’n “Tempel van edele arbeid”

Armoede en ’n arbeidskolonie
May 20, 2015
Transvaal word moderne staat
May 22, 2015

President MT Steyn van die Vrystaat het ’n einde probeer maak aan die verkeerde houding van baie Afrikaners oor hande-arbeid. Die Volksraad het £6000 gegee vir ’n ambagskool met koshuis. Dis geopen met 24 leerlinge, wat binne drie maande aangegroei het tot 47. Bedags het die seuns ambagte geleer, en saans skryf, lees en reken – dikwels so vaak dat hulle tydens die lesse aan die slaap geraak het. Die President het mense aangemoedig om hulle vir nywerheidswerk buite die landbou te bekwaam; hy het die gebou ’n tempel van edele arbeid genoem. Hy wou ook hê dat die Vrystaat met Transvaal saamwerk om ’n universiteit te kry. SJ du Toit het met dr Abraham Kuyper, oprigter van die Vrije Universiteit van Amsterdam, oor ’n eie universiteit gepraat. Dié het egter niks gedoen aan ’n versoek van Kruger om ’n geskikte professor te vind om ’n universiteit te begin nie; hy wou hê Transvalers moes liewer na sy universiteit toe kom.

Die Vrystaat was die eerste staat in Suid-Afrika wat leerplig vir wit kinders ingevoer het. Die superintendent van onderwys, dr John Brebner, het die Volksraad gevra om dit in te stel toe dit in 1890 blyk dat 5000 kinders tussen 7 en veertien nie kon lees of skryf nie. Leerplig is in 1895 ingestel en in 1898 was daar 7390 kinders op skool.

Stappe soos dié was tipies van die Vrystaat in die dae toe soveel buitelanders dit as ’n modelstaat beskou het. Die Vrystaters se vernaamste kenmerk was hul rustigheid, vreedsaamheid en tevredenheid, skryf A Kieser. Dit was merkwaardig dat hulle so vroeg in hul geskiedenis vry was van die pioniershartstogte en dwarstrekkery van jong state. Van hierdie ordeliewende gemeenskap het  FW Reitz in 1889 die president geword; net soos sy opvolger, MT Steyn, was sy familie afkomstig uit Swellendam.

Reitz was, soos vermeld, ’n vroeë Afrikaanse digter. Toe die Patriot in 1876 begin, was hy so ingenome met ’n Afrikaanse koerant dat hy as dankoffer £5 gestuur het. Onder sy gedigte was een oor die dood van die Vrystaatse held Louw Wepener, wat in ’n Basoetoe-oorlog dood is. Die slotstrofe lui: “Hy leg op Thaba Bo-si-go,/ Geen grafsteen sal hy verge,/ Zijn monument het God gebouw,/ Die Bouwheer van die Berge.”

In Reitz se tyd het die Vrystaat sy eerste spoorweë gekry. President Brand het hom al daarvoor beywer, maar die meerderheid van die Volksraad het so ’n vrees vir skuld gehad dat hulle sy voorstel elke keer afgestem het! Op 17 Desember 1891 het die eerste trein oor Norvalspont in Bloemfontein aangekom, en op 7 Mei 1892 het die hoofspoor die Vaalrivier by Viljoensdrif bereik.

In 1896 het die Vrystaat sy spoorweë, wat eers die eiendom van die Kolonie was, oorgeneem. Dit was die jaar waarin Steyn, ’n gebore Vrystater, vir Reitz opgevolg het nadat dié weens swak gesondheid afgetree het. Teen daardie tyd was niemand meer teen die spoorweë nie, en Steyn het opgemerk: “Eers wou die boer ’n man skiet wat ten gunste van ’n spoorweg is; nou wil hy jou skiet as jy hom nie by sy eie dorp ’n trein wil gee nie.” Die regering het die winste gebruik om nuwe lyne aan te lê sodat verskeie dorpe gou hul eie trein kon kry.