaiwese is die eerste geraak. Die Afrikaanse nuusuitsendings oor TV is van 1 Junie 1990 af afgeskaf. Gou was daar geen Afrikaanse programme oor die TV nie. Verder is die radiodiens in Afrikaans afgeskaal. Talle mense het beswaar daarteen gemaak, maar die uitsaaikorporasie het gesê dat Engels die amptelike taal is en dat die radio en televisie die feit sal weerspieël.

Die Namibiese administrasie het Afrikaans as onderwysmedium uitgeskakel. Van die begin van die 1991-skooljaar af is Engels as die verpligte onderrig-medium vanaf standerd ses ingevoer. Die Afrikaners het dit sonder slag of stoot aanvaar. Die regering het ’n “vergunning” gemaak: primêre skole sou nog in die moedertaal onderrig. Maar op minstens een plek het die ouers besluit dat, aangesien die kinders tog in Engels onderrig gaan word, dit van graad een af moet gebeur.

Party ouers het kinders na Afrikaanse skole in Suid-Afrika, byvoorbeeld Upington en Springbok, gestuur. Verder is ’n paar private skole gestig. Die verengelsing het tot gevolg gehad dat die Namibiese ministerie van onderwys derduisende nuwe en bruikbare Afrikaanse skoolboeke ter waarde van R12 miljoen tot niet gemaak het nadat die standerd 7-leerplan teen ‘n gemiddelde koste van R150 000 per klas na Engelsmedium oorgeskakel is.

Die taal van die geregshowe was Engels, hoewel dit die beleid is dat tolke verskaf word vir diegene wat Afrikaans of ’n ander taal verkies.

Heelparty Namibiese Afrikaners het nie saamgestem met die houding en taalbeleid van hul leiers nie. Iemand het in 1992 geskryf: “Ons gewone ouens het met verstomde verwondering gesit en kyk en veral geluister wat doen en sê ons ‘leiers’. Hulle doen niks. Hulle sprak geen sprook. Hulle is besig met versoening. Engels, wordende die amptelike taal, is deel van versoening.” Die skrywer sê dat daar “gekruip” is en vervolg: “Daar is een ding wat maak dat ’n mens glad nie meer Engels kan praat nie: die dag as jy aan ’n vriend, gewese Broederbonder, ’n pak biltong gee en hy gee dit dieselfde aand aan die streekkommissaris van SWAPO.”