’n Volk van boere

Hoogtepunte in die Afrikaanse poësie
January 24, 2015
Erkenning vir NP van Wyk Louw
January 25, 2015

Soos alle handelsondernemings wou die Kompanjie wins maak. In sy oorsese besittings was dit die beleid dat net die Kompanjie handel mag dryf. So streng was die handelsverbod dat mense wat meer as een pond naeltjies, kaneel of neutmuskaat van die Ooste af weggeneem het, met die dood gestraf kon word.

Private handel is in die geheim gedryf. Kapenaars het ‘n verskeidenheid ware in hul huise aangehou, wat van tyd tot tyd gewissel het: nou was dit pype, tee, koffie of suiker, dan weer weefstowwe, sy- of wolkouse, porselein of Hollandse kase. Dit was veral die vroue se werk om ware van die hand te sit.

Hoewel die handelsverbod die meeste mense tot die boerdery gedwing het, wás daar ander maniere om ‘n bestaan te maak. Van 1657 af was daar wamakers: die eerste wa en tweewielkar is in 1653 gemaak deur ‘n smid en ‘n timmerman, en weens die gebrek aan paaie was daar gedurig stukkende waens en karre wat herstel moes word. In 1658 was daar drie wa- en ploegmakers, drie smede en vyf skrynwerkers. Verder was daar in die Kompanjiestyd steenmakers, kuipers, kleremakers, bakkers, skoenmakers, later ‘n geweermaker en horlosiemakers. Ook meubels is aan die Kaap vervaardig. Met die koms van Van Riebeeck was stink- en geelhout beskikbaar. Heelwat geelhoutbome het teen die hange van Tafelberg gegroei en hiervan en van stinkhout is die meeste Kaapse meubels gemaak.

Daarby was daar goud- en silwersmede, die bekendste uit die families Combrink, Lotter en Vos. Teen die einde van die agtiende eeu is pragtige silwerware aan die Kaap vervaardig, veral vurke en lepels, maar ook suiker- en lekkergoedpotjies, borde, tessies, Bybelklampe en handvatsels. In die bloeityd van Kaapse silwer was die meeste silwersmede van Duitse herkoms.

Die boerdery – graanboerdery, wynbou en skaapboerdery – was prakties die enigste toelaatbare bedryf. Die wyn- en graanboere van die winterreënstreek was minder geïsoleer as die veeboere en minder afhanklik van die wisselvallige klimaat. Dit het hul lewe bestendiger gemaak en hulle het die draers van ‘n gesonde konserwatisme geword. Die mense van dié gebied kon later ‘n pioniersbydrae tot die Afrikaanse kultuur lewer. Ook die veeboere was konserwatief, maar sommige van hulle so erg dat dit vooruitgang kon strem.

Die uitbreiding van die veeboere het begin in ‘n tyd van onrus. Die vryburgers wou die grense van die klein nedersetting oorsteek, maar die Kompanjie wou dit nie toelaat nie. Gefrustreerde burgers het openlik opstandig geword. Party het uit die Kompanjiesdiens gedros en saam met ander wat nie as boere kon bestaan nie, rondgeswerf, geweier om belastings te betaal en die Kompanjie se gesag openlik uitgetart. Die ongehoorsaamheid aan die owerheid het die lot van van die Afrikaners help bepaal. Teen die sin van die bewind het hulle die binneland al hoe dieper ingetrek. Ongehoorsaamheid aan die wense van die owerheid was ‘n geslaagde vorm van aanpassing; die bewindhebbers moes hulle telkens by die feitelike toestand neerlê deur die grense verder weg van Kaapstad te verskuif.