’n Transvaalse Voortrekker lê sy plaas aan

Speletjies
April 10, 2017
Ontevrede trekkers verlaat Natal
April 10, 2017

(Geskryf deur Phia du Plessis, St. V, Rivieraskool, soos verskyn in Historia Junior, Januarie 1958)

Op die walle van die Elandsrivier, tussen die lowergroen soetdoringbome, het ’n kleinerige Voortrekkerlaer van sowat dertig waens gestaan. Die mense van die laer het van hierdie boswêreld wat ons vandag as die distrik Rustenburg ken, gehou. Dit was ideale beeswêreld en in die vyf maande wat die Trekkers reeds daar gestaan het, het hulle vee mooi bygekom. Allerweë was die gevoel in die laer dat hulle hul in hierdie wyk moes vestig.

Saam in die laer was oom Frans en sy vrou, tant Sannie, met drie kindertjies. Oom Frans het die wêreld al mooi deurgekyk en sy oog gehad op ’n vrugbare stuk aarde vyf-ses myl laer af langs die rivier.

Sodra die Trekkers besluit het om hulle daar te vestig, is almal saamgeroep. Die leiers het aan hulle verduidelik dat elke gesin vir hom ’n plaas in daardie gebied kon afry. Die gevaar vir ’n moontlike stryery oor wie die eerste mag afbaken, of wie die beste grond sou kry, was groot. Daar is toe besluit dat daar lootjies gerek sou word om te bepaal in welke orde die burgers hulle plase sou afbaken. Nadat die lootjies getrek is, het hulle die Rustenburgse landdros ontbied om teenwoordig te wees by die afry van die grense van die plase.

By sy aankoms het die landdros aan die burgers haarfyn beduie hoe die afbakening moes geskied. Iedereen moes begin by ’n eerste hoekbaken wat hy van klippe moes pak en dan moes hy daarvandaan “staps-gewyze gaands te paard” vir een uur in ’n reguit lyn ry. Dit was die een grenslyn van ’n vierkantige plaas. Sodra die burger die grond afgery het en op elke hoek ’n baken opgerig het, het hy die plaas laat aanteken.

Die afry van ’n plaas was nie altyd so maklik nie. Die wêreld was ruig en bosagtig. Dit was moeilik om koers te hou en aangrensende bure het nie altyd mooi geweet waar die bakens van plase was nie. Plase het dus dikwels oorvleuel. Oom Frans het hierdie moeilikheid verwag. Nadat hy sy plaas afgery het, het hy kruis en dwars daardeur gery om seker te maak dat iemand anders se bakens nie in sy plaas opgerig is nie. Ongelukkig was daar dan ook ’n baken ’n hele end binne sy grond. Dit het hy geweet moes Kootjie Nortjé se baken wees, want dié sou volgens afspraak aan die kant van oom Frans se plaas afbaken. Oom Frans is daarvandaan reguit na die landdros om alle onenigheid te voorkom. Saam is hulle eers na oom Kootjie Nortjé. By ondersoek het toe geblyk dat oom Kootjie se baken verskuif moes word. Hiertoe was hy bereid want sy plaas was baie groot, seker ’n 4,000 morg. Oom Kootjie het albei die hand gegee en is terug na sy opstal. Die landdros is eers saam met oom Frans na sy huis waar hulle gaan koffie drink het. Hulle het lekker gesels oor die vrugbare boswêreld, oor die lieflike grond en die goeie wyding vir die vee.