Nagmaal op die platteland

Die verdwyning van Frans
January 21, 2015
Vereniging en skeuring
January 22, 2015

“Die Hervormde kerk het nagmaal, die Verenigde kerk het nagmaal, die Enkel Gereformeerde kerk het nagmaal, en in al die paaie wat na Uitdraai lei, ry die kerkwaens kreunend en skokkend na dieselfde doel.” Dis een van die eerste sinne in J van Melle se roman Dawid Booysen. Die plattelandse nagmaal was inderdaad ’n groot gebeurtenis.

B Spoelstra doen in Ons volkslewe verslag van die negentiende-eeuse nagmaal. Die ry met die ossewa dorp toe was dikwels 2½ dag, en as 2½ dag vir die terugreis daarby kom, het die hele uitstappie tussen agt en tien dae geduur. Die klaarmakery het lank voor die tyd begin: klere moes reggemaak, die wa en trekgoed nagesien en kos voorberei word. Gewoonlik is ’n paar baksels boerbeskuit en brood saam, asook ’n geslagte skaap en hoenders. Baie keer moes die mense ook hul eie stoele saamneem kerk toe want heelparty kerke was sonder banke of stoele.

Gewoonlik het die mense in die loop van die Donderdag aangekom. Op die kerkplein is uitgespan en eiegemaakte tente van linne of seil opgeslaan. Vroeg-vroeg Vrydagmôre is almal op, want Vrydag is winkeldag. Die aand is die eerste kerkdienste soms al gehou. Anders hou elke gesin godsdiens en word die een of ander lied gesing. ’n Mens kry ’n indruk van “die natuurlike betekenis van die woorde: ‘Men hoort der vromen tent weergalmen’ ”, sê Spoelstra.

Saterdagmôre begin die eintlike dienste. Die voormiddag is dit belydenis doen of aanneem, huweliksbevestiging of gemeentevergadering om oor geldsake te beraadslaag, kerkraadslede te kies of verslae te ontvang. Die middag is dit voorbereiding. Ná die diens gesels die oueres oor ernstiger sake, maar die jonges gesels, maak grappe of vorm ’n sangkoor om van die bekendste en bemindste liedere in die gesangeboeke te sing.

Sondagmôre staan die nagmaalstafel voor die preekstoel met die helderwit tafeldoek gedek, die brood en wyn daarop, mooi toegemaak met servette. Aan die nagmaalstafel kom telkens groepe-groepe lidmate aansit; die kelkies was nog nie in gebruik nie. Op die nagmaaldiens volg ’n kinderdiens en die middag weer die danksegging, of soos dit soms genoem is, nabetragting. In die dienste dra die vroue amper almal nog ’n kappie.

Sondagaand word gesels en afskeid geneem. Die osse word elkeen op sy plek vasgemaak om nog ’n rukkie aan die juk te slaap, die skeie en stroppe kom op hulle plek en dan begin die oppak op die wa. Om tien- of elfuur is alles klaar. Die oumense gaan slaap in die wa, maar die jonges bly wakker. Eindelik is dit nie meer Sondag nie, maar Maandagmôre eenuur. Elkeen het die vrymoedigheid om in te span, sonder dat sy gewete hom hoef te kwel oor die eise van die vierde gebod oor die rus op die Sabbat. Die osse word opgejaag en ingespan en die waens trek die een na die ander weg. As dit ligte maan is, lyk dit te mooi in die nag as daar twintig, dertig waens so agter mekaar in die pad is tot die eerste uitdraaipaaie kom en elkeen na sy kant uitdraai. Die verstes kom eers Woensdag- of Donderdagmôre by die huis.