’n Vroeë Kaapse literêre werk

Die eerste taalstryd in Suid-Afrika
January 12, 2015
Die groot boomplanter
January 14, 2015

Die Kompanjie het die versoek om ’n klein Franse “tuislandjie” verwerp omdat die Here XVII wou hê dat die Franse met die Nederlanders vermeng en nie ’n groep met ’n afsonderlike taalidentiteit vorm nie. Nederlandse en Franse kinders moes dieselfde skole besoek. Waar moontlik, moes tweetalige onderwysers aangestel word, veral om die Franse kinders die “nederduijtsche” taal te leer lees en te verstaan. Sodoende kon hulle al hoe meer in “onse natie” ingelyf word. Van der Stel het die Hugenote daarvan beskuldig dat hulle bymekaar wil woon en nie met die “Duijtsche” nasie wil vermeng nie. Hy was lank gegrief oor hul houding en optrede. Pierre Simond was die hooffiguur in die strewe van die Franse om hul taal te behou.

Sy vertrek in 1702 het die einde beteken van georganiseerde aktiwiteite om hul identiteit te bewaar. Die merkwaardige Simond was die eerste Kaapse digter – die skrywer van wat moontlik “die heel eerste literêre werk [is] wat op Suid-Afrikaanse bodem geskryf is en tot publikasie gekom het”, soos ’n Hugenotekenner, Biebie van der Merwe, dit stel. Simond se bundel Psalm- en ander Skrifberymings is in 1704 in Amsterdam gepubliseer onder die titel Les Veilles Afriquaines (Afrikaanse waakstondes). Hy het sy berymings in 1703 aan die Sinode van die Franstalige Gereformeerde Kerk in die Nederlande voorgelê, maar ter wille van eenvormigheid het die Sinode die Geneefse berymings aanvaar.

Simond het geglo dat God hom in ’n “uithoek van die aarde” geroep het tot die taak om nuwe berymings te maak. Soos Dawid van ouds het hy in die wildernis in benoudheid en eensaamheid verkeer terwyl hy uitdrukking probeer gee het aan die bedroefde siele van die psalmdigters. Lank is gemeen dat geen eksemplaar van sy boek meer bestaan nie, maar een is in Junie 1997 in St. Petersburg in Rusland opgespoor.

Die Here XVII het Van der Stel tot goewerneur bevorder, en later ook tot buitengewone raadslid van Nederlands-Indië, die hoogste rang wat die Kompanjie aan amptenare buite Batavia kon toeken. Die Kaap het al hoe meer vooruitgegaan. Van der Stel het die bou van huise aangemoedig, en tot in 1695 is onder sy bewind 43 nuwe huise in die Kaapse distrik, 71 in Drakenstein en 83 in Stellenbosch gebou – en by laasgenoemde ook nog ’n kerk en drosdy. Die voorlopers van die wonings in die pragtige Kaaps-Hollandse boustyl het teen die einde van die eeu begin verskyn. In die loop van die volgende eeu is hulle verfraai en het die gewels al sierliker geword.

Op sy eie plaas het Van der Stel die wynbou probeer verbeter. Ná Van Riebeeck se vertrek het niemand veel aandag daaraan bestee nie. Die vryburgers het wel stokke geplant. Nadat ’n paar lêers Kaapse wyn ’n paar keer ’n goeie prys in die Ooste behaal het, het Van der Stel hom op die wynbou toegelê. Maar die Kaapse wynmakers was teleurgesteld toe die Kompanjie nie bereid was om meer as 20 riksdaalders per lêer vir die beste wyn te betaal nie. Die vate was soms van swak kwaliteit sodat daar op die seereis soutwater by die wyn ingekom het. Maar Van der Stel het Franse en Spaanse wynstokke laat invoer, en die uitvoer van wyn na Nederland en die Ooste is voortgesit.